Suid-Afrika het 709 koronavirusgevalle met Gauteng die brandpunt

Die getal Covid-19-sake in SA het tot 709 gestyg, ‘n toename van 155 op die vorige dag, het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdagoggend gesê.

Die grootste toenames in die aangemelde gevalle sedert Dinsdag is in Gauteng (64), Wes-Kaap (61), KwaZulu-Natal (11) en die Vrystaat (15), het hy in ‘n onderhoud met die SAUK gesê.

Die ANC-minister het gesê dat die konsentrasie van gevalle rondom Mangaung in die Vrystaat kommerwekkend is, en dat die Rooi Kruis die departement van gesondheid help om mense op te spoor wat by ‘n kerkbyeenkoms was wat bygewoon is deur vyf reisigers van oorsee wat positief vir die siekte getoets he .

‘Dit is ‘n groot bekommernis,’ het hy gesê en Mangaung beskryf as ‘n opkomende episentrum.

Daar is ook groepe van Covid-19 in Sandton, Ekurhuleni, Tshwane en Kaapstad, het hy gesê.

Die belangrikste bron van die siekte was reisigers uit Europese lande, maar daar was ‘n toenemende aantal gevalle van binnelandse oordrag, het hy gesê.

Volgens die minister was daar geen sterftes nie, en slegs twee pasiënte verkeer tans in hoësorg. Vyf van die eerste gevalle het heeltemal herstel en negatief getoets vir Covid-19.

Drie gesondheidsorgwerkers het tot dusver positief getoets vir Covid-19, het hy bygevoeg.

Mkhize het gesê dat die nasionale inperking van drie weke wat president Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig het, bedoel is om die plaaslike oordrag van die virus te vertraag deur die kontak tussen mense soveel moontlik te beperk, met die fokus op die voorkoming van groot groepe mense wat saam verkeer.

Mense kan egter steeds gaan draf of met hul hond gaan stap, het hy gesê.

“Daar behoort nie ‘n probleem daarmee te wees nie,” het hy gesê.

Die inperking sal vanaf middernag op Donderdag in werking tree, en stel streng beperkings op die beweging van mense, wat na verwagting tuis sal bly, behalwe vir inkopies vir noodsaaklikhede soos kos en medisyne, om gesondheidsorg te bekom of maatskaplike toelaes te ontvang.

Noodsaaklike werkers, waaronder mense wat in gesondheidsorg, nooddienste, die polisie en weermag werk, asook in die vervaardiging en verspreiding van noodsaaklike voorrade soos voedsel en farmaseutiese produkte, word van hierdie maatreëls onthef.

Mkhize het Suid-Afrikaners aangemoedig om die regering se oproep om sosiale interaksie te beperk, te eerbied en gesê dat die sluiting nie bedoel is om ‘n vakansie van drie weke te wees nie. As mense versuim om die reëls vir die inperking in ag te neem, sou dit nie werk nie, het hy gesê.

Eskom vra privaatkragleweransiers om te help

Eskom is nou van plan om oorskotkrag van bestaande kragopwekkingsaanlegte aan te koop. Dit is ʼn aanduiding dat die kragvoorsiener sy beleid jeens privaatkragverskaffers aangepas het. Hoewel Eskom voorheen tydens noodomstandighede sodanige krag aangekoop het, was die staatsmaatskappy tot dusver traag om dit te doen aangesien dit nie strook met hulle kommunistiese model nie.

Eskom het nou op die regering se tenderwebwerf voorstelle vir kraglewering aangevra van privaatinstellings met die vermoë om ten minste 5 megawatt se surpluskrag te lewer.

Dié maatreël is ʼn tydelike een en volgens die voorstelaanvraag is die langste wat so ʼn kontrak sal duur 36 maande.

Energiekenners meen dit is egter te betwyfel of Eskom homself sal kan speen van sodanige private kragbydrae.

Japannese griepmiddel laat Italië hoop skep

Italië vestig nou hoop op, Avigan, ʼn Japannese middel om die Sjinese virus te beveg.

