Feesrede gelewer te Greenlands, naby Koppies op 16 Desember 2010
As ek vandag die tema van die gelofte en die vrye wil gekies het, dan is dit omdat daar in ons tyd soveel sprake van willoosheid onder lede van die Afrikanervolk is. Hoe moet ons dit verstaan?
Dwarsdeur ons geskiedenis, ook die geskiedenis van Bloedrivier en die gelofte wat op die vooraand van die veldslag afgelê is, was daar gruweldade en veral kinders wat vermoor is. Dit was die geval by Blaauwkrans en Wenen, maar ook tydens die Tweede Vryheidsoorlog toe 27000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe omgekom het. Net by Blaauwkrans is 40 mans, 56 vroue en 185 kinders deur die Zoeloes vermoor.
Soos ek ses jaar gelede tydens ‘n soortgelyke rede op Geloftedag te Naboomspruit gesê het: “Tot onlangs was ons onder die indruk dat die Slag van Bloedrivier vir goed gewen is, dat die logos oor die chaos getriomfeer het. Maar in ‘n toenemend chaotiese wêreld… waar voortreflikheid dikwels ondergeskik staan aan onbekwaamheid, oneerlikheid en korrupsie, veg ons elke dag van ons lewens ‘n nuwe Bloedrivier.”
Vir ‘n lang tyd gedurende die twintigste eeu was Bloedrivier vir ons die simbool van triomf ná ‘n tyd van verskrikking, wat deur herstel en hoop gevolg is. Dit wil egter voorkom asof die Afrikanervolk herhaaldelik in sy geskiedenis deur sulke tye van verskrikking geteister word, of dan tye van aftakeling. Terwyl ons gedurende die twintigste eeu, ten minste tot 1994, die verskrikking vrygespring het deurdat ons vroue en kinders veilig was, is ons volk en ons werk tog by tye afgetakel.
In sy bekende “Ope brief aan die Afrikanervolk” van 24 Februarie 1942 kla genl. J.B.M. Hertzog oor die agteruitgang wat daar in die twee en ‘n half jaar sedert die bewindsoorname van die Smuts-regering plaasgevind het. Daar word vandag so min na ons vorige leiers, wat elkeen in eie reg staatsmanne van internasionale formaat was, verwys dat ‘n mens gerus vir ‘n oomblik by hierdie ope brief van Hertzog kan stilstaan.
Tydens die Afrikanerbewind van 1925 tot einde 1939 het daar, in weerwil van die Groot Depressie, ‘n geweldige opbloei plaasgevind, soortgelyk aan dié wat in die sestigerjare onder Verwoerd geskied het. Ek haal aan uit genl. Hertzog se brief:
“Gedurende hierdie 15 jaar het daarby die Afrkaanse letterkunde gefloreer en gestyg tot ‘n hoogte en omvang van bloei wat die eerbied afgedwing het, selfs in vooraanstaande kringe van die Europese kultuurlewe. En wat betref vrede en rus, kan met trots verklaar word; nooit is gedurende al hierdie tyd die vrede van ons land deur een of ander volk bedreig nie; nog is die binnelandse rus of orde deur enige onlus of staking verstoor geword…
“Met 4 September 1939, kon also die regering van die land aan genl. Smuts oorhandig word, nie alleen in ‘n toestand van vreedsame rus, voorspoed en nasionale opbloei nie, tegelykertyd het die regering ook te beskik gekry oor ‘n gevulde skatkis, met ‘n stelselmatig verminderde publieke skuld… alles gesteun deur ‘n finansiële beleid, die voortreflikheid waarvan nooit ernstiglik betwyfel is geword en wat gedurende die hele tydperk van Afrikanerbewind die vuurproef van ervaring kon deurstaan.”
