praag.co.za

Afrikanerrevolusie – die alternatief vir die NDR

Written by

in

Verandering vind op twee maniere plaas, stadig en inkrementeel of skielik en revolusionêr, selfs rampspoedig. President Ronald Reagan het op ‘n stadium verwys na die uitvinding van die motor wat die perdekar laat verdwyn het. Jare lank het perdekarvervaardigers hul voertuie bietjie vir bietjie verbeter en gemoderniseer – totdat die binnebrandenjin en die motor op die toneel veskyn het. Dieselfde geld vir die vervaardigers van tikmasjiene wat verdwyn het toe die persoonlike rekenaar in die sewentigerjare aangekondig is.

Niemand sou kon ontken dat Suid-Afrika sedert 1994 in die greep van revolusionêre verandering verkeer nie. Trouens, die ANC-bewind is heeltemal openlik oor sy strewe na maatskaplike omwenteling en beskryf die proses as die “nasionale demokratiese revolusie”. Hierdie revolusie vee alles in sy pad uit, van Afrikaanse skole en universiteite, ons ou munisipaliteite toe elke dorp nog sy eie dorpsraad gehad het, tot die gewese Suid-Afrikaanse weermag (SAW) en ‘n groot deel van die blanke bevolking wat reeds die land verlaat het. En nog is’t einde niet! Die nasionale demokratiese revolusie van die Afro-sosialistiese beweging bekend as die ANC staan eintlik nog maar in sy kinderskoene. Die huidige bewind praat reeds daarvan dat grondhervorming, die nagmerrie van die kommersiële boer, versnel gaan word, dat transformasie nog nie ver genoeg gevorder het nie en dat ‘n nasionale gesondheidstelsel in werking gestel gaan word.

Die gemiddelde Afrikaner staan verdwaas voor die radikale veranderinge wat hy beleef en word deur die media, wat ook grootliks onder beheer van die radikales verkeer, verwar. Die enigste alternatief waaraan hy kan dink, is om na ‘n Engelssprekende land soos Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Brittanje of die VSA te emigreer. Intussen stem die oorblywende Afrikaners in die land vir die liberale party, die DA, wat geen prinsipiële fout in die Suid-Afrikaanse stelsel raaksien nie, maar ‘n verbetering in “dienslewering” teweeg wil bring.

Beter “dienslewering” gaan nie die land stabiliseer, ongebreidelde geweldsmisdaad keer, die hospitale tot hul vorige glorie herstel of skoon water vir ons bring daar waar watersuiweringstelsels in vele plattelandse gebiede reeds in duie gestort het nie.

Vuur kan net met vuur beveg word. Die revolusie kan slegs deur ‘n ander of teenrevolusie geneutraliseer word.

Onmiddellik klink die vraag op: Maar hoe? Ons is magteloos, skaakmat, te min. De Klerk het ons verraai en die buiteland is ons vyandig gesind. Hoe op aarde kan ons verandering in Suid-Afrika bewerkstellig sonder om soos die Boeremag of ander samesweerders in die tronk te beland? En watter ander bloudruk vir Suid-Afrika kan daar wees as die huidige, sogenaamde “demokrasie”, wat eintlik maar net ‘n eufemisme vir plundery en korrupsie is?

Ek wil my nie bepaal by die tegniese aspekte van verandering nie. Feit is dat Suid-Afrika deur die nasionale demokratiese revolusie militêr so verswak is dat selfs Zimbabwe ons sou kon inval en oorneem. China sou ons moeiteloos kon koloniseer en ons minerale rykdomme vir homself toeëien. Die vernietigingswerk van die ANC se revolusie het ‘n magsvakuum geskep wat enige middelslag- of selfs kleiner moondheid sou kon uitbuit om beheer in die land oor te neem. Die magsvakuum, wat in die eerste plaas deur die onbekwaamheid van die huidige bewindhebbers geskep word, sal een of ander tyd gevul word; daarvan kan ons seker wees. Selfs die Afrikaner in sy huidige verswakte, verwarde, moedelose toestand sou dit kon vul, as hy maar net die wil daartoe sou ontwikkel.

Selfs al duur die huidige apatie voort en aanvaar die Afrikaner soos tans om passief die ANC se nasionale demokratiese revolusie te verduur, tesame met alles wat dit behels, soos geweld, diskriminasie, regstellende aksie, grondonteiening, omgewingsverval, besoedelde water, korrupsie, ens., sou wanorde so toeneem dat die Afrikaner in elk geval terwille van sy oorlewing vir een of ander gekoördineerde optrede moet kies.

