praag.co.za

‘n Les vanuit Nederland

Written by

in

Leopold Scholtz, Nasionale Pers se Europese korrespondent, meen dat “die stinkende albatros van apartheid om die taal se nek” – nogal ‘n ewe onwelriekende anglisisme uit sy pen – Nederland en Vlaandere van groter betrokkenheid by Afrikaans weerhou het. Maar is dit waar?

Vlaandere het nog nooit ‘n kulturele boikot teen Afrikaans ingestel nie. En Nederland se huidige herontdekking van Afrikaans het min met die ondergang van die gewraakte apartheid te make en meer met die beweging na regs in die Nederlandse politiek en samelewing. Trouens, terwyl slegs linkse “Afrikaanses” en ‘n ANC-adjunkminister na Brugge uitgenooi is, het die skrywerpolitikus Martin Bosma spontaan aan die Taalunie geskryf om te vra waarom ‘n verteenwoordiger van PRAAG nie ook daarheen uitgenooi is nie. Bosma is Geert Wilders van die Partij voor de vrijheid se regterhand en lees gereeld Afrikaanse webwerwe.

Joseph Secrève, PRAAG-rubriekskrywer en -verteenwoordiger in Nederland, het Saterdag die byeenkoms van die Taalunie in Brugge bygewoon, maar is ietwat teleurgestel.

Hoe verklaar ons die kentering wat daar in Nederland plaasgevind het en watter lesse kan ons daaruit leer? Want ‘n bietjie soos by ons tans die geval is, is Nederland in die die sewentiger- en tagtigerjare bedwelm deur die daggawalms in Amsterdamse koffiekroeë en die neo-Marxistiese newels wat oor die kampusse en die media gehang het. Intussen het ons stamland egter deur die toedoen van Pim Fortuyn, Theo van Gogh, Geert Wilders en ander onverskrokkenes ontwaak en herontdek sy haar Westerse wortels en eie identiteit.

Ongelukkig bly Suid-Afrika ‘n antipode en beleef ons vandag ‘n links-liberale nagmerrie, soortgelyk aan die voormalige Oos-Europa. Ons ervaar dieselfe menseregteskendings, geweld, verkragtings, omgewingsverval, asook etniese en taaldiskriminasie wat soveel lande agter die eertydse ystergordyn gekenmerk het.

As linkse joernalis staan Scholtz afsydig teenoor Westersheid en het hy in ‘n rubriek gemeen dat die Islamisering van Europa niemand behoort te traak nie. Hy kan hom beswaarlik beroep op die Afrikaanse taalstryd aangesien sy eie bydrae daartoe nul is, benewens sy verguising en stigmatisering van Afrikanertaalstryders as “verregse rassiste”.

Ek kan onthou hoe mnr. Arrie Rossouw, toentertyd ‘n redakteur van Die Burger, ons tien jaar gelede uitgejou het toe ons Afrikaans as openbare taal op verbruikersprodukte gehandhaaf wou sien. Sedertdien het die linkse of “boheemse” Afrikaners soos oorlede Izak de Villiers hulle genoem het, net nog meer vyandig teenoor ons standaardtaal geraak en word mengeltaal aan ons opgedring.

Inderdaad het Scholtz in “die pragtige Middeleeuse Vlaamse stad Brugge” niks om te vier nie, want hy bevind hom in die argitektoniese erfenis van ons voorouers, wat die Afrosentriese leuen van ons tyd ontken. Afrosentriste soos Max du Preez en ander geesgenote van Scholtz beweer mos dat ons Westerlinge ons kultuur en tegnologie “uit Afrika gesteel het”.

Standaardafrikaans is steeds nader aan Middelnederlands as moderne Nederlands met sy magdom Franse leenwoorde. Daarvoor kan ons, helaas, nie apartheid blameer nie.

Die Afrikaner het geen ander keuse as om hom in die beweging vir die behoud van ‘n Westerse identiteit in Noord-Amerika, Europa en Australië in te werp nie. Die konflik wat ons in Suid-Afrika ervaar, is in die eerste plek ‘n kultuurkonflik, dié tussen Afrika en die Weste, tussen die Xhosa-Zoeloe-alliansie en die Afrikaner en ander blankes.

Net verlede week drink ek koffie saam met iemand van die Joodse Raad van Afgevaardigdes en onverwags bely hy teenoor my: “Ons vrees vir ons lewens in Suid-Afrika, nie as Jode nie, maar as blankes.”

Die botsing tussen Islam en die Westerse kultuur wat hom in Europa manifesteer, vind hier by ons plaas tussen die rasnasionalistiese swart elite en Suid-Afrika se oorblywende Westerlinge.

Net soos wat die Nederlanders ‘n grootse intellektuele en ideologiese beweging op tou gesit het en sodoende die openbare mening ten gunste van ‘n verdediging van die eie kultuur beïnvloed het, moet die Afrikaner so ‘n beweging in ons land aan die gang sit.

PRAAG is by uitstek die groepering wat die voortou hierin kan neem. Ons hele toekoms hang hiervan af.

wedding veil with tiaratopcargo отзывы сотрудников

Comments

Leave a Reply