Die regering het die groen lig gegee “om ʼn eksperimenterings- en navorsingsprogram te ontwikkel om die uitwerking van die middel (Avigan) tydens die vroeë fases van die siekte te evalueer.” Aldus die Italiaanse Minister van Gesondheid, Roberto Speranza, na afloop van ʼn vergadering van die Tegnies-wetenskaplike komitee.

Volgens die Raadslid vir die Begroting, Davide Caparini, is Avigan as ʼn voorskriflose middel in Japan beskikbaar sedert 2014 waar dit suksesvol as griepwerend gebruik is. Hy het beklemtoon dat die Italiaanse navorsers nog moet vasstel tot watter mate die middel suksesvol sal wees.

Die navorsingseksperimente sal onmiddellik afskop in Lombardye.

ʼn Generiese middel, Favipiravir, is deur die Toyama Chemiese Maatskappy, ʼn filiaal van Fujifilm, ontwikkel en vir Covid-19-pasiënte toegedien in Sjina.

Koronavirus kan ure lank in lug en dae op oppervlaktes oorleef

Volgens ‘n nuwe studie wat leidrade verskaf om mense te help om die respiratoriese siekte genaamd COVID te voorkom, kan die hoogs aansteeklike nuwe koronavirus wat in ‘n wêreldwye pandemie ontplof het, ure lank aansteeklik bly in druppels in die lug. Op oppervlaktes kan dit tot dae lank oorleef en steeds mense besmet.

Wetenskaplikes van die Amerikaanse National Institute of Allergy and Infectious Diseases (NIAID), wat deel uitmaak van die Amerikaanse National Institute of Health, het probeer om die virus wat van ‘n besmette persoon op alledaagse oppervlaktes in ‘n huishouding of hospitaal beland, na te boots soos wat gebeur as daar gehoes of aan voorwerpe geraak word.

Hulle het ‘n aërosol gebruik om die mikroskopiese druppels wat in ‘n hoes of ‘n nies geskep word, na te maak.

Die wetenskaplikes het toe ondersoek ingestel na hoe lank die virus op hierdie oppervlaktes aansteeklik bly, volgens die studie wat Dinsdag aanlyn verskyn het in die New England Journal of Medicine — dieselfde dag waarop die aantal Amerikaanse COVID-19-gevalle tot 5 200 gestyg het en sterftes nader aan 100 gekom het.

Die toetse toon dat wanneer die virus gedra word deur die druppels wat vrygestel word as iemand hoes of nies, dit steeds lewensvatbaar is of mense nog minstens drie uur lank in aërosols kan besmet.

Op plastiek en vlekvrye staal kan lewensvatbare virusse ná drie dae opgespoor word. Op karton was die virus ná 24 uur nie lewensvatbaar nie. Op koper het dit vier uur geduur voordat die virus skadeloos geraak het.

#Koronavirus: Franse regering kondig noodmaatreëls af

Van middernag vanaand word alle openbare plekke, d.w.s. restaurante, kroeë, bioskope, skole, ens. in Frankryk gesluit. Slegs die kinders van mediese personeel wat moet aanhou werk, sal skool toe gaan. Verder sal skole per rekenaar en internet funksioneer.
Die enigste winkels wat toegelaat word om oop te bly, is voedselwinkels en apteke.
 
Die aankondiging is sowat ‘n uur gelede deur die Franse eerste minister, Edouard Philippe, gedoen. Hy het ‘n beroep op die totale bevolking gedoen om die maatreëls “gedissiplineerd” na te kom.
 
Marokko het alle vlugte na Frankryk gestaak.
Oor die afgelope 72 uur het die aantal besmettings in Frankryk verdubbel en die nooddienste word oorlaai. Mense met geringe simptome word gevra om nie die noodnommer 15 te bel nie, maar slegs as hulle asemenhalingsprobleme ondervind.
 
Afgetrede dokters, verpleegsters, asook mediese studente word ten volle gemobiliseer om die epidemie die hoof te bied.
 
