Annelie Botes – Behoort Jode van Nazi’s ‘te hou’?

Dan Roodt

Terwyl ek in Kaïro op uitnodiging van die Egiptiese regering en namens Pretoria-PEN ‘n konferensie oor Afrikaletterkunde bygewoon het, is Annelie Botes die K. Sello Duiker-prys ontneem, weens haar gewraakte uitspraak dat sy “nie van swartmense hou nie… omdat sy hulle nie verstaan nie”. In die eerste plaas meen ek dat die beoordelaars van die K. Sello Duiker-prys – wat blykbaar ‘n amptelike prys van die regering is en daarom reeds verdag – hiermee alle literêre of estetiese geloofwaardigheid prysgegee het, woordspel onbedoel.

Een van die vernaamste beginsels van literêre kritiek of estetiese beoordeling is juis dat die skrywer of kunstenaar se menings of politieke standpunte nie die waardering van sy werk behoort te beïnvloed nie. Nêrens in die stortvloed moraliserings omtrent Botes se uitspraak tydens ‘n Rapport-onderhoud, het ek hiervan gelees nie. In dieselfde koerant word vandag berig dat Joan Hambidge insgelyks kritiek lewer op Botes se uitspraak en van mening is dat “die prys ook simbolies (is) en Botes se opmerkings druis presies in teen dít waarvoor hy gestaan het. Om te beweer dat sy bereid was om versoenende uitsprake te maak by die toekenningsgeleentheid is ’n bietjie mosterd na die maal.”

As digter en letterkundige behoort Hambidge te erken dat Botes se werk outonoom is en apart van haar as persoon of “skeppende subjek” beoordeel behoort te word. Maar in hierdie land geld geen logika of beginsels meer nie, behalwe die histerie van die revolusionêre antirassismestryders. Trouens, waarmee ons hier te make het, gaan minder om letterkunde of selfs politiek as om ‘n sektariese, irrasionele betuiging van ideologiese suiwerheid binne die konteks van die ANC en SAKP se revolusie. Net vandeesweek het die parlement R1,1 miljard wat Kuba aan Suid-Afrika geskuld het, afgeskryf, komende kort ná Zuma se staatsbesoek aan dié anachronistiese kommunistiese eiland in die Karibbiese see. Annelie Botes verloor ‘n amptelike prys van R30 000 en Kuba, ‘n land met een van die swakste menseregterekords ter wêreld, ontvang R1,1 miljard. Moet ons nie “simboliek” hierin lees nie, Joan?

Ook in die literêre teorie is die Marxistiese tradisie – sommige noem dit die vulgêr-Marxistiese tradisie – die enigste wat die skrywer en sy werk as ‘n eenheid beskou wat vir ‘n politieke en morele oordeel vatbaar is. In die hoofstroom van denke oor letterkunde en kritiek, hetsy die tradisionele soort Britse “practical criticism” van I.A. Richards, hetsy die sogenaamde strukturalistiese of poststrukturalistiese kritiek wat ook as “postmodernisme” getipeer word, word die werk en die skrywer geskei en afsonderlik van mekaar beoordeel.

Indien daar nie ‘n spul bevooroordeelde idiote en lakeie van die huidige orde as beoordelaars van die K. Sello Duiker-prys aangestel was nie, sou Annelie Botes sonder slag of stoot haar prys ontvang het. Nie lank gelede nie is daar op die Praagwebwerf berig dat Michel Houellebecq, die enfant terrible van die Franse letterkunde wat al om die beurt as “rassis”, “pornograaf” en “nuwe reaksionêr” getipeer is, in November die grootste Franse prys, die Prix Goncourt, ontvang het. Houellebecq het al onder andere gesê dat hy “Islam haat” en dit as “die domste godsdiens op aarde” beskou. In ‘n land waar die regering naarstig probeer om sy Moslem-immigrante te “integreer” en waar daar ook gereeld onluste deur onvernoegde Arabiese en swart jeugdiges plaasvind, verteenwoordig dit allermins onskuldige opmerkings.

