Die Universiteit van die Vrystaat het twee weke om verdediging aan te teken en daarna ‘n verdere drie weke om ‘n verweerskrif te liaseer in ‘n skadevergoedingsaak.
Twee voormalige Kovsies, Charl Blom en Cobus Muller, eis R6,15 miljoen van die instansie en sy rektor, Jonathan Jansen.
Die eis spruit uit ‘n voorval waarin die twee verlede jaar van poging tot moord aangekla is en later deur die hof en menseregtekommissie onskuldig bevind is. Hulle is kort na die voorval geskors en die kampus belet.
Hul regsverteenwoordiger, Werner Human, sê hoewel hy nie die inhoud van die eis kan bespreek nie, kan hy wel bevestig dat so ‘n eis bestaan.
Human sê die studente het aanvanklik R1 miljoen geëis, maar dit het slegs betrekking op die laster-eis.
Volgens ‘n verklaring gaan die UV die eis teenstaan.