Die virus val nie bloot bejaardes en siek mense aan nie. Meer as vyftig persent van die ernstige gevalle is mense onder sestig.

Adam Catzavelos ontvang opgeskorte vonnis van 2 jaar tronkstraf vir ‘K-woord’

Vir sy selfoonvideo op ‘n Griekse strand waarin hy die woord “kaffer” ‘n enkele keer gebruik, is Adam Catzavelos vandag in die Randburgse Landdroshof vir die tweede keer gestraf toe hy weens crimen injuria ‘n vonnis van twee jaar tronkstraf of R50 000 boete, opgeskort vir vyf jaar, ontvang het. Dit is Catzavelos se tweede strafoplegging, aangesien hy reeds deur die Gelykheidshof tot ‘n boete van R150 000 en “gemeenskapsdiens” in Soweto gevonnis is. Hy staar steeds ‘n derde klag in Griekeland in die gesig.

Sowel Catzavelos as sy naaste familielede wat die hofsitting bygewoon het, het na afloop van die vonnisoplegging merkbaar verlig voorgekom. Die moontlikheid het bestaan dat Catzavelos soos Vicki Momberg tot tronkstraf sonder opskorting gevonnis mag word.

Op die trappe van die Randburgse Landdroshof het hy gesê dat hy “baie dankbaar is” en die vroulike swart landdros as “baie billik en redelik” beskryf (sien onderstaande video).

Volgens Catzavelos het die video sy “hele lewe omgekeer”. Sowel hy as sy vrou het hul werke verloor. Hy mag nie sy kinders by die skool gaan haal nie, omdat die skool vrees dat van die ander ouers hom mag aanrand en dat sy teenwoordigheid die goeie orde van die skool sou bedreig.

As deel van die straf wat die Gelykheidshof reeds voorheen aan hom uitgedeel het, moet hy elke maand R5000 aan ‘n nie-regeringsorganisasie in Soweto betaal, asook na bejaardes in dié swart woonbuurt omsien.

Ook vandag, is ‘n blanke vrou van Kemptonpark, Marie Basson, gevangenisstraf van ses maande opgelê omdat sy ‘n swart vrou ‘n “kafferteef” in die parkeerarea van ‘n supermark genoem het. ‘n Woordestryd het tussen haar en die swart vrou ontstaan omdat dié na bewering haar kind in die ry by die kasregister gestamp het.

Volgens die swart vrou se getuienis het Marie Basson haar ook ‘n “vetgatmeid wat gimnasium toe behoort te gaan” genoem.

ANC ignoreer Pompeo se kritiek op grondonteiening

Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het die voorgestelde grondwetlike verandering van die Suid-Afrikaanse regering gestriem waarmee dit moontlik gemaak word om grond en ander eiendom sonder vergoeding te konfiskeer.

Pompeo se opmerkings oor Suid-Afrika se verklaarde grondbeleid van onteiening sonder vergoeding (EWC), het ‘n dawerende stilte van die land se regerende ANC tot gevolg gehad. Die enigste reaksie was ‘n onregstreekse antwoord, rondom die behoefte aan sogenaamde “grondhervorming” wat deur die ANC-leier en die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, bevestig is.

Andersins was daar geen amptelike reaksie op Pompeo se kommentaar wat gelewer is ná ‘n beleidstoespraak in Addis Abeba, Ethiopië, op 19 Februarie nie. Pompeo het in gesprek met verslaggewers gesê dat onteiening sonder vergoeding “rampspoedig” vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sou wees.

Die beleidsvoorstel is ‘n voorbeeld van sentrale beplanning wat in ander Afrika-state soos Zimbabwe, Tanzanië en Ethiopië misluk het, het Pompeo verduidelik.

“Suid-Afrika debatteer oor ‘n wysiging [aan die Grondwet] om die onteiening van private eiendom sonder vergoeding moontlik te maak,” het hy gesê. ‘Dit sou rampspoedig wees vir die ekonomie, en die belangrikste van alles vir die Suid-Afrikaanse bevolking.’