Naas Houellebecq se uitsprake oor Islam, moet ons egter erken dat Annelie Botes se woorde dat sy “nie van swartmense hou nie” omdat sy hul gewelddadige gedrag onverstaanbaar vind eintlik goedaardig is. Té goedaardig! Want in dieselfde week wat die herrie rondom die Botes-onderhoud plaasgevind het, moes ek in die Johannesburgse Hooggeregshof na Gilbert Marcus, die ANC se advokaat en broer van die Reserwebankgoewerneur Gill Marcus luister waar hy die liedjie “Skiet die Boer” as ‘n kultuurkleinood verdedig. Volgens Marcus verteenwoordig dit ‘n aantasting van die ANC en sy ondersteuners se grondwetlike regte en vryheid van spraak indien hulle nie in die openbaar “Skiet die Boer” mag sing nie. Weliswaar is daar nog nie uitspraak gelewer nie en bly die verbod op die liedjie staan. Maar die kontras in houding tussen die selfversekerde ANC wat sy reg om volksmoord teen ons aan te hits in die hof verdedig en die horde Naspers-kommentators wat al weer oor hul voete val om Annelie Botes as “rassis” te kruisig, kan nie groter nie.

In die hof het Marcus onder andere hovaardig verklaar: “Konteks is alles!” (Context is everything!) Die ANC, asook elke kommunis of linkse naprater in dié land, is geregtig op hul “konteks” wat alles verskoon, ook die oortreding van die internasionale reg deur volksmoord teen Afrikaners aan te hits. Maar uit ‘n nogal verwikkelde, eerlike, opregte onderhoud met Hanlie Retief waaruit haar soeke na sin in hierdie uiters gewelddadige land duidelik blyk, fokus Botes se polities korrekte inkwisiteurs slegs op die woorde: “Ek hou nie van swart mense nie… Ek verstáán hulle nie!” Terwyl sy slegs ‘n paragraaf verder haar stelling kwalifiseer:

“Ek wéét hulle’s net sulke mense soos ek. Ek wéét hulle’t dieselfde regte as ek. Maar ek verstáán hulle nie. En dan… hou ek nie van hulle nie. Ek vermy hulle, want ek’s bang vir hulle.”

Konteks is alles, soos die ANC se senior advokaat sê. Nie net ignoreer Botes se liberale inkwisiteurs die konteks van haar uitspraak binne die onderhoud nie, maar veel erger: hulle ignoreer die konteks van die tierende geweld en volksmoord teen boere en Afrikaners wat daar besig is om in ons land plaas te vind. Dit wil voorkom asof jy in Suid-Afrika, veral as jy swart is, maar tweejarige dogtertjies soos Willemien Potgieter kan likwideer, oumense met kookwater en warm strykysters mag martel, maar wee die persoon wat dit durf waag om te sê hy of sy raak bang vir dieselfde geweldenaars en die groep waartoe hulle behoort.

Ook tydens die verhoor waarin die ANC verlof tot appèl teen die verbod op “Skiet die Boer” gevra het, het die hoofwoordvoerder van die party, Jackson Mthembu, aan ‘n Praaglid geantwoord op die vraag waarom die ANC nou so graag die liedjie wil sing: “Julle het ons in die lokasies by die duisende doodgeskiet. Nou is dit ons beurt om julle dood te maak.” Hiermee het Mthembu dit heel duidelik gemaak dat die regering volksmoord op Afrikaners ondersteun.

Dit bring my by die vraag wat ek aan al Botes se kritici wil stel: behoort Jode van Nazi’s “te hou”? In die dertiger- en veertigjare toe daar as Jood teen jou in Hitler se Duitsland gediskrimineer is by wyse van wetgewing en toe daar geweld teen Jode deur sommige Duitse politici aangehits is, was jy verplig om ter wille van politieke korrektheid aan te hou prewel: “Ek hou van Duitsers”?

As Julius Malema of oorlede Peter Mokaba op die verhoog of televisie sing: “Maak dood die Boer, skiet die Afrikaner”, is ons moreel verplig om hulle lief te hê? Ek weet die Nuwe Testament praat van die “ander wang draai” en “jou vyand liefhê”, maar daar is darem nog die Ou Testament ook en die oeroue (natuurlike) geregtigheid van “’n oog vir ‘n oog”.

Ek moet sê Suid-Afrikaanse swartes maak dit toenemend moeilik om van hulle te hou. Veral die Afro-Saksiese stam van twee of drie miljoen met hul duur Duitse motors wat elke magsposisie of hoogs besoldigde pos in die land op grond van hul ras beset, raak toenemend afstootlik. In dié opsig verwoord Annelie Botes bloot ‘n gevoel wat by baie mense met ‘n Westerse agtergrond bestaan, hetsy plaaslikes, hetsy buitelanders. As lede van die swart rassegroep in dié land nie peuters teregstel nie – en goddank Pieter Mulder van die VF Plus hou by die woord “teregstel” – dan is hulle op pad na uitspattige, duur partytjies waar hulle soesjie van swart dames se lywe af gaan vreet. En gewoonlik word sulke orgies van verbruik en vertoon boonop deur die belastingbetaler gefinansier.

As ons kla oor die volksmoord, ongelykheid, diskriminasie en ander onregte wat daar teen ons gepleeg word, neem die Afro-Saksers die houding van Marie Antoinette op die vooraand van die Franse revolusie in: “Laat hulle koek eet.” Of soesjie. Eintlik het Marie Antoinette van “brioche” gepraat, wat ‘n minder bekende Franse gebak is, maar die res van die wêreld het die punt verstaan.

Rapport en ander Nasionale Perspublikasies mag dink dat die meeste Afrikaanse skrywers, asook hul eie lesers, “rassiste” is omdat ons die huidige toestand in die land onaanvaarbaar vind en ons oor die geweld en korrupsie uitspreek. Tot dusver was ons, soos Annelie Botes, goedaardig en beleefd, anders as ons opponente wat hul barbaarse haat en drif soos Raka al dansend van die verhoë af uitbasuin.

Die tyd vir skerper kritiek en taal het gekom. Afrikaanse skrywers sal hulself egter moet beskerm teen die verguising en onliberale stigmatisering wat Naspers teen ons pleeg en waarvan die Annelie Botes-sage maar net een geval verteenwoordig.

Terwyl Naspers nie van ons skrywers “hou” nie, juis omdat ons oor gewetens beskik en soms die risiko neem om ons in die openbaar oor onreg uit te spreek, beskik ons oor duisende vriende dwarsdeur die wêreld, ook swartmense elders in Afrika. Tydens my verblyf en die skrywerskongres in Kaïro waar afgevaardigdes van 22 Afrikalande teenwoordig was, is ek dikwels verbaas deur die welwillendheid en belangstelling wat daar in Afrikaans en Afrikaners op die res van ons kontinent heers. En dit sluit veral Arabiese Noord-Afrika in.

Ek wil ‘n pleidooi aan Annelie Botes en alle Afrikaanse skrywers en kunstenaars rig dat ons onsself beter sal organiseer om die aanslag van die polities korrekte media, die skoothondjies van die totalitêre ANC-bewind, die hoof te bied. Die lydende Afrikanervolk wat tans verdruk en vermoor word, asook die meeste ingeligte mense ter wêreld, is aan ons kant. Geen revolusie kan egter slaag sonder die bydrae van kunstenaars en skrywers wat die volk se lyding verwoord en gewone mense tot die stryd oproep nie.

Deur haar gewraakte uitspraak dat sy nie van swartmense “hou nie”, het Annalie Botes bygedra tot daardie grootse beweging wat ons van hierdie polities korrekte, gewelddadige en korrupte bestel moet bevry. Daarvoor verdien sy reeds ‘n prys.

домики для детейФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae