In sy huiswerk moes ‘n laerskoolkind antwoord wat die land se beleid voor 1994 was, en wanneer die eerste demokratiese verkiesing in die land plaasgevind het.
Die antwoorde, wat volgens die kurrikulum-komitee verlang is, is apartheid en 1994 onderskeidelik.
Met geen of slegs ‘n klein bietjie moeite sou die komitee kon vasstel dat die bevolkingsregistrasiewet reeds in 1991 geskrap is. Ook ander verbandhoudende wette is lank voor 1994 afgeskaf.
Maar hoe lyk die situasie vandag?
Dr. Michael le Cordeur, ondervoorsitter van die Afrikaanse taalraad skryf vandag in ‘n rubriek dat onderwysers steeds, wanneer hulle vorms na afloop van werksessies moet invul, hul ras moet invul.
Dié lysie kan baie langer gerek word. Op aansoeke vir poste, keuring vir medies, bykans enigiets, moet ras aangedui word. Hierdie aanduidings het ook implikasies, sodat Le Cordeur se verwyt dat min wit mense vir bruin kinders skoolhou eintlik op ‘n heel ander vlak beantwoord moet word as die gesindheidsantwoord wat hy soek.
Onlangs, as ‘n ontleder navorsing op Naspers se elektroniese argiewe gedoen het, het ‘n peilingsinstansie se vraelys op die skerm verskyn. ‘n Mens word versoek om aan die peiling, in opdrag van Naspers, deel te neem.
Kort voor lank, duik ook die vraag op aan watter ras die deelnemer behoort. Geen voorsiening word gemaak vir ‘n antwoord: “Nie van toepassing” soos ‘n mens in ‘n grondwetlik verklaarde nie-rassige land sou verwag nie, en om niks hier in te vul nie, het ook beteken dat ‘n mens nie verder aan die opname kon deelneem nie.
In 2011 word weer sensus gehou, en een van die vrae sal stellig weer oor die deelnemer se ras handel.
Wat die wetboek en implikasies betref het die kurrikulumkomitee geblaps.
Apartheid was al ‘n paar jaar voor 1994 afgeskaf, en sedertdien is dit grootliks herstel.
Dit leef ook nie net in die harte van mense voort nie – die land beskik oor ‘n Black Journalist Association, ‘n Black Lawers Association, Black Business Forum, ‘n National African Farmers’ Union en so werklikwaar ook ‘n Black Gun Owners Association, om maar ‘n paar te noem.
‘n Storm bars los oor iets wat die skryfster Annelie Botes gesê het, en waarby Steve Hofmeyr ook betrek is. Dit maak veel groter opslae as die ANC se appèl teen die verklaring van die liedjie “Skiet die Boere” tot haatspraak.
Le Cordeur, Heinrich Wyngard, prof. Jonathan Jansen en vele ander neem die raskwessie diepsinnig – sommiges gereeld – onder die loep. Dit handel meestal oor hoe rasgesindhede jare na die afskaffing van apartheid in ‘n groot mate voortleef.
Die teenstrydigheid is miskien die beste gedemonstreer toe Zelda Jongbloed, toe nog adjunk-redakteur van Die Burger, in haar rubriek haar nuwejaarsvoornemens uitgespel het. Sy sal steeds ten spyte van kritiek, haar teen rassisme uitspreek. ‘n Sin of wat verder vaar sy uit daarteen dat André P. Brink, en nie ‘n bruin kandidaat soos sy geglo het die bedoeling was, die Jan Rabie en Marjorie Wallace-toekenning gekry het nie.
Die werklikheid begin stadig insink. Bedoeld of onbedoeld word nou minder gereeld na 1994 as ‘n waterskeiding tussen apartheid en iets anders verwys, en, soos Le Cordeur, daarna verwys as die tydperk sedert demokrasie aangebreek het. Om ‘n ras-waterskeiding aan 1994 te koppel, sou ‘n Engelse spreekwoord laat vergestalt: “ The pot calls the kettle black.”
Of dit korrek is om in ‘n rasgepolariseerde land waar ras statutêr iemand se lot bepaal, onder die huidige grondwet na demokrasie te verwys is ‘n debat op sy eie. Sommiges sal voel dat die term, diktatuur van die meerderheid – ‘n erkende staatkundige begrip -‘n veel pasliker beskrywing is.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.