Al Sjabaab verantwoordelik vir aanval in Kenia

Gewapende lede van Al Sjabaab het Dinsdag in die vroeë oggendure 14 mense, meestal gruisgroefwerkers, vermoor.

Die meeste mense is in hul slaap vermoor, het Kenia se Rooikruis gesê. Die aanval op die dorp, Mandera is soortgelyk aan ’n aanval in Desember toe 36 gruisgroef­werkers dood is, het AP berig.

Somalië se al Sjabaab Islamitiese groep het gesê die groep is verantwoordelik vir die aanval in die noordoostelike Keniaanse dorp, Mandera en dat dit deel van sy veldtog teen Kenia is.

“Ons is verantwoordelik vir die Mandera-aanval. Ons het meer as tien Keniaanse Christene dood­gemaak,” het Sheikh Abdiasis Abu Musab, die groep se militêre operasionele woordvoerder aan Reuters gesê.

“Dit is deel van ons voortgesette operasies teen Kenia.” Op die foto word ‘n lyk van ‘n slagoffer van die aanval deur polisiemanne weggedra.

Ovaherero-volksmoord laat Duitsland koud

Nóg Duitsland se president­ Joachim Gauck nóg enige amptenaa­r in sy kantoor was beskikbaa­r om Maandag ’n petisie van nasate van die volksmoord­ van die Duitse koloniale­ bewind in die voormalig­e Duits-Suidwes-Afrika­ te ontvang, het die Republikein berig.

’n Hooggeplaaste­ afvaar­diging­ van die Ovaherero­ tradisionele­ owerheid en die Nama Tegniese Komitee onder leierskap van Ovaherero-opperhoof advokaat­ Vekuii Rukoro is tans in Duitsland­ in die hoop om onder andere met ministers­ oor vergoedingseise­ van nasate van die volksmoord te vergader­.

Volgens ’n verklaring wat deur NGO-Alliansie Geen Amnestie­ Op Volksmoord uitgereik­ is, was Gauck vooraf ingelig dat die petisie by sy kantoor oorhandig sou word.

“Is dit hoe die nageslag­ van slagoffers­ van die volksmoord­ behandel­ moet word?” het me. Ida Hoffmann, ’n Namibiese­ parlementslid­ en lid van die Nama Tegniese Komitee, gesê.

Hoffmann, wat saam met Rukoro in Duitsland is, het gesê min aandag is voor die hekke van die presidentskantoo­r aan hulle geskenk. Sy het haar teleurstellin­g uitgespreek­ dat Gauck die afvaardigin­g nie ingenooi­ het nie, ondanks ’n vroeë aankondiging­ van hul besoek aan sy kantoor.

Sy het bygevoeg: “Ek is baie bekommer­d oor Namibiese-­Duitse­ betrekkinge­. Ongelukkig­ het die aanmatigend­e houding van die Duitse staat homself gewys. Ons sal sien wat die Namibiese­ regerin­g oor sulke behandeling van sy burgers te sê het.”

Die Nama- en Ovaherero-­groep het in die middel van Junie met onbepaalde aksie gedreig as die Duitse regering­ teen 2 Oktober nie die volksmoord­ erken of aan hul eise om vergoeding voldoen nie.

Brandgevaar na petrol in Vereeniging se rioolstelsel lek

Emfuleni se munisipale werkers het die oorsprong van ’n brandstoflekkasie in die Vereeniging-rioolstelsel geïdentifiseer as die hoofnetwerk op die hoek van Stanley- en Voortrekkerstraat.

Volgens munisipale woordvoerder, Stanley Gaba, is daar ’n BP-vulstasie wat bes moontlik die oorsprong van die lekkasie is.

Inwoners het reeds verlede Dinsdag ’n sterk petrolreuk in die omgewing aangemeld. Gaba sê daar is verskeie gebeurlikheidsplanne in plek gestel.

Die Vanderbijlpark-, Evaton, Midvaal- en Johannesburgse munisipaliteite het onder meer beloof om bystand te verleen indien ’n brand sou ontstaan. Mangate word ook gereeld oopgemaak sodat die dampe kan ontsnap.

Intussen word inwoners steeds gemaan om nie enige oop vure naby mangate en pompstasies te maak nie.

Poetin, IMF bespreek Griekse krisis

Die Russiese President, Vladimir Poetin het die Internasionale Monetêre Fonds se bestuurshoof, Christine Lagarde genader om die Griekse referendum te bespreek.

Hulle probeer ‘n werklike oplossing kry vir die land se skuldkrisis.

Lagarde het gesê dat verskeie lande in Latyns-Amerika en Afrika haar vir haar ongenaakbare houding teenoor die Griekse krisis blameer.

Met die huidige bankstelsel se probleme, het die tyd aangebreek om nuwe finansiële instellings wêreldwyd te ontwikkel, het president Zuma intussen aan die Russiese nuusdiens RT gesê.

BRICS en sy nuwe ontwikkelingsbank is een van die alternatiewe, het hy gesê.

