Nóg Duitsland se president Joachim Gauck nóg enige amptenaar in sy kantoor was beskikbaar om Maandag ’n petisie van nasate van die volksmoord van die Duitse koloniale bewind in die voormalige Duits-Suidwes-Afrika te ontvang, het die Republikein berig.
’n Hooggeplaaste afvaardiging van die Ovaherero tradisionele owerheid en die Nama Tegniese Komitee onder leierskap van Ovaherero-opperhoof advokaat Vekuii Rukoro is tans in Duitsland in die hoop om onder andere met ministers oor vergoedingseise van nasate van die volksmoord te vergader.
Volgens ’n verklaring wat deur NGO-Alliansie Geen Amnestie Op Volksmoord uitgereik is, was Gauck vooraf ingelig dat die petisie by sy kantoor oorhandig sou word.
“Is dit hoe die nageslag van slagoffers van die volksmoord behandel moet word?” het me. Ida Hoffmann, ’n Namibiese parlementslid en lid van die Nama Tegniese Komitee, gesê.
Hoffmann, wat saam met Rukoro in Duitsland is, het gesê min aandag is voor die hekke van die presidentskantoor aan hulle geskenk. Sy het haar teleurstelling uitgespreek dat Gauck die afvaardiging nie ingenooi het nie, ondanks ’n vroeë aankondiging van hul besoek aan sy kantoor.
Sy het bygevoeg: “Ek is baie bekommerd oor Namibiese-Duitse betrekkinge. Ongelukkig het die aanmatigende houding van die Duitse staat homself gewys. Ons sal sien wat die Namibiese regering oor sulke behandeling van sy burgers te sê het.”
Die Nama- en Ovaherero-groep het in die middel van Junie met onbepaalde aksie gedreig as die Duitse regering teen 2 Oktober nie die volksmoord erken of aan hul eise om vergoeding voldoen nie.