Nadat die IMF vandeesweek sy tevredenheid oor die Zimbabwiese ekonomie uitgespreek het en sogenaamde “verinheemsing” as ‘n legitieme politieke en ekonomiese beleid erken het, is dit helder dat die internasionale gemeenskap geensins sal ingryp of selfs kritiek sal lewer indien die ANC se revolusie die omvang van Mugabe s’n aanneem en die meeste blankes uit die land verdryf word nie.

Die enigste afleiding wat die Afrikaner uit die gebrek aan enige internasionale optrede of sanksie in die Zimbabwe-geval kan maak, is dat ons op onsself aangewese is. Geheel en al.

 

‘n Hegte basis as eerste vereiste

As ons vandag die ontredderdheid van hierdie eens magtige, gedissiplineerde en georganiseerde volk, die Afrikaner, aanskou, dan moet ons onsself avfra hoe ons in hierdie haglike situasie beland het? Sonder om te veel stil te staan by die geskiedenis van De Klerk en die Nasionale Party se oorgawe en alles wat dit voorafgegaan het, moet ons erken dat die grootste enkele fout van die Afrikaner was dat hy nooit ‘n hegte basis vir homself uitgehou het nie.

Ons het hele tuislande vir ander volkere geskep, met uitgebreide adminstrasies, polisiemagte, weermagte en dies meer. Ons het Jonas Savimbi befonds sodat hy in die suide van Angola vir homself ‘n militêre en magsbasis by Jamba kon onderhou, maar nooit was daar ‘n vierkante kilometer van Suid-Afrika wat die Afrikaner vir homself toegeëien het nie. Slegs Orania of Kleinfontein kan daarop aanspraak maak dat hulle Afrikanergebiede is, maar hulle beskik oor geen weermagte nie en kan môre deur tienduisend toitoiende swartes oorgeneem word.

Wat ook al gebeur, moet die Afrikaner terwille van sy oorlewing oor ‘n hegte basis beskik. Gegrond op dr. Willem van Heerden se navorsing in die vroeë negentigerjare, wat in die boek Hartland van die Afrikaner gepubliseer is, kom die volgende deel van Suid-Afrika die Afrikaner toe. Dit is sy hegte basis waarsonder geen langtermynoorlewing moontlik is nie.

Vanweë die huidige verspreiding van ons bevolking, is dit die enigste deel van die land waarin ons ‘n Afrikaner= en blanke meerderheid binne die afsienbare toekoms kan behaal. Indien enige negatiewe scenario’s, soos byvoorbeeld volskaalse volksmoord, realiseer, sou hy op hierdie gebied kon terugval en daarvan sy Israel maak wat hy met hand en tand kon verdedig. Afrikaans moet ook van meet af aan die enigste amptelike taal van die gebied wees sodat ‘n onverdeelde, konsekwente en sterk nasionale identiteit daar kan ontwikkel en gedy. Ten minste vier Afrikaanse universiteite sou in daardie gebied gevestig kon word, asook honderde Afrikaanse hoër- en laerskole sodat ons taal en kultuur veilig sou wees.

Die ANC het hom al male sonder tal, op die mees ekstreme manier, tot vyand van die Afrikaner verklaar. Onlangs het die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, die liedjie “Skiet die Boer” bevorder. Toe die sing daarvan deur die hof verbied is, het die ANC daarteen appèl aangeteken. Die enigste moontlike afleiding hieruit kan wees dat Afrikanervolksmoord inderdaad verklaarde ANC-beleid is! Daarom sal die ANC, solank hy aan bewind is, nooit toelaat dat die Afrikaner sy vryheid of ‘n hegte basis in die vorm van grondgebied verkry nie.

Nieteenstaande ANC-vyandigheid teenoor ‘n Afrikanergebied of volkstaat, dwing omstandighede ons onvermydelik daartoe en het steun vir die begrip oor die afgelope jaar of twee geweldig toegeneem. Om grondgebied te verkry moet die hoofdoel van die Afrikanerrevolusie wees. Dis nie onwettig nie, want die grondwet van 1996 maak in artikel 235 vir ‘n volkstaat voorsiening.

 

Dink territoriaal

By al die verrassende lesse wat ons van die revolusionêre ANC sedert 1994 geleer het, is daar ook die territoriale imperatief wat die huidige bewind aanvuur. As ons kyk na grondhervorming, maar ook die inpalming van Afrikaanse universiteite, skole, hospitale en ander instellings, dan geskied dit streng territoriaal. Elke stukkie grondgebied of gedeeltes van instellings wat steeds onder Afrikanerbeheer staan, word deur die ANC as ‘n probleem gesien.