Zuma het bygevoeg dat sulke instellings aan lande wat betrokke is, meer insae in die besluitnemingsproses behoort te gee en dat Westerse lande te veel inmeng.

‘n Woordvoerder vir die Kremlin, Dmitry Peskov sê samesprekings sal voortgaan en die belange van alle partye rakende die Griekse probleem sal in ag geneem word.

Hy het bygevoeg dat die gesprek tussen Putin en Lagarde nie verband gehou het met enige moontlik hulp van Rusland aan Griekeland nie.

Lagarde het vroeër in ‘n verklaring gesê die IMF is gereed om Griekeland te help indien die land daarom vra.

Die omstrede vorige minister van Finansies, Yanis Varoufakis het Maandag bedank.

Lagarde het in ‘n verklaring gesê die organisasie is gereed om Griekeland te help indien die land daarom vra.

Intussen is Griekeland se hoofonderhandelaar met die internasionale krediteure, Euclid Tsakalotos, as nuwe minister van Finansies ingehuldig.

Die 55-jarige Tsakalotos wat in Londen skoolgegaan en gestudeer het, het na sy inhuldiging gesê hy is angstig oor die taak wat hom opgelê is.

Hy was tot onlangs ‘n professor by die Universiteit van Ekonomie in Athene.

Premier stom oor haatspraak-skuldigbevinding

Premier Sylvia Lucas sê haar regspan gaan die uitspraak van die Gelykheidshof – waarin sy skuldig bevind is aan haatspraak – bestudeer voordat sy enige kommentaar lewer of ‘n besluit daaroor neem.

Die saak hou verband met ‘n toespraak in 2010 waarin sy die verbode woord “hotnot” gebruik het.

Die hof het beveel dat Lucas die KhoiSan-gemeenskap om verskoning moet vra. ‘n Kostebevel is ook teen haar gemaak.

‘n Gemeenskapsleier en lid van die nasionale KhoiSanraad, Stanley Peterson, het Lucas oor haar uitlatings hof toe gesleep.

Lucas het in ‘n onderhoud met OFM-nuus gesê sodra sy die uitspraak bestudeer het sal sy ‘n besluit neem oor wat haar volgende stap gaan wees.

Waterbeperkings in Bloemfontein afgekondig

‘n Kritieke waterskaarste weens klimaatsverandering en min reën staar die Mangaung-metro in die gesig.

Volgens die munisipale woordvoerder, Qondile Khedama, is die tekort aan water besig om ‘n algemene probleem in stede te raak.

Waterbeperkings is Vrydag op ‘n raadsvergadering vir Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu afgekondig.

Khedama sê die metro, soos in enige ander stad in die land, staar uitdagings met betrekking tot water in die gesig.

Hy sê die raad is besig om besonderhede oor wanneer die beperkings ingestel gaan word en die tydsduur daarvan, vas te stel. Volgens hom sal inwoners deurgaans op die hoogte gehou word van besluite.

Khedama sê die raad se besluit kom nadat verskeie openbare vergaderings sedert verlede jaar plaasgevind het waarop inligting oor die instel van waterbeperkings verskaf is.

Watervlakke van damme wat water aan die metro verskaf is laag en daar is minder water beskikbaar as verlede jaar dié tyd.

Kovsies het twee weke vir verweer teen lastereis

Die Universiteit van die Vrystaat het twee weke om verdediging aan te teken en daarna ‘n verdere drie weke om ‘n verweerskrif te liaseer in ‘n skadevergoedingsaak.

Twee voormalige Kovsies, Charl Blom en Cobus Muller, eis R6,15 miljoen van die instansie en sy rektor, Jonathan Jansen.

Die eis spruit uit ‘n voorval waarin die twee verlede jaar van poging tot moord aangekla is en later deur die hof en menseregtekommissie onskuldig bevind is. Hulle is kort na die voorval geskors en die kampus belet.

Hul regsverteenwoordiger, Werner Human, sê hoewel hy nie die inhoud van die eis kan bespreek nie, kan hy wel bevestig dat so ‘n eis bestaan.

Human sê die studente het aanvanklik R1 miljoen geëis, maar dit het slegs betrekking op die laster-eis.

Volgens ‘n verklaring gaan die UV die eis teenstaan.

Premier waarsku dat weermag in Mamelodi ontplooi kan word

Gauteng se premier, David Makhura, sê indien nodig sal die weermag in die geweldgeteisterde Mamelodi, oos van Pretoria, ontplooi word waar taxi-operateurs teen die nuwe busdiens in opstand gekom het.

Hy het op ‘n openbare vergadering aan inwoners gesê meer polisielede sal ook ontplooi word indien dit nodig sou wees.

Minibus-taxibestuurders het Donderdag en Vrydag paaie in die gebied met brandende buitebande versper om beswaar te maak teen die ingebruikneming van die Autopax-busdiens in die gebied, terwyl minstens sewe busse tydens die geweldpleging beskadig is en daar ook op ’n bus geskiet is

Autopax-busse het intussen onder polisiebegeleiding van die depot in Mamelodi vertrek en was daar tot dusver geen voorvalle nie.