Dan vra Hertzog die vraag: “Wat het daarvan geword?” en antwoord:
“Wanneer die Afrikaner vandag – nog geen twee en ‘n half jaar na sy afstand van die regering – sig afvra wat is geword van al hierdie waardevolle prestasies en verrigtinge waardeur die Afrikanderdom Suid-Afrika en die Afrikanervolk, gedurende die 15 jaar van sy regering, verryk en verhoog het, daar kan daar geen ander antwoord op wees nie dan: Van alles nasionaal-waardevol wat deur die nasionale Afrikanerdom tot 4 September tot stand was gebring, is meestal slegs nog ruïne te bespeur. En oordelende na die haas waarmee tot op hierdie oomblik met sloping voortgegaan is, mag aangeneem word dat binnekort slegs nog maar puin te sien sal wees!
…Te midde van al hierdie ruïne en puine, staan intussen – verskeur, magteloos en tot die stof verneder – die tragiese figuur van die jong Afrikanderdom wat in trotse fierheid, nog maar kort gelede, sig verheug het in sy roemryke prestasies en verrigtinge in diens van volk en vaderland, uit eie krag en sterkte in moedige eendrag en eensgesindheid behaal. Vanwaar hierdie skielike ineenstorting van ‘n gesonde, kragtige volksontwikkeling wat sig reeds in staat getoon het om op enige gebied van die volkslewe tot ‘n mate van nasionale bloei en rypheid te kom wat die toets van vergelyking met dié by ander beskaafde volkere met eer kan deurstaan?”
Hierdie woorde van Hertzog in sy ope brief aan Afrikaners doer uit 1942 was eintlik sy afskeidswoorde aan ons, want nie lank daarna nie het hy gesterf. Maar van anderkant Hertzog se graf spreek hierdie woorde tot ons in die hede met ‘n skreiende toepaslikheid. Hulle slaan soos sweepslae wat ons vandag op hierdie 16 Desember hopelik sal wakker maak. Die groot kultuurmens, mev. Huberte Rupert, gade van Anton Rupert, wat soos haar man ook reeds oorlede is, het eenkeer tydens ‘n televisie-onderhoud gesê: “In 1938 het ons volk wakker geskrik.” In hierdie tyd wanneer die Afrikanervolk soos ‘n skare slaapwandelaars oor die afgrond strompel, is dit insgelyks nodig om weer wakker te skrik.
Ons glo nie in die voorvaders nie, dus kan ons nie nou vir Andries Pretorius, Paul Kruger, De la Rey, De Wet, Hertzog, Smuts, Malan, Verwoerd en ons ander groot leiers uit die verlede byeen roep om ons slaapwandelaarsvolk te kom wakker skud nie. Maar ons is ‘n geletterde nasie met ‘n groot letterkunde en skatkis van oorgelewerde idees, boeke en toesprake. Onlangs was ek in Egipte en onwillekeurig het ek dié klippie langs die derde piramide van Giza opgetel. Trouens, met hierdie selfde paar skoene wat ek vandag aanhet, het ek in die vierduisend jaar oue piramide se tonnels en gragtombes rondgeklouter.
Die Amerikaanse digteres Sylvia Plath het gesê dat sy nog nooit ‘n tandeborsel in ‘n gedig gesit het nie. Wel, ek kan seker vandag sê dat ek vir die eerste keer ‘n paar skoene in ‘n Geloftedagtoespraak gesit het! Daar langs die drie piramides van Giza, asook die twee reusesfinkse wat ewe indrukwekkend is, het ek egter by myself gedink: “Afgesien van die Voortrekkermonument wat insgelyks en gedeeltelik deur die piramides geïnspireer is, is hierdie die mees indrukwekkende mensgemaakte monumente op ons vasteland.” Maar – en dit slaan op Hertzog se verwysing na die opbloei van die Afrikaanse letterkunde in die dertigerjare, daardie tydvak waarvan mev. Rupert gesê het dat die Afrikanervolk toe “wakker geskrik” het – ons is ‘n volk wat bowenal ‘n monument van woorde gebou het: gedigte, romans, geskiedenisboeke, toesprake. Die Egiptenare het skrif in Afrika uitgevind, tesame met die Chinese in Asië, maar ons het aan Afrika ‘n geestelike monument van formidabele omvang en gehalte geskenk: die Afrikaanse literatuur, ons geskrewe kultuur.