Die geskiedenis van die afgelope sestien jaar is by uitstek dié van territoriale verowering en oorname van magsinstrumente, soos die polisie en weermag, die SAUK, maar ook ekonomiese instellings soos die semistaatsorganisasies. Grond in die fisieke en letterlike sin, soos plase of woongebiede, is egter by uitstek in die ANC se visier. Die Nasionale Demokratiese Revolusie sal nie voltrek wees alvorens die totaliteit van die grond en eiendom van Afrikaners nie op een of ander manier vervreem is nie, baie soortgelyk aan die proses wat hom oor die afgelope tien jaar in Zimbabwe voltrek het.

Deur bloot aan te bly op ons plase en in ons huise en – bygesê, nie te emigreer nie – is ons reeds besig om weerstand teen die proses van verowering te bied. Die Afrikaner en daardie deel van die blanke bevolking wat hom goedgesind is, beset – en besit – steeds ‘n groot deel van die land, veral in die gebied wat ek op grond van dr. Willem van Heerden se navorsing uitgewys het.

Ons hoef nie noodwendig Orania toe te trek om ons kleim af te steek nie; ons kan dit doen daar waar ons reeds in groot getalle woon. Uiteraard is daar dele van die land waar Afrikanervestiging so yl is dat sulke gebiede vir alle praktiese doeleindes reeds verlore is. Soos wat onstabiliteit toeneem, gaan dit toenemend moeiliker vir ons mense raak om hul eiendomsreg en selfs hul lewens buite die huidige Afrikanermeerderheidsgebiede te handhaaf. Intimidasie en geweld, ook deur die staat se gewapende magte teen lede van minderheidsgroepe, het so alledaags geraak dat diegene wat geïsoleerd leef reeds intens blootgestel is.

Wat Orania, Kleinfontein en ander gebiede reeds met hul begrip van “volkseie arbeid” bewys het, is dat Afrikaners nie afhanklik van vreemde arbeid hoef te wees nie. Die aangewese weg om in te slaan, is om ten minste alle sekerheid- en beskermingsdienste in ons gebiede deur ons eie mense te laat verrig. Dít op sigself sal ‘n geweldige bydrae lewer om effektiewe beheer oor ons eie gebiede te verkry.

 

‘n Defensiewe strategie

Die volkstaat en uiteindelike onafhanklikheid kan op twee maniere verkry word. Aan die een kant kan dit aggressief of aanvallend geskied waardeur ons op ‘n dag ná die voorbeeld van Slowenië en ander lande ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitroep. Slowenië het op dié manier in 1991 binne tien dae onafhanklikheid van die ou Joego-Slawië verkry. Die Slowene het ongeveer ‘n jaar lank min of meer in die geheim hierop voorberei.

Aan die ander kant kan onafhanklikheid ook defensief nagestreef word, deur eenvoudig dít wat ons reeds besit en beheer te bestendig, te beskerm en te sorg dat ons vyand se planne gefnuik word. Ons moet bereid wees om ons huidige woonbuurte en plase, veral in die groter volkstaatgebied soos ek dit uitgemerk het, te verdedig. Soos die Moslems in Wes-Europa wat reeds die polisie toegang tot hul ghettoes ontsê, moet ons ook toenemend die staat uit ons gebiede probeer hou.

Ons eie mense moet wet en orde begin handhaaf, nie die vreemdes nie. Ons moet insgelyks begin om ons eie ID-dokumente uit te reik en mettertyd selfs ons eie paspoorte. ‘n Staat hoef nie amptelik onafhanklik te wees om paspoorte uit te reik nie.

Die huidige eenheidstaat móét uiteindelik verbrokkel weens sy interne teenstrydighede. Op daardie oomblik sal ons formeel onafhanklik word. Intussen moet ons alles in ons vermoë doen om ons eie alternatiewe strukture op te rig, te befonds en sterk te maak.

 

‘n Suider-Afrikaanse konfederasie

Een van die eerste oogmerke van ‘n toekomstige Afrikanerregering in ‘n eie Afrikaanse republiek sou wees om ‘n Suider-Afrikaanse konfedarasie van state te skep. Aangesien Lesotho, Swaziland en Botswana reeds deur middel van die Doeane-unie in meerdere of mindere mate van Suid-Afrikaanse befondsing vir hul begrotings afhanklik is, sou hulle geredelik tot so iets instem.

Die Afrikaanse republiek, Lesotho, Swaziland en Botswana, voormalige TBVC-state en verskillende outonome kantons waarin Suid-Afrika mag verbrokkel, sou ‘n konfederasie vorm, waarskynlik met die hoofkantoor in Gaborones omdat die hoofstad van Botswana vir ander, meer noordelike state ook in die toekoms meer bereikbaar sal wees. Die konfederale parlement behoort insgelyks in Gaborones gesetel te wees.