Die polisie ook het tientalle minibus-taxis geskut in pogings om geweld teen die nuwe busmaatskappy te verhoed.

Verkeer op die Tsamaya-pad is tot stilstand gebring terwyl die polisie taxis voorgekeer het.

Patoloë na Lesotho om sluipmoord te ondersoek

Die kantoor van adjunk-president Cyril Ramaphosa sê twee Suid-Afrikaanse patoloë gaan na Lesotho gestuur word om die omstandighede te ondersoek rondom die dood van die voormalige weermagbevelvoerder, luitenent-generaal Maaparankoe Mahao.

Ondersoekbeamptes van Zimbabwe en Namibië sal ook deel wees van die ondersoek.

Leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsmeenskap het Vrydagaand ‘n dringende ondersoek na sy dood gelas.

Ramaphosa se mandaat as SAOG-fasiliteerder in Lesotho is ook hernu.

Die regering van die koninkryk glo nou dat hy vermoor is in ‘n militêre operasie wat verkeerd geloop het.

Maar Koffi Kouakou, ‘n senior dosent aan die School Governance van Wits Universiteit, het gesê Mahao is vermoor in ‘n poging om die ondersteuningsbasis van die voormalige eerste minister van Lesotho, Tom Thabane te vernietig.

Hy het gesê die bedoeling van so ‘n sluipmoord sou ook wees om die klein koninkryk te destabiliseer en pogings om stabiliteit te herstel, te ondermyn.

Kouakou sê die grootste gevaar is dat die Thabane-kamp wraak sal soek en daarmee Suid-Afrika dwing om militêr in te gryp in Lesotho.

Volgens berigte het die opposisie-leiers, joernaliste en prokureurs wat teen premier Pakalitha Mosisili en sy weermag hoof, Tlali Kamoli gekant is, uit die land gevlug.

Drie opposisieleiers het glo uit die land gevlug, uit vrees vir hul lewens. Dit sluit in die voormalige eerste minister Tom Thabane, wat ‘n bondgenoot van Mahao was.

Prins Harry in Omaruru opgemerk

“Good morning, is it Prince Harry of England?”

So het die ontmoeting in die Spar-inkoopsentrum op Omaruru Donderdagoggend net voor die middaguur begin. ’n Paar stondes later het dit in ’n handdruk tussen Hanni Griebel van die sentrum en die koningskind oorgegaan. En ook Edna Botha het ’n handdruk gekry.

Die Engelse prins is met sy besoek aan die groot winkel op pad na die swartrenostervelde van Damaraland en Kaokoland eerste deur me. Edna Botha, ’n kleuterskoolonderwyseres, geïdentifiseer. Net om haar twyfel te verdryf, het sy haar vermoede met Hanni gedeel. En toe het die gesprek sonder woorde tussen Griebel en die prins begin.

In antwoord op Hanni Griebel se vraag het prins Harry net met sy voorvinger op sy mond bevestig, maar dit het ook as aanduiding gedien dat sy nie sy teenwoordigheid moet verklap nie.

“Dit het ’n verskriklike jammerte in my laat opgaan,” het Hanni aan Republikein gesê. “Ek het die jong man ontsettend jammer gekry omdat hy nie die vryheid kan geniet wat ons het nie.”

Hanni sê sy het op Harry afgestap nadat Edna Botha haar vermoedens aan haar oorgedra het.

Volgens haar was haar eerste reaksie toe sy by Harry gekom het, ook ’n vraag. “Kan ek my oë glo dat ek sien wat ek sien?” Daarop was daar geen reaksie van die prins nie.

Toe het sy hom sommer tromop geloop met die vraag of hy prins Harry van Engeland is.

Sy bevestiging op haar vraag was die wysvinger voor sy mond, maar die vingertaal was ook ’n aanduiding dat sy nie moet praat nie. Toe het sy die jong prins gevra of sy dan nie maar net ’n hand met hom kan skud nie. Toe druk hy sy sonbril op oor sy voorkop en gee haar die regterhand.

Harry het toe self tussen die rakke van die selfdienwinkel deurbeweeg. Weer het Hanni hom gevra of hy spesifiek iets soek. Weer was sy vingertaal ’n regterduim om aan te dui dat hy self regkom.

Volgens Hanni was Harry in ’n swart T-hempie met ’n olyfgroen veldbroek geklee.

Mnr. Bobby Giebel van die kompleks het ook bevestig dat die prins net voor die middaguur in die kompleks was. Hy was in geselskap van drie mans met ’n uitdruklike versoek van die groep dat foto’s nie geneem moet word nie. Foto’s sou ’n samedromming om die prins veroorsaak. Juis dit wou hulle nie gehad het nie. Die geselskap het in ’n Land Cruiser gery wat ooglopend ook vir ’n kamp- en veldlewe ingerig is. Die tuig is tussen ander voertuie op die parkeerplekke voor die winkel getrek.

Volgens die kassiere het die prins se aankope hoofsaaklik uit vrugtesappe bestaan.

Van Omaruru het die voertuig in die rigting van Uis in Damaraland beweeg.

Bron: Die Republikein