Genl. J.B.M. Hertzog was ‘n merkwaardige, gekultiveerde en wyse Afrikaner wat sy hele lewe aan sy volk gewy het. Amper wil ek sê: “As u of ek maar soos hy kon wees, sou ons ons ou skoene agterna gooi.” Indien Hertzog vandag uit die dode sou herrys, wat sou hy van ons land en van sy geliefde Afrikanervolk kon sê?
Die “ruïne en puine” waarvan Hertzog in 1942 gepraat het, asook die magteloosheid en om “tot die stof verneder” te wees – hoeveel te maar is dit nie op ons op hierdie 16 Desember 2010 van toepassing nie? Hoeveel Afrikaner-ruïnes is daar nie vandag in Suid-Afrika nie? Murasies van plaashuise wat dalk grondhervorming ten prooi geval het. Beelde, skilderye en boeke wat deur die ANC-bewind uit staatsgeboue en biblioteke verwyder is en soms letterlik op die ashoop beland het of wat gevoelloos verwaarloos is. Name van dorpe en strate, geboue en lughawens wat voor die voet verander is, juis om ons, die trotse skeppers daarvan, te verneder. Om maar een voorbeeld te noem: Op pad hierheen het ons op Lindley voor die hof gaan betoog waar die ses moordenaars van die Potgieter-gesin, waaronder die tweejarige Willemien Potgieter, verskyn het. Ons het verby die munisipale swembad gery wat eens ‘n sieraad van die dorp was, ‘n gesellige kuierplek waar kinders uitbundig baljaar het, met ‘n boomryke kampeerterrein waar ons mense gekampeer het. Vandag is daardie swembad letterlik ‘n ruïne, gebars en waterloos, die gebou daarvoor sonder ruite. En op die kampeerterrein wei daar beeste uit die lokasie in ‘n simboliese verval van orde. Insgelyks vanjaar was ek in Hillbrow in Johannesburg, ‘n moderne woonstelbuurt wat ek dikwels as hoërskoolseun en as student besoek het en wat mense destyds die “Manhattan van Afrika” genoem het. Vandag is daar hele geboue in Hillbrow en die naasliggende Berea wat verval het, met stukkende ruite, asook hysbakke wat nie werk nie of as afvalputte gebruik word. Hordes Nigeriese dwelmhandelaars staan op die straathoeke rond en van daardie selfde geboue word deur bende of sindikate gekaap en onwettig uitverhuur. Geen wonder nie, dat daar ‘n webwerf op die internet met foto’s van Hillbrow en Berea bestaan met die titel: “Die ruïnes van Johannesburg.”
Ruïnes en puine! roep ons saam met Hertzog uit. En as ons praat van vernedering, dan gaan dit om ons plekname, ons taal wat so gruwelik deur die staat misken word, ons status as tweederangse burgers wat nie gelyk met die res behandel word nie, ons kinders wat deur rassekwotas van sekere studierigtings weerhou word, poste wat vir die ander gereserveer word sodat soveel van ons mense, in weerwil van ‘n goeie opvoeding aan ons eertyds Afrikaanse skole en universiteite, vandag in plakkerskampe en onder haglike omstandighede moet krepeer.
Soms kan vernedering egter ook in verskrikking oorslaan, as ons mense op ons knieë om ons lewens moet smeek. Tien jaar gelede het ‘n besoekende Franse filosoof in Johannesburg teenoor my opgemerk dat die Engelssprekende of Angel-Saksiese lande met hul ideologie van liberalisme of liberale demokrasie nog nooit, anders as Europa met sy eertydse fascisme en kommunisme, in totalitarisme verval het nie. As dieselfde waarnemer egter vandag ons land sou besoek, sou hy moes konstateer dat Suid-Afrika die eerste land in die geskiedenis is waar liberalisme en liberale demokrasie juis tot totalitarisme en selfs verskrikking gelei het.
Gister het ons in die reën rondgestaan voor die mooi hofgeboutjie op Lindley, ‘n landdroshof wat steeds deur Afrikaners bedryf word. Maar vir hoe lank voordat dit ook in ruïne verval, die onderhoud daarvan verwaarloos word, die hoflêers begin wegraak en die geregtigheid wat daar geld in Engels en lukraak uitgemeet sal word? Op die stoep van die hofgebou het ek bietjie skuiling teen die reën gesoek en die aanklaer in die Potgieter-saak, ‘n mooi jong Afrikanervrou in haar swart toga, skrams ontmoet. Later tydens middagete in die bakkery oorkant die swembadruïne, loop ek haar toevallig weer raak en sê sy vir my: “U weet, ek is al so lank aanklaer. Ek werk al so lank in die staatsdiens dat ek voel ek is deel van die meubels. Maar hierdie Potgieter-saak, dít vat aan my.”
Waarskynlik praat hierdie vroue-aanklaer van Lindley vir ons almal. Meer nog as die ruïnes van soveel wat ons fisiek en geestelik opgebou het, traak die moord en doodslag ons. Die verskrikking, die terreur wat aan die oewers van die Tugela die slag van Bloedrivier voorafgegaan het, is weer met ons. En, verstout ek my om te sê, gaan dit ons reaksie op die verskrikking wees wat die uitkoms en ons toekoms in hierdie land gaan bepaal.
Net soos Paul Kruger nooit die gesig sou vergeet van die uitgemoorde Voortrekkervroue, -kinders en -mans in ‘n laer wat hy as kind in Natal teëgekom het nie, bly die gebeure van die Lindley-distrik en soveel ander moorde ons by. Nadat mnr. Potgieter met ‘n panga doodgekap is, het sy dogtertjie Willemien na haar pa se lyk toe geloop. Hierna het die moordenaars Willemientjie na ‘n buitekamer toe geneem en haar daar doodgeskiet. Blykbaar is sy aan haar hare opgetel en daarna op grootmenshoogte in die kop geskiet, ‘n ware Dingaansdaad, een van vele wat die vernaamste kenmerk van Suid-Afrikaanse, sogenaamde “demokrasie” geword het. Asof die primitiewe, barbaarse moord op ‘n kind – net soos by Blaauwkrans en Weenen in 1838 – nie genoeg was nie, het die moordenaars van Lindley die dogtertjie se lykie na haar ma geneem om te sorg dat sy die kluis in die huis oopsluit. Die gesig van haar dooie kind was veronderstel om haar te oortuig dat die aanvallers ernstig was en haar dus ook sou vermoor indien sy nie hul bevele uitvoer nie. In my omswerwinge gister op Lindley het ek van ‘n naasbestaande verneem dat mev. Potgieter uiteindelik op haar knieë, biddend tot God in haar doodsangs en smart, insgelyks tereggestel is.
‘n Vriend merk vandeesweek teenoor my op dat beeste wat na ‘n slagpale geneem word op ‘n menslike wyse gedood word, volgens die voorskrifte van die dierebeskermingsvereniging. Hulle word so pynloos moontlik doodgemaak en daar word gesorg dat die ander beeste ook nie vrees of angs tydens die proses ervaar nie. Dieselfde kan egter nie van Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika gesê word nie. Die genade wat aan beeste by die slagpale betoon word, is ons nie beskore nie. So dikwels word ons met die maksimum geweld en wreedheid geslag.
In gebeure soos dié in die Lindley-distrik, beleef ons ‘n lae-intensiteitvolksmoord. Dit bring my by die kern van my boodskap of betoog vandag: dat die Afrikaner die wil moet vind om weerstand teen die wreedheid en uitwissing te bied. Ons volk sal weereens, soos by Bloedrivier, moet opstaan om homself te red. In geloof en biddend, maar ook wérkend, végtend en wíllend.