 

Wie is ‘n Afrikaner?

Heelwat van wat ek hier te sê het, berus op die veronderstelling dat die Afrikanervolk hom weer opnuut sal selfidentifiseer en gesamentlik sal begin optree. Die ou vraag, wat deur ons vyande met soveel vermakerigheid gestel word – asof “Suid-Afrikanerskap” nie ‘n nog veel problematieser begrip is nie! – duik op: “Wie is ‘n Afrikaner?”

Die Volksraadsverkiesingskommissie het reeds in ‘n hoë mate dié vraag beantwoord deur middel van sy voorwaardes vir deelname aan ‘n Afrikanerverkiesing:

“Verklaring deur aansoeker: Ek, die ondergetekende… verklaar hiermee die volgende:

16.1 dat ek lid van die Boere- of Afrikanervolk (“die Volk”) is, EN

16.2 dat ek ten volle of verreweg oorwegend deur die Volk as lid daarvan aanvaar word, EN

16.3 dat ek die Volk se vryheidsideaal nastreef deur te glo dat die Volk homself moet regeer volgens norme en waardes eie aan sy kultuur, in gehoorsaamheid aan God wat ons by Bloedrivier en elders uitgered het, EN

16.4 dat geen ander volke of rasse – hetsy Blank of nie-Blank – die reg het om die Volk te oorheers nie, EN

16.5 dat ek die Volk se reg op selfbeskikking opeis omdat ek ‘n proses ondersteun waarvolgens my Volk uiteindelik alleen sy eie grondgebied sal bewoon, bewerk en regeer, EN

16.6 dat die Volk op so ‘n grondgebied moet besluit soos gelei deur verwikkelinge in die proses om ons selfbeskikking te herstel, EN

16.7 dat ek my reg uitoefen om deel te neem aan ‘n proses waardeur ‘n ope nominasie en demokratiese verkiesing van Volksraadslede as verteenwoordigers van die Volk sal plaasvind, wat my bogenoemde eise en regte as lid van die Volk namens my sal stel en beding, EN

16.8 dat ek wil deelneem aan die verkiesing van Volksraadslede welke verkiesing deur die Volksraadverkiesingsommisssie gefasiliteer word; EN

16.9 dat ek kennis dra van die Volksraadverkiesingskommissie se bepalings tot uitvoering van genoemde verkiesingsproses en dit aanneem;

DAAROM VERKLAAR EK volkome vrywillig dat ek as kieser op die Volksraadverkiesingskommissie se kieserslys geregistreer wil word.”

Daar is vir my twee belangrike elemente by bogaande definisie van Afrikanerskap wat sekerlik enige internasionale ondersoek sou kon deurstaan: (1) Dat Afrikaners mekaar as sodanig herken en aanvaar; en (2) dat elke Afrikaner homself ook invididueel tot lid van die volk verklaar. Laasgenoemde sluit aan by die klassieke teoretikus oor volkskap of nasionaliteit, Ernest Renan, se gedagte van ‘n “daaglikse peblisiet” wat lede van ‘n volk uitvoer om telkens weer deur hul verskillende nasionale optredes vir lidmaatskap van daardie volk “te stem”.

 

Die weerstand is reeds aan die gang

Soos ek reeds hierbo geskets het, selfs indien die Afrikaner nooit daadwerklik of aggressief optree om sy vryheid en sy erfenis in dié land teen die huidige aanslag te beskerm nie en al “sit hy net op die draad”, noop omstandighede hom egter om bepaalde keuses uit te oefen. In ‘n wesentlike sin is weerstand reeds aan die gang, want sowel invididuele as groepe Afrikaners is besig om hulself teen die huidige fisieke en kulturele verval te verset. Ons hoef maar net te kyk na die ongekende uitstorting van misnoeë en verset op die internet, wat ‘n goeie aanduiding van die algemene gevoel verteenwoordig.

Deur gepaste leiding en aanmoediging kan die huidige weerstand wat op ‘n verskeidenheid maniere plaaslik manifesteer, aangroei tot ‘n algemene beweging na onafhanklikheid.

Daar was maar slegs enkele kere in ons geskiedenis dat daar so ‘n swaar verantwoordelikheid op die Afrikanerintellektuele en –leiers gerus het om die volk in sy dors na vryheid te inspireer.

Ons sou ons hele nageslag verraai indien ons nie nou begin werk om ons eie gebiede ordentlik te beveilig en toenemend uit die greep van die ANC-staat los te wikkel nie.

deposit mobiletopcargo отзыв

Comments

Leave a Reply