Volgens Pompeo het Afrika-ekonomieë “sterk regstate, respek vir eiendomsreg, regulering wat belegging aanmoedig” vir inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei nodig.

Sonder om Pompeo by die naam te noem, het Cyril Rampahosa ‘n dag later (Donderdag) die VSA se minister van buitelandse sake se uitspraak verwerp deur te sê: “Grondhervorming is ‘n wesenlike deel van inklusiewe groei.”

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, ‘n liberale dinkskrum, het egter gesê dat die kommentaar van Pompeo “nog ‘n waarskuwing is teen die gevaarlike koers wat die regering inslaan”.

“Dit is nie heeltemal ongewoon dat amptenare wat die buiteland verteenwoordig, sulke sterk gevoelens uitspreek nie. Die opmerkings van Pompeo weerspieël egter kommer wat deur ander uitgespreek word – soos die Nederlandse minister van buitelandse sake, Stef Blok, wat gewaarsku het dat die ondermyning van ‘eiendomsreg en die oppergesag van die reg’ bestaande en potensiële beleggers sal afskrik,” sê Hermann Pretorius van die IRV.

Op 4 Julie 2019 het die Nederlandse parlement oftewel die Tweede Kamer ‘n mosie deur twee konserwatiewe LP’s, Van Helvert en Van der Staaij, aanvaar teen grond waarop beslag gelê word “op grond van velkleur” in Suid-Afrika. In hul resolusie is die Nederlandse regering versoek om “duidelik standpunt in te neem teen die voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding van wit boere in Suid-Afrika, wat in stryd is met menseregte, en om druk op Suid-Afrika uit te oefen om dit te laat vaar”.

In die Nederlandse resolusie word ook genoem dat “die universele verklaring van menseregte, sowel as die Afrika-menseregtehandves die arbitrêre beslaglegging op eiendom verbied en veral op grond van velkleur”.

Daniel Friedman van Citizen geskors oor anti-Afrikaanse uitsprake

Die Citizen se digitale nuusredakteur, Daniel Friedman, is geskors hangende die afhandeling van ‘n interne ondersoek.

“Die bestuur het kennis geneem van openbare kommer oor die aanlyn-redakteur, Daniel Friedman, se uitsprake op sy persoonlike Twitter-rekening, sosiale media en ander aanlynplatforms. Sommige van sy uitsprake is gemaak deur sy komedie-persona, Deep Fried Man,” verklaar die Citizen se aanlyn redakteur Charles Cilliers.

‘n Ondersoek is aan die gang en Friedman is geskors hangende die afhandeling daarvan.

The Citizen het ‘n streng beleid oor sosiale media. “Die aantygings rakende Friedman sal volgens hierdie beleid hanteer word,” meen Cilliers. “As dissiplinêre prosedures benodig word, sal dit billik en redelik uitgevoer word.”

The Citizen respekteer die onaantasbaarheid van uitdrukkingsvryheid. “In baie min gevalle sou ons ooit die onderdrukking van enige mening ondersteun, selfs as sommige dit as beledigend beskou,” sê Cilliers. “Ons onderwerp ons vrywillig aan die Suid-Afrikaanse Perskode, waar uitsprake aansienlike ruimte gegee word. Die Grondwet van Suid-Afrika en die Perskode plaas egter sekere beperkings op die uitoefening van hierdie reg, wat oorweeg sal word by die hantering van hierdie saak.

“Ons vertrou dat die publiek sal toelaat dat hierdie proses vreedsaam en ongehinderd voortgaan.”

Daniel Friedman het as die komediant “Deep Fried Man” die eerste keer bekend geraak toe hy in ‘n YouTube-video gespot het met blankes wat in Suid-Afrika doodgemaak word.

Nobelpryse beklemtoon manlike wetenskaplike prestasies

Oor die afgelope week, soos elke jaar, is die Nobelpryswenners aangekondig. Die wenners in die kategorieë fisika, chemie en medisyne is, soos in baie jare tevore, uitsluitlik manlik.