So dikwels kry ‘n mens die indruk dat Afrikaners vandag soos ‘n klomp rooibokke is. As deel van ‘n trop wat inkopies doen, by die casino’s dobbel, bier drink en rugby kyk, wei ons te heerlik, ná die milde reën soos gister geval het, aan die groen grasspriete. Kort-kort word een of twee van ons deur ‘n leeu gevang. Daar gaan ‘n rilling deur die trop, soos die dertigduisend of meer van ons wat vroeër vanjaar by Eugene Terre’Blanche se begrafnis was. Nes rooibokke wat maar aanvaar dat lede van die trop telkens deur leeus of ander roofdier “uitgevang” gaan word, is ons egter kort van geheue. Ons treur ‘n bietjie oor die heengegane volksgenoot, maar aanstons gaan die lewe maar weer sy rustige gang. Die slaapwandelaars beweeg – ongeag die gevaar en verskrikking – al skuifelende voort.
Waarom reageer ons nie op dít wat besig is om met ons te gebeur nie? Wat is dit wat ons verlam? Ook in die letterlike sin, want ons het lammers ter slagting geword.
Ek dink ek het twee antwoorde op hierdie vraag gevind. Albei het te make met skuld en skuldgevoelens. In ons land is daar deesdae baie gode en veral afgode. Ons het afgode van geld en van sport en van plesier gemaak. Daarom het ek onlangs ‘n boekie van die filosoof Nietzsche opgeneem, met die titel Afgodeskemering – of hoe ‘n mens met die hamer filosofeer, waarin hy juis sy mes inhet vir afgode en illusies. Ek wil sien dat die Afrikaner sy wil terugvind, om soos Voortrekkers van ouds onverskrokke die Zoeloes in die laer af te wag en een vir een dood te skiet. Maar Nietzsche glo nie juis veel aan die vrye wil nie, want sê hy, die vrye wil is bloot die oorsprong van ons skuldgevoelens:
“Die mense word as ‘vrye wesens’ beskou, om bereg en bestraf te kan word, – om skuldig te kan word…”
Ons weet dat die huidige bestel, vandat mnr. F.W. de Klerk met fanfare in Februarie 1990 dit aangekondig het, veronderstel is om ons “vry te maak” of te “bevry”. Terwyl ons egter sogenaamd “vry” gemaak is, was ons ook van meet af aan skuldig: skuldig aan apartheid, skuldig aan rassisme, skuldig aan uitbuiting van swartes, skuldig aan die verkeerde denke wat nie met met politieke korrektheid, linksheid of liberalisme strook nie. Ons het dit ook tydens die Waarheids- en versoeningskommissie gesien, waar elke keuse wat die Afrikaner deur die geskiedenis gemaak het, ook ons pogings om weerstand teen kommunisme, terreur en verowering te bied, ons verantwoordelik en skuldig aan allerlei verbeelde oortredings gemaak het. Nou onlangs het die regering van Suid-Afrika die Kubaanse bydrae tot die bevrydingstryd geloof en is die name van Kubaanse soldate, ons eertydse vyande in Angola, op die muur by Vryheidspark aangebring. Kuba, met sy mislukte kommunistiese samelewing, is bewonderingswaardig, terwyl die Afrikaner-Suid-Afrika wat Hertzog besing, deur die huidige bewind en sy media verguis word. Dus, in die verlede het ons as “vrye wesens” die verkeerde keuses uitgeoefen, hetsy by die stembus, hetsy op die Angolese grens, daarom is ons vandag skuldig.
Dis die eerste bron van verlamming: sekulêre morele skuld uit die verlede, ons sogenaamde apartheidsverlede. Ons word verantwoordelik gehou vir die gebrek aan prestasie van die ander groepe in ons land. En selfs, in hierdie tyd van verskrikking: vir hul barbaarse misdade. Want, só word daar geredeneer, hierdie onskuldige mense, die slagoffers van apartheid en kolonialisme, sal mos nie vanself so wreed en onmenslik optree nie. Daarom is hul gedrag eweneens: ons skuld.
Die tweede vorm van skuld, of die tweede dwaalleer wat die Afrikaner vandag verlam, is meer godsdienstig van aard. Daar word gesê dat Afrikaners vandag die verskrikking van die ANC-bewind en van hierdie bestel met sy korrupsie en geweld ervaar omdat ons in die oë van God skuldig is. Vanuit ons Calvinistiese en Christelike agtergrond is dit maklik om so iets te glo. Ons het gesondig, daarom word ons gestraf. Ons het Sondagsport beoefen, ons oorgegee aan die versoekinge van die vlees en kerklos geraak. Soos die Israeliete van ouds wat in die woestyn moes rondswerf of dikwels verower en as slawe na ballingskap in Babilon weggevoer is, word ons tans gestraf vir al ons sondes. Maar ook hierdie denkskool meen dat die Afrikaner nie die meester van sy lot kan of mag wees nie. Ons moet die situasie “reg bid”. Eers wanneer die Afrikaner hom genoegsaam verootmoedig het, sal God hom genadig wees en uitkoms bring.
Ons kan egter sien dat dié twee benaderings, sowel die sekulêre idee van apartheidskuld as die Christelike gedagte van sondeskuld, albei tot intense, vernietigende verlamming lei. Want in albei gevalle kan ons nie self aan ons lot verander nie en beskik ons, anders as Andries Pretorius en sy manne by Bloedrivier, oor geen vrye wil nie.
Iets wat ons ook uit Nietzsche se ontleding van die Westerse denke oor morele skuld leer, is dat dit uiteindelik terug te voer is na ou Egipte. Die Egiptenare van weleer, die argitekte van die piramides, was ‘n uiters godsdienstige volk wat ‘n vorm van teokrasie beoefen het waardeur die farao as ‘n soort god gekroon is. Terwyl daar in die swart kultuur van Afrika agteruit gelewe word na die verlede en die voorvaders toe, het die ou Egiptenare met hul doodskultus vir die toekoms en die hiernamaals geleef.
Sommige van ons mense, as hulle vandag met die verskrikking van die nuwe Suid-Afrika gekonfronteer word, hang ‘n ekstreme vorm van Egiptiese predestinasie aan. Hulle glo dat God alles in hul lewens bepaal en dat elke moord en verkragting in die land Sy wil is. Nee! Nee! Duisend maal nee!
Ons moenie onsself in ‘n verloormentaliteit indink nie. Om ‘n Christen te wees, beteken nie om jou lot willoos te aanvaar nie. Daarom moet ons besef dat ons steeds oor ‘n wil beskik. Die Afrikaner se wil het hierdie land verander en daarvan die modernste en vooruitstrewendste staat in Afrika gemaak, met die grootste ekonomie, die mees gevorderde wetenskap, die voortreflikste letterkunde, musiek en kultuur. Eens op ‘n tyd het ons land oor die mees gedugte en georganiseerde weermag beskik, wat helaas tans insgelyks ‘n ruïne is.
Prof. Carel Boshoff het onlangs op Orania, toe ek hom oor die grondslag van sy ideologie en sy denke uitvra, geantwoord: “Ek is ‘n sekulêre Christen.” Dis sekerlik ‘n paradoks, maar elkeen van ons, selfs dié met hul Egiptiese versugtinge oor ‘n wêreld wat suiwer deur God voorafbepaal en beskik word, is sekulêre Christene. Bloedrivier as gesskiedknndige gebeurtenis en die Gelofte as ‘n funderende kode vir die Afrikanervolk het in diepe eerbied teenoor God geskied, maar bevat tegelykertyd ‘n sekulêre logika wat eie aan ons en die uitdrukking van ons wil is.
Die Groot Trek was nie maar net ‘n Oud-Testamentiese eksodus uit die Kaapprovinsie op soek na die land Kanaän nie. Dit was ook ‘n sekulêre politieke beweging, aangevuur deur die Afrikaner se oerdrang na vryheid. Daardie drang na vryheid, hoewel onderdruk en verflou, is nog lank nie dood nie. Die ongekende aantal organisasies wat hulle vandag vir Afrikanerselfbeskikking beywer, is tekenend van dié vryheidsdrang wat telkens opwel. Soos die twisgierige Vootrekkerleiers wat elkeen met sy trekgeselskap in een rigting getrek het, maar wat een en elk deur die vryheidsideaal geïnspireer is, net so droom elke Afrikaner wat nog die naam werd is vandag van ‘n eie, vrye republiek of volkstaat iewers in die toekoms. Dit spreek egter vanself dat, soos die verskillende trekgeselskappe uiteindelik by Bloedrivier saamgestaan het om die vyand te verslaan, sal die huidige geroesemoes van Afrikanergroepering terwille van ons oorlewing ook moet laer trek.
Sarel Cilliers was die Vootrekkers se geestelike en Christelike leier. Maar in Andries Pretorius veral het die Trekkers ‘n sekulêre en militêre leier gehad met ervaring van oorlogvoering teen die Xhosas in die Oos-Kaap. Vooraf het hy sy manne opgelei en besiel. Sonder daardie vooraf opleiding en beplanning sou die veldslag nie so ‘n groot sukses gewees het nie. Dit was ‘n wonderwerk wat van God afgebid is, maar ook ‘n mensgemaakte sukses, net soos Afrikaner-Suid-Afrika in die twintigste eeu ‘n mensgemaakte sukses was.
Met die afskaffing van Republiekdag in 1994, het Geloftedag oorgebly as waarskynlik die enigste nasionale dag vir Afrikaners waar ons ons patriotiese gevoelens kan betuig en ons roemryke geskiedenis kan vier. In die donker tyd van verskrikking wat ons tans beleef, is dit ook ‘n geleentheid om mekaar te vertroos, te onderskraag, moed in te praat en op te lig. Selfs in ons onvryheid kan ons ons vryheid vier, ons vryheid wat was en ons vryheid wat gaan kom, so seker as wat dit vandag 16 Desember is en die son taamlik Egipties op die sarkofaag in die Voortrekkermonument met die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” gaan skyn.
Ek wil afsluit met ‘n gedig wat ek vanmore hier geskryf het. Dit vat iets van hierdie toespraak saam, maar verteenwoordig ook ‘n ode aan ons vryheid.
Bloed en son
Bloed en son, bloedige son
wat ons velle soos papirus brand,
lyne wat soos riviere kreukel en kronkel
grense tussen volkere aanstip.
Alle grense word met bloed getrek.
Selfs in een land saamgedwing
soos vee by die slagpale
loop die eeue deur ons are.
In Egipte het ek die driehoek van graniet
gesien, die piramide en albastersilinders
waarin die farao se organe vir die hiernamaals
vertroetel en soos vrugte ingemaak is.
In ons Suiderland bars ‘n engel uit die klip.
Ons breek die geelhout, sleep die takke.
Op Kersdag stenig die Xhosas ons,
swart Kersfees, swart son, swart land,
‘n nekropool met rotse vir sfinkse
waarvan menslike offerandes gillend
gewerp en gebreek word.
Die bloed van ons kinders loop
in die sand, glansend en silwer
soos kwik, soos vloeibare metaal.
Ons word gelouter en geboetseer
soos ploegskare, soos krygsmaskers
van ouds: perd, lans en swaard.
Hul voorvaders dors na ons bloed
soos roofdiere, soos hiënas wat lag en snuif.
Lucifer bestyg ‘n vlieënde draak,
sy wapenrusting is van titaan en kevlar.
Hy ry ons volk soos ‘n trop honde;
hul koppe is laag, hul moed is gebreek.
Ons volk tjank en smeek in die tuie;
ons bloed spoor druppels in die sneeu;
die sneeu verhard en vergeel tot sand;
die sand waai weg, verdwyn.
In ‘n droom sien ek die arend sweef,
sy vlerke wyd gesprei;
hy kantel oor die krans.
Die slaapwandelaars ontwaak, loom soos
beelde op die hoëdefinisietelevisieskerm
wat skielik soos in films verlewendig.
Ek versamel my klippe en my yster,
my kruike vol water en my woorde
soos bomme en Mirages uit die son
wat verwoestend op hul stede afduik.
Hul mure verkrummel soos by Jerigo;
hulle sterf soos miere, klein en swart.
Ek bid tot God dat ons minder hond
en meer arend sal word.
справка о нетрудоспособности на работуФільчаков прокурор