praag.co.za

Blik Oor oor Sledging en slegsê

Written by

in

As ek my nie misgis nie, gaan sledging nou vir ‘n hele ruk in Afrikaans ingeburger raak. Dis nou na die Proteakaptein en die Indiese bouler, Skree Seertand mekaar so met die woorde probeer doodgooi het.

En Smittie amper vir Seertand met die kolf gewiks het.

Eintlik beteken sledging om iemand met ‘n voorhamer by te dam. Trouens, van onse Viking-voorouers het ons ‘n mooi beskrywende dag, Donderdag, oorgehou na aanleiding van die Nordiese dondergod, Thor, wat so vreeslik met sy voorhamer kon moker.

Amper het Smittie vir Seertand vroeg in die week al ‘n Donderdag besorg. Dis seker oor die Indiërs nou so min karre in hul span het dat die Proteas nie meer so lekker kan paneelklop nie. Om te dink, op ‘n tyd was die karre Tendulkar. Manjereikar, Prabakar en Agarkar.

In elk geval, so met die ontstaan van rugby was daar ook ‘n paar terme wat Smittie in oorweging sou neem: hacking (om die ander een se bene onder hom uit te skop), en stragging (om die opponent te wurg tot hy die bal los).

Maar is daar nie goeie Afrikaanse woorde nie?

Ek bedoel, om ‘n opponent se kakebeen so af te slaan sonder dat die skeidsregter jou sien? Is daar ‘n beter woord as ‘n betrekhoutjie?

Of as jou opponente se losskakel aan jou skrumskakel slaan, en jou agsteman laat die kapokhaantjie-losskakel harpuis ruik. Dan het daai agsteman mos die mooiste Naasslaaanwerk denkbaar vir sy span gedoen.

Maar by rugby is die skeidsregters half teë op dié soort goed, en kry die opponente nie net geleentheid om die bal deur die mikke te sool nie, die speler wat, volgens die kommentators laat in die wedstryd aan die “groet” gegaan het moet in die boefblik gaan afkoel, of kry heeltemal die trekpas. Dis amper net so verkeerd as om hoesmedisyne te drink.

Ek wonder nog hoekom Gerhard Viviers nie van die pynpolisie mag gepraat het nie. Wat is nou ‘n beter beskrywing vir die manne in uniform wat so hinkepink oor die veld gesnol het as ‘n speler ‘n groot eina opgedoen het? En Boer Coetzer is nog lank voor die boefblik uitgevind is, van die veld gejaag omdat hy ‘n opponent gepootjie het. Gelukkig het hy hom nie met “hacking” planke toe gestuur nie, want dan was Boer seker lewenslank geskors, en kon hy nie tot ouderdom 57 nog vir Collegians die pap dik aangemaak het nie.

Ai, en die Goue Leeus se grootbaas, Kevin de Kapper, het op sy speeldae darem ‘n pikhoutjie op die opponent se kortribbetjie vervolmaak. Mos die opponent se eie skuld, want voor die wedstryd het De kapper vir die man verduidelik hy spring nie vir sy, Kevin, se balle nie.

Trouens, heelwat rugbyspelers het die reputasie gehad dat hulle, sonder dat die skeidsregter dit kon sien, opponente lekker met ‘n opgerolde plathand kon klap.

Dan was daar die windmakerige haker, maar hy het sy eie skrum meer ontwrig as dié van die opponente.

Die dae voor die skeidsregter ‘n mikrofoontjie saamgedra het, het die spelers blykbaar ‘n aansienlike woordeskat ingespan. Dié het aan die lig gekom toe die TV-kameras nabyskote kon begin neem, en dowe kykers wat kon liplees gaan kla het oor die vuil taal wat uitgesaai word.

Of die rugbyskeidsregters dit kan vat, en of die spelers hulle daarvan weerhou om op die veld onvleiend na die skeidsregters te verwys, weet ek nou nie. Maar op Wimbeldon het ‘n Afrikaanse tennisspeler by wyse van spreke met moord weggekom toe hy kliphard die skeidsregter ‘n Afrikaanse gemakshuisie genoem het. Nou nie daai woord nie, maar een met dieselfde, maar meer gevoelvolle strekking.

Ai, by ‘n bekende rugbyskool net so buite die Rosestad het ‘n klompie ouers ‘n gebedsgroep gestig vir die afrigter-skoolhoof, wat so meegevoer langs die veld kon raak dat hy nou nie sy woorde so mooi getel het nie.

Vertel een van die ma’s, hulle het nog skaars binne hoorafstand van die man begin bid, of hulle sien hy het na die oorkant van die veld verkas. So het die skoolhoof en gebedsgroep dié dag baie oefening so al om die veld gehad.

‘n Mens hoef natuurlik nie altyd in woorde ‘n mens se gevoelens uit te druk nie. By geleentheid het die skeidsregter ‘n speler goed die leviete voorgelees. Toe die vuilbekkige speler na sy spanmaats terugdraf sien hy die TV-kamera volg hom. Met ‘n dodelike waarskuwing onder lede bly hy tjoepstil, en maak van vingertaal gebruik om vir die kykers te vertel wat hy van hulle dink.

En soos Pa Blik gesê het: Hy was hierna so diep in die moeilikheid terwyl hy net één ou vingertjie gebruik het. Hy sou seker lewenslank geskors gewees het as hy al vyf vingers ingespan het.

машинки для девочекФильчаков Харьков

Comments

Leave a Reply