praag.co.za

Tussen verraad en verdeeldheid

Written by

in

In navolging van Hein Zaayman se skrywe op Praag, Ons haat steeds verraaiers, kom die welbekende ondeug van die Afrikaner na vore, naamlik die opportunistiese verraad en daaruitvolgende verdeeldheid wat gedurig onder Afrikaners woed.

Ek lees nou die dag ’n paar geskiedkundige stukke hieroor om ’n beter beeld hiervan te verkry en die volgende belangrike punte het na vore gekom:

Tydens die Anglo-Boereoorlog het die verpleegster en medegevangene van Irene-konsentrasiekamp Johanna Brandt van Warmelo in haar dagboek geskryf oor hierdie verraad. Daar was verskillende redes gewees hoekom mense oorgeloop het. Sommige het gehandel uit gemeenheid, en het in die kampe gesorg vir die meeste verdriet onder hul mense. Dit was juis hierdie oorlopers wat die hardste opgetree het teenoor hul eie mense, soortgelyk aan die capo’s in Duitse en Poolse konsentrasiekampe tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hierdie segment van verraaiers is die groep wat die sielkundiges die meeste aan die praat het, en hul optredes kan waarskynlik die beste verklaar word in terme van ’n eiesoortige oorlewingstrategie. Hierdie groep word alreeds as verraaiers en oorlopers beskou deur hul eie mense en hulle kan nie meer reken op aanvaarding van die eie groep nie; van daar is die enigste alternatief om fanaties oor te hel na die vyand, want daar kry hulle beskerming. ’n Mens wonder natuurlik of hierdie mense besef dat geen volk in oorlog ’n verraaier as ’n held beskou nie, selfs al loop hy oor na jou kant toe. Die mensonterende toestande waaraan hierdie mense blootgestel word, werk nou eenmaal verhardend en polariserend en hierdie oorlopers het geen heil gevind om kant te kies teen hul eie mense nie.

Daar was ook die groep oorlopers wat geglo het dat om te kapituleer die beste manier was om die oorlog vinnig te beëindig en verdere leed in die konsentrasiekampe te bespaar. Soos Johanna Brandt van Warmelo geskryf het, het hierdie groep verraaiers totaal geen besef gehad hoeveel skade hierdie opvattings aan die gees en welsyn van die gevangenes berokken het nie. Om aan te hou veg, was omtrent die enigste sprankie hoop wat hulle gehad het. Mense het daagliks gesterf aan tifus en ontbering, en volgens die joernalis WT Stead het die Engelse doelbewus voedsel sterk gerantsoeneer vir siek kinders om hulle stadig en pynlik dood te maak; ’n gewetenlose oorlogsmisdaad met ander woorde (sien WT Stead se Methods of Barbarism).

Die suksesvolle propaganda wat die Engelse gebruik het, het ook veroorsaak dat sommige stryders makliker oorgegee het. ’n Mens kan egter in oorlogstyd altyd reken op ’n sekere persentasie volksgenote wat die ander kant kies. Dikwels loop hulle oor na diegene wat hulle – dink hulle – van ’n daaglikse porsie kos kan voorsien.

Die oorlopery sedert die ABO is egter van ’n ietwat ander aard as die verraad en verdeeldheid in Afrikanergeledere  in die latere jare, wat gekulmineer het in die groot verraad van De Klerk en Meyer tussen 1990 – 1994. Sedert die dertigerjare het die Afrikaner finansieel die mas begin opkom, en soos wat die beleggings en finansiële belange van Afrikaners begin groei het, het dit onafwendbaar verstrengel geraak in die finansiële wêreld van die geldmagte. Verwoerd het nog in die jare vyftig hierteen gewaarsku, aangesien die geldmagte se belange direk teen die belange van die Afrikaner se volkswording indruis. Dit is origens ook die rede waarom Verwoerd gepoog het om beleggings in die tuislande te ontmoedig, nie omdat hy swartes na ’n bankrot tuisland wou stuur nie, maar juis om die kragte van ultrakapitalisme buite die deur te hou. Swartes is natuurlik die perfekte kanonvoer vir die ultrarykes, en as beleggings in die tuislande toegelaat sou word, sou dit net ’n kwessie van tyd wees of hulle sou ook kant begin kies het teen Verwoerd, op die koste van beleggers en gewetenlose geldskieters in die buiteland.

As dit nie was vir die uitmekaargroei van Afrikaners tydens hierdie periode van finansiële opbloei nie, sou die verset en saamstaan waarskynliker stewiger gewees het en sou De Klerk heelwat versigtiger moes omgegaan het met die belange van sy eie mense, verwysende na die verskrikking van verraad tydens die Anglo-Boereoorlog.

Dit verklaar ook waarom Afrikaners ten tye van nood juis skerp verdeeld is in plaas daarvan dat hulle saamstaan. Die magtigste lede van die volk is verswelg deur groter kapitaalbelange terwyl ongeveer een derde van hul eie mense ondertussen in plakkerskampe moet oorleef. En net soos tydens die Anglo-Boereoorlog, sterf oumense en kinders nou stadigaan weens ondervoeding. Plakkerskampe is die konsentrasiekampe van ons tyd.

Wat sake moontlik nog sal vererger, is dat die Europarlement ’n mosie aangeneem het om alle vorme van nasionalisme en populisme teen te werk. Dit is juis hierdie tydsgees wat gaan maak dat hulle vanuit ideologiese beginsels geen belang daarby sal hê om die Afrikaner se leed raak te sien nie. Die enigste manier hoe ons Europa se aandag hierop kan vestig, is deur soveel moontlik die media se aandag hierop te fokus. Betogings is ’n moontlike begin, maar oor die algemeen is Afrikaners te beleefd vir sulke optredes. Daarom moet ons soveel moontlik politici hiervan op die hoogte stel en hulle herinner wat in Zimbabwe gebeur het. Die kans bestaan dat hulle die noodsaak hiervan sal insien en stilletjies agter die skerms sal agiteer vir meer regte vir die armblankes. Gelukkig is nie almal in die wêreldpolitiek gewetenloos nie.

’n Ander taktiek kan wees om die nuwe grootbelegger in Afrika, naamlik China te oortuig van die Afrikaner se bereidwilligheid om hard te werk en die Chinese op die hoogte te stel met hul insigte in Afrika se politiek en kultuur. As ons ons kaarte slim speel, kan ons vir hulle ’n groot bate wees wat sal maak dat hulle die ANC-terroriste onder druk sal plaas om die Afrikaner meer regte en waardigheid te gun.

Waar Engeland en die groot moondhede al meer as ’n eeu besig is om die siel van die Afrikaner te vernietig, stel jou voor die groot ironie as China met hul eindelose stroom kapitaal hierdie breuk sou begin genees.

Om die woorde van Van Wyk Louw te leen:  ”Ek glo dat op ’n vreemde manier dit die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend te voorskyn kom.”

одежда для девочек школьная формаДанильченко Юрий прокурор

Comments

Leave a Reply