Ek en ‘n kollega van PRAAG is tans op ‘n toer deur die suide van Amerika. Trouens, ek sit hier op ‘n vliegtuig tussen Charlotte, Noord-Carolina en Atlanta, Georgia en tik op my dwergrekenaartjie wat my oral soos ‘n selfoon vergesel. Soos ons gasvrou in die staat Mississippi opmerk, “het ons Amerikaanse suiderlinge en julle Afrikaners baie in gemeen: ons is albei op ‘n stadium deur die Weste verwerp en het soveel van ons instellings aan ander moes afstaan”.
Daar is natuurlik opvallende verskille tussen Afrikaners en Amerikaners ook: die VSA is enorm groot en sy ekonomie verdwerg eenvoudig ons s’n. Daarby is die Amerikaner moontlik meer materialisties as die Afrikaner. Maar op ‘n Sondag is Charlotte omtrent ewe rustig as Bloemfontein, ‘n teken van die Protestantse geloof wat in die VSA sekerlik nog ewe sterk as onder Afrikaners staan, terwyl Wes-Europa natuurlik sedert die Franse revolusie merendeels gesekulariseer en agnosties geraak het.
Ten minste sedert die negentiende eeu, toe die stand van swart slawe in die suide een van die aanleidende oorsake – sommige sê dit was ‘n blote verskoning – van die Amerikaanse burgeroorlog was, maak die rassekwessie deel van die Amerikaanse politiek uit, nes by ons. Maar – en dis nog ‘n verskil – terwyl die Afrikaner in sy siening veral op die kultuurverskille tussen hom en die swartman van Afrika gefokus het, het die Amerikaner hom daarop toegespits om die fisieke, biologiese en kognitiewe verskille tussen die verskillende rasse te ontleed.
Vandaar ‘n groep soos American Renaissance wat onder leiding van die skerpsinnige Jared Taylor sedert 1990 met hernieude ywer die feite rondom rasseverskille in Amerika bespreek en bekendstel. Soos vele suiderlinge, stel Taylor intens belang in Suid-Afrika en die lot van Afrikaners wie se voortbestaan tans deur die ANC se rasse-ideologie van transformasie bedreig word. Reeds sedert 2004 toe ek ‘n artikel vir American Renaissance se gelyknamige tydskrif geskryf het, is ek gereeld uitgenooi om toesprake of referate by die groep se tweejaarlikse konferensies te kom lewer.
In sekere opsigte is die VSA ‘n ewe groot paradoks as Suid-Afrika: ‘n mengsel van eerste wêreld en derde wêreld. Op die lughawe van Atlanta waar ons so pas geland en weer na Memphis opgestyg het, is die bevolkingsamestelling nie veel anders as dié wat ‘n mens op die lughawe in Johannesburg sou aantref nie. Die onderliggende spanning wat “diversiteit” – ‘n term wat natuurlik in sy liberale sin al holruggery is – veroorsaak, neig in sowel ons land as in Amerika om die normale gesprek, kultuur en nasionale identiteit in die wiele te ry.
Hoewel Amerika steeds die land ter wêreld is waar spraakvryheid die beste deur die sogenaamde “eerste wysiging” