praag.co.za

As die trieng-trieng stilraak

Written by

in

Herrie lees van die ontwrigting toe baie telefone in die Oos-Vrystaat nie wou werk nie…

Eers as iets nie werk nie, besef ‘n mens hoe afhanklik het ‘n mens daarvan geword. Is die krag af, wil ‘n mens kort-kort op die internet klim om by die kragverspreider se web te gaan kers opsteek, by wyse van spreke, hoe lank nog voor ‘n mens die kerse kan blus.

Of, as die telefone nie werk nie, ‘n mens ‘n sekere nommer moet bel om te rapporteer die ding werk nie. Nou, met selfone het ‘n mens ‘n ander alternatief as om ‘n tiekieboks te gaan soek vanwaar ‘n mens kan bel, maar dis tog vreemd hoe gereeld die selfoonsein ‘n skeet het as die landlyn gedooi het.

Maar oral is dit nie so maklik nie.

In baie dele van die land is daar nog nie regtig selfoonontvangs nie, en is die telefone nog die slingermodelle. Plek-plek, soos by Merweville, span die boere en die dorpenaars saam en sit hul eie selfoontoring op. Dié mense het net mooi genoeg gehad van dinge soos om ‘n gesteelde kaart met ‘n slingerfoon te rapporteer. Kom ‘n mens so al slingerend by ‘n nommer uit waar mens dit kan rapporteer kom die Ingelse spookstem op wat sê vir die en daai diens moet mens knoppie sus of so druk. Maar met ‘n slingerfoon – hoe nou gemaak?

Kom ‘n mens uiteindelik by ‘n menslike stem in Jaansberg uit, en ‘n mens verduidelik jou moeilikheid, dan lag daai een en sê :”You are lying, there are no such phones anymore.” En plak die foon neer.

En dis ongelooflik wat so ‘n plaaslyn alles kan oorkom. Van gesteel raak (ja, die boere het selfs by geleentheid ‘n vrou gevang wat saam met haar “werkers” draad gesteel het. Een klim die paal uit, en knip die draad. Terwyl hy nog afklim, het die ander die los punt aan die Landrover se “pully” vasgemaak en begin daai draad inkatrol). By geleentheid kla ‘n gearresteerde oorlat hy alleen in die sop is – sy base kom dan niks oor nie. Dié blyk toe ‘n poskantoorwerker en ‘n polisieman te wees. Dan is die draad weer af van te sterk wind wat ‘n boom oor die drade gewaai het, of sneeu wat dit gebreek het. Veldbrande kan ook korte mette van die draad en pale maak.

Dié plaaslyne het ook sakke vol staaltjies opgelewer, en daar waar nog steeds geslinger word, sal stellig steeds nuwe staaltjies uitkom. Afluistering is ‘n vreeslike euwel, maar darem … Herrie het al by ‘n paar geleenthede oornag waar die huismense – as die foon laatnag lui – stilletjie opstaan en die gehoorbuis gaan optel. So was daar dan gou brandslaners by ‘n veldbrand, of vroeg ‘n peuseldingetjie of selfs padkos by mense wat deur die nag slegte tyding gekry het, en vroeg in die pad moet val vir ‘n begrafnis.

Of, soos Kleinkoos wat sy pa van die universiteit af oplui om weer ‘n geldjie te telegrafeer, maar sommer by die skakelbord sal die tannie hom onderskep: “Hallo Kleinkoos, jou pa is nie op die plaas nie. Ek het hom nou net by die koöperasie sien instap. Ek sit jou sommer deur soontoe.”

Nou, as die foon dood is, is die internet gewoonlik ook dood, en so ook die faksmasjien. Tannie Wysie wat sorg dat die hele omgewing telefonies oor alles en wat nog ingelig is, is vreemd stil. Einde van die maand sal die kerk met minder moet las om die telefoonrekening te kan bykom.

Skielik is die wêreld nie meer ‘n neutedop nie – is die kinders oorsee werklik ‘n wêreld verwyder en kan daar nie ge-Skype word of e-pos gestuur word nie.

‘n Vriendin van Mev. Herrie het op haar plaas darem heel gawe selfoonopvangs gehad. Toe, op ‘n dag word hul toring “opgegradeer,” en van toe af moet sy buite gaan praat om ‘n sein te kry.

Omdat Herrie die meeste van sy werk met die internet doen, maak die Herries van die lugweë gebruik. Skielik, twee dae lank is daar niks – torings met die storms omgewaai. En die dag daarna is die telefoon dood. ‘n Draadjie agter ‘n kas losgegaan waar nie eens ‘n muis kan bykom nie.    

медицинскую справкуАлександр Фильчаков

Comments

Leave a Reply