In sy artikel in Beeld, ‘n Rassistiese babelas, lewer dr. Michael le Cordeur die pleidooi dat “ons van terme soos wit, swart, bruin en enigiets wat na rassisme ruik” ontslae moet raak. Ons gaan egter nie Suid-Afrika se etniese diversiteit ongedaan maak deur ander woorde te gebruik nie.
Die ontstaan en bestaan van ‘n verskeidenheid rasse, tale en identiteite is feite van evolusie en van die geskiedenis. Bioloë bereken dat die mens oor die afgelope 100 000 jaar deur geografiese afsondering in verskillende rasse verdeel het. Deur die ontleding van ‘n mens se mitochondriale DNS en die Y-chromosoom kan ‘n mens se afkoms baie akkuraat ontleed word. Soos iemand gesê het: “Om ras te ontken, is om biologie te ontken.”
Net so het die ongeveer 6000 lewende tale ter wêreld oor duisende jare ontstaan en vandag is dié Babel ‘n bron van besondere rykheid, behalwe vir diegene wat glo dat die wêreld uit eenvormige mense moet bestaan wat almal gebroke Engels met mekaar praat.
Hoe op aarde moet die mitiese “reënboognasie” uit Suid-Afrika se ekstreme etniese verskeidenheid gevorm word? Soos die kommentator Herman Toerien onlangs opgemerk het: “Staatkundig staan die Suid-Afrikanse grondwet nader aan dié van Sri Lanka waar die diversiteitsprobleem, vir die huidige, sogenaamd opgelos is deur die Tamils militêr te verslaan.”
Die blote oordrag van politieke en militêre mag aan die ANC in 1994, het nie ‘n nuwe nasie geskep nie. Inteendeel, die opdwing van eenvormigheid deur die Engelstalige staat wat sekere rassegroepe bo ander bevoordeel skep onbedoelde gevolge. “Reënboognasiepatriotisme” is ewe sektaries as sommige Afrikaners wat dink dat hulle die enigste ware afstammelinge van die oorspronklike Israeliete is. Nie eens die gekleurde elite glo self daaraan nie, want in diselfde asem waarmee die reënboogsmeltkroes besing word, bevestig hulle bloot hul eie rassetrots en -solidariteit.
Biskop Tutu het sy gedagte van die reënboognasie by eerwaarde Jesse Jackson van Amerika geleen wat in 1984 tydens ‘n toespraak gesê het: “Ons vlag is rooi, wit en blou, maar ons nasie is ‘n reënboog – rooi, geel, bruin, swart en wit. ” Nie eens in die VSA, waar die gedagte van die smeltkroes ontstaan het – hoewel geïnspireer deur die Sweed Gunnar Myrdal! – word dit meer ernstig opgeneem nie.
In Suid-Afrika ervaar ons byna daagliks etniese en rasseverskille tussen mense; dít terwyl die huidige grondwet ‘n “nie-rassige staat” voorskryf. Onderwyl joernaliste, kommentators, akademici en predikante dikwels teen hul beterwete ontken dat daar iets soos “ras” bestaan, onderskei die ANC-politici en staatsamptenare moeiteloos tussen rasse as dit by transformasie, regstellende aksie en SEB kom.
Hoe groot is die verskille tussen mense van verskillende rasse? Is dit so groot soos dié tussen twee honderasse, soos byvoorbeeld ‘n Franse poedel en ‘n Duitse herdershond? Blykbaar is menslike rasverskille egter veel groter as dié tussen honderasse wat in grootte, intelligensie en temperament radikaal van mekaar kan verskil.
Menserasse is oor die afgelope 100 00o jaar deur ‘n proses van natuurlike seleksie verskillend van mekaar geteel. Die meeste honderasse, daarenteen, is op kunsmatige wyse oor slegs enkele honderde jare geteel. Nietemin verskil honde soveel van mekaar dat verskillende medisyne en dosisse dikwels deur veeartse gebruik moet word omdat die tipes honde fisiek soveel van mekaar verskil. Windhonde, wat geteel is om vinnig te hardloop, beskik byvoorbeeld oor meer spierweefsel as ander honde en metaboliseer sekere middels anders as ander honde.
Die Amerikaanse genetikus en fisieke antropoloog Vincent Sarich, ‘n emiritusprofessor aan die universiteit van Kalifornië, Berkeley en die joernalis Frank Miele het saam ‘n boek oor ras geskryf met die titel: Race – the reality of human differences. Daarin bespreek hulle die stand van die genetiese wetenskap en hoe daar geredelik op grond van DNS-ontledings tussen menserasse onderskei kan word. Hoewel honde fisiek soveel van mekaar verskil, kon die wetenskap tot ongeveer 2003 nie DNS-verskille tussen honderasse waarneem nie.
Sowel sjimpansees as gorillas bevat subspesies of rasse wat geneties tussen 6 en 20 persent van mekaar verskil, min of meer dieselfde as menserasse. Die interessante punt is egter dat dit die aapspesies ongeveer 1,5 miljoen jaar geneem het om sulke verskille te ontwikkel terwyl dit die mens slegs 100 000 jaar geneem het en die mak honderasse ‘n paar honderd jaar.
Terwyl die meeste polities korrekte wetenskaplikes erken dat daar genetiese variasie tussen mense en geografiese bevolkings (rasse) bestaan, meen hulle dat ons ‘n te jong spesie is vir groot verskille om te kon ontwikkel. Die geval van honderasse, wat almal vanuit wolwe ontwikkel het, weerspreek hierdie teorie.
Afgesien van die bewese verskille in gemiddelde IK tussen menserasse, is daar ook die fisieke verskille wat ‘n mens opval as dit by sportprestasies kom. Lede van die Kalenjin-stam uit Kenia het vir twaalf jaar dermate die middelafstandnommers by die Olimpiese Spele oorheers dat dit as ‘n wonderwerk beskou is. Manlike Kalenjin het die helfte van die medaljes gewen, teenoor die res van die wêreld wat die ander helfte gewen het. ‘n Mens besef eers hoe ongewoon dit is as jy in ag neem dat daar maar 3 miljoen Kalenjin is en vyf miljard ander mense, ‘n verhouding van 2000:1. Die skrywer Steve Sailer het hierdie verskil in hardloopprestasie tussen Kalenjin en die res van ons in IK-terme uitgedruk: hulle gemiddelde “hardloop-IK” is 122 teenoor die res van die wêreld se 100.
Ook as ‘n mens kyk na Asjkenazi-Jode wat ongeveer 40% van alle Nobelpryse gewen het, maar dit sin dat hulle ‘n intellektueel talentvolle groep moet wees. Volgens die skrywers van die beroemde (en berugte) boek oor IK, The Bell Curve, beskik Asjkenazi-Jode oor ‘n gemiddelde IK van 115, wat die groot aantal intellektuele prestasies van so ‘n klein groepie mense verklaar.
Ons moet maar die “wreedheid” van God of evolusie aanvaar wat ons onherroepelik “verdeel” het. Kom ons ontwerp eerder politieke stelsels wat die werklikheid van etniese verskille weerspieël as om ons verdriet uit te spreek oor die reënboogideaal wat so skouspelagtig misluk het.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.