“Die Vryheidsfront Plus verstaan nie waarom die Suid-Afrikaanse regering R1,1 miljard wat Kuba aan Suid-Afrika skuld, onvoorwaardelik afgeskryf het nie. Dit blyk dat hierdie besluit deur die Suid-Afrikaanse regering geneem is weens verouderde politieke lojaliteite. Die breë makro-ekonomiese beleid en Industriëlebeleid-Aksieplan van die regering is nie in ag geneem met hierdie stap nie,” het adv. Anton Alberts, die VF Plusparlementêre woordvoerder oor Ekonomiese Ontwikkeling, gesê.
Die VF Plus beplan om vrae hieroor in die Parlement te vra.
Prakties beteken dit dat meer as een miljard rand van gewone Suid-Afrikaners se swaar betaalde belastings op hierdie wyse aan Kuba geskenk is. Dít terwyl meeste belastingbetalers ekonomies baie swaar kry en daar beslis baie ander verdienstelike projekte soos behuising en water- en elektrisiteitsvoorsiening aan huishoudings is waaraan die geld spandeer kon word.
“Terwyl pres. Zuma en die regering met die politieke muishonde van die internasionale wêreld, soos Kuba, Iran, Mianmar en Mugabe van Zimbabwe assosieer, verloor Suid-Afrika steeds meer internasionale aansien. Dit is daarom nie verbasend dat die ekonomies kragtige lande, wat om ekonomiese redes baie belangrik vir Suid-Afrika is, steeds krities teenoor Suid-Afrika staan nie,” het adv. Alberts gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.