In die algemeen was die pryswenners in die natuurwetenskappe sedert 1901 meer as 95 persent manlik.

Verlede jaar het Donna Strickland die Nobelprys vir fisika in 2018 ontvang, slegs die derde vroulike fisikus wat ‘n Nobel gekry het, in die voetspore van Marie Curie in 1903 en Maria Goeppert-Mayer 60 jaar later.

Foto hier bo: Vanjaar se Nobelpryswenners in fisika: James Peebles, Michel Mayor en Didier Queloz.

Vir die twee wetenskaplike historici Nils Hansson en Thorsten Halling is dit ‘n groot skandaal. Hulle sien in die ongelyke verdeling van geslag ‘n teken van maatskaplike seksisme.

Hulle merk ook op dat Alfred Nobel gevra is om die prys aan die beste in hul vakgebied toe te ken, ongeag sy of haar nasionaliteit. Hoe kan dit wees dat die meeste wenners uit die VSA kom, gevolg deur Europa en Asië? Waarskynlik sal slegs ‘n kwotamodel help om dit te verander. Nie een van die twee skrywers het noemenswaardige prestasies deur Afrika-wetenskaplikes aangehaal nie.

Maar is die Nobel-jurie regtig seksisties? Dit is onwaarskynlik omdat daar vroulike navorsers is wat die Nobelprys ongetwyfeld verdien het. Voorbeelde hiervan is Lise Meitner vir die eerste kernfusie, Rosalind Franklin vir haar werk aan die DNS se dubbele heliksstruktuur, en Jocelyn Bell Burnell vir die ontdekking van pulsars.

Maar is seksisme die enigste moontlike verklaring? Franklin is in 1958 oorlede en kon die toekenning nie postuum ontvang nie.

In 2017 noem Hansson self talle fisici wat die hoogste onderskeiding ontken is – maar ironies genoeg bestaan ​​sy eie lys slegs uit mans, aangesien die nuutste navorsing oorwegend manlik is. ‘n Jurie kan niemand benoem wat nie die akademiese werk gedoen het nie.

Daarbenewens word vroue in die ander kategorieë literatuur en vrede verteenwoordig. Watter maatstawwe kan ook gebruik word om te besluit watter van die twee literêre Nobelpryswenners Olga Tokarczuk en Peter Handke groter literêre talent het?

Natuurlik is talent in fisika baie belangrik, maar nie net dít nie. As ‘n briljante fisikus die geleentheid ontsê word om aan duur eksperimente te werk, sal die gebrek aan ooreenstemmende meetdata geen sukses oplewer nie.

Maar in wiskunde maak sulke oorwegings nie saak nie. Selfs sonder miljoene aan befondsing, kan baanbrekerontdekkings slegs met geestelike krag bereik word. En geslagsverhoudinge in beide dissiplines verskil in wese nie.

Wetenskaplike talent word beslis nie eweredig versprei nie. In 1900 formuleer die beroemde Duitse wiskundige David Hilbert die 24 grootste probleme in die wiskunde. Ter ere van hom, in 2000, is nog ‘n paar onopgeloste legkaarte bekendgestel, die sogenaamde “Milleniumprobleme”.

In albei gevalle was dit nie moontlik om vooraf te sê of die beslissende bewys deur ‘n man of ‘n vrou gelewer sou word nie, behalwe vir die feit dat verskeie van hierdie oplossings nog hangende is. Tot dusver is byna alle probleme deur een man opgelos. Daar is dus rede om te glo dat wetenskaplike talent nie eweredig onder die geslagte versprei is nie.

In werklikheid blyk dit dat mans in die hoë IK-reeks baie meer verteenwoordig is as vroue. Vanaf ‘n waarde van 130 (die drempel vir begaafdheid) is die verhouding 2: 1 – en dit neem toe met hoër intelligensie.

Natuurlik kan aanvaar word dat die IK-toets oor die algemeen teen vroue diskrimineer, maar dit bevestig nie dat mans oor hoër intelligensie beskik nie. Gemiddeld is die geslagte nie verskillend nie, maar mans is meer gereeld in die uiterstes verteenwoordig. Daar is meer genieë … en idiote onder mans as vroue.

Dit is omdat ‘n geslagschromosomies gebonde oorerwing van intelligensie moontlik is, wat sterker is by mans as by vroue – in positiewe sowel as negatiewe sin.

Verskeie ander kenmerke wys ook dat mans meer veranderlik is as vroue, dws meer geneig om onder die wenners en verloorders te wees, terwyl vroue relatief stabiel in die middelveld is.

Die natuur heg ‘n hoër seleksiedruk aan die manlike geslag, omdat mans “bestee” kan word. As 50 persent van alle wyfies sterf, sal die aantal nakomelinge ook met 50 persent daal. As die aantal mans egter met 50 persent daal, het elke enkele man wat oorbly, twee keer die voortplantingsukses en bly die bevolking stabiel.

Deur mans kwesbaarder te maak, maar hulle groter reproduktiewe sukses toe te laat, vind die natuur die balans tussen gehalte en hoeveelheid om evolusie te versnel. Maar biologiese feite en ideologiese denke is selde versoenbaar.

Soweto skuld Eskom meer as R17 miljard, ontvang steeds gratis krag

Luidens ʼn verslag van die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) wat aan die Gauteng-wetgewer se CoGTA-komitee voorgelê is, skuld Soweto Eskom meer as R17 miljard wat die helfte van die land se skuld aan Eskom beloop.

Die inligting het verlede maand aan die lig gekom toe ‘n woordvoerder van die VF Plus, Amanda de Lange, dit by wyse van ‘n verklaring bekendgemaak het.

Volgens De Lange, is ” die wanbetalingskultuur van elektrisiteitsverbruikers in Soweto seker die grootste oorsaak dat Eskom feitlik op sy knieë gedwing is”.

Soweto se wanbetaling duur reeds jare lank en politici probeer sonder veel sukses om kragverbruikers te oorreed om gedeeltes van hul skuld te betaal. Dreigemente om die kragtoevoer af te sny dien ook geen doel nie. Inwoners hou vol die ANC het in hul verkiesingsbeloftes aan kiesers gratis elektrisiteit en water belowe. Die kultuur van nie-betaling het nou ʼn nalatenskap van die ANC-struggle geword.

Intussen worstel die nasionale kragvoorsiener om finansieel te oorleef en het in 2018 ʼn laagtepunt beleef. Die situasie word vererger deur ander nie-betalers, fiskale ongerymdhede, bedrog en wanbestuur.

Dit wil voorkom asof Eskom ook geen werkbare plan het om die R34 miljard in te vorder wat onderpresterende munisipaliteite aan hom skuld nie.

Daarbenewens is Eskom se operasionele kapasiteit ook nie na wense nie en ongeoorloofde tariefverhogings oor jare, het geen verligting gebring nie.

“Verdere druk word op die betalende middelklasburger geplaas om die skuldlas en verantwoordelikhede van nie-betalers en onderpresterende munisipaliteite te dra in ʼn omgewing waar munisipaliteite se skuldlas die afgelope agtien maande met sowat 80% gestyg het,” meen Amanda de Lange.

Alhoewel die ANC-regering ‘n reddingsboei aan die skuldgeteisterde Eskom probeer uitgooi, is die fiskale en operasionele skade reeds baie groot en is daar min hoop dat ‘n volhoubare finansiële ommekeer bewerkstellig kan word. ʼn Aksieplan om Soweto se agterstallige skuld op ʼn dringende basis in te vorder, is donker.

“Die kwessie is ‘n kopsorg vir die departement van samewerkende regering, maar daar moet streng maatreëls in plek geplaas word om te midde van toenemende verarming van verbruikers alternatiewe kragvoorsiening aan huishoudings te lewer,” sê De Lange.