praag.co.za

ANC-adel

Written by

in

Die wye magte wat ‘n regeringshoof het om sy kabinet saam te stel, stel hom of haar in staat om die beste mense vir hierdie hoë ampte aan te stel. Dit gebeur egter nie altyd nie, omdat alliansies, vertrouensposisies, koalisiereëlings en vele meer ook ’n rol speel in die finale samestelling van ‘n land se hoof-uitvoerende liggaam.

Die staatkunde is dus gesaai van voorbeelde van onbekwame ministers wat skynbaar onaantasbaar was – wat reputasies vir verbreekte beloftes gehad het en selfs vir regerings ‘n liederlike klip in die maag geword het, maar skynbaar net mooi niks kon doen om die trekpas te kry nie.

Die kollig het pas weer op hierdie beginsel geval toe pres. Jacob Zuma ter wille van opgeskerpte dienslewering, soos hy dit gestel het, sy kabinet taamlik drasties aangepas het. Van die grootste loodswaaiers of duidelik onbekwames het die trekpas gekry, maar dat dit duidelik nie al norm was nie, blyk daaruit dat ook betreklik bekwames die deur gewys is, en ander wat bekend is vir onbekwaamheid, blykbaar onaantasbaar is.

Pres. Zuma het nogtans ‘n tradisie verbreek van waar uiters konserwatief met kabinetskommelings omgegaan is, en verleentheidwekkende ministers en dooie hout lang tye die land se ontwikkeling rysmier.

Dié tradisie het in 1994 met oud-pres. Nelson Mandela se kabinet beslag gekry. Van die insluitings in die kabinet was opsigtelike balanseertoertjies. In die eerste plek moes ruimte gemaak word vir die insluiting van persone uit die vorige bedeling wat in die regering van nasionale eenheid moes dien. Tweedens is mense ook uit ‘n ander, destyds, belangrike magsblok, die IVP ingesluit.

Daar was dadelik ‘n prys te betaal. Die departement van Binnelandse Sake sukkel steeds om die gevolge van sy eerste minister af te skud, terwyl nog ‘n IVP-portefeulje, Kuns en Kultuur, gou agtergekom het hoe die wind sou waai. Sommer met die eerste hersamestelling van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument se raad, het bekende kundiges nie die paal gehaal nie en is deur haas onbekende Zoeloes vervang.

Dit verg egter bietjie meer antropologiese kennis om nog ‘n aspek van ‘n post-1994-kabinetsamestelling te begryp. Bitter min is hieroor op skrif omdat die woord “tribalism” vir alle praktiese doeleindes vir die ANC ‘n vloekwoord is. Die impak hiervan is dus nie so opsigtelik nie.

Tog bly die impak daar, naamlik om ook so ver moontlik ministers aan te stel om die verskillende stamme in te bind. Hierdie mense kom dikwels uit die adelstand wat met die tradisionele huise verband hou. By die Zoeloes is daar danksy Tsjaka en Dingaan in effek net een koningshuis, maar by die Xhosas en Tswanas veel meer. Trouens, die skatryk Tswana-stam, die Bafokeng, lewer heelwat bruide op vir die koninklike families in ander, dikwels onverwante stamme. So word alliansies ingebind.

Baie van die Xhosa-sprekende elite kom uit dié adelstand, waaronder beide Mandela en sy vorige vrou, Winnie. Danksy staatstoelaes aan tradisionele huise het hierdie adel ook dikwels meer opvoedkundige geleenthede as ander gekry.

Met Zuma se verkiesing tot president het hierdie balanseertoertjie weens verskeie faktore onder druk gekom. Zuma het homself as a “100 % Zulu boy” beskryf, en spoedig was daar ‘n groot instroming van Zoeloes in hoë poste en ampte. Dit bly nie net by die hoogste politieke aanstellings nie, maar kolk dieper soos met die huidige bewerings oor aanstellings deur die nasionale polisiekommissaris.

Daar is egter ‘n perk en van die ou tradisionele Xhosa-greep op die ANC in die parlement is nog min oor.  Die ANC sal nie graag ‘n grootskaalse etniese drostery wil sien nie, en daarom sal die Sisulu’s as belangrike inbindfaktor onaantasbaar bly. Met die vorige verkiesing het die ANC inderdaad landswyd steun verloor, maar oorhoofs bestendig gebly weens ‘n 30 persent toename in steun uit die Zoeloe-wêreld, waar die IVP erg geknou is.

Of hierdie soort bestendigheid bekostig kan word, is ‘n goeie vraag. Suid-Afrika se onderwysstelsel spook steeds om die Bengu-spook af te skud, en is nou al by verskeie van sy bure agter.

лестницу вОлександр Васильович Фільчаков

Comments

Leave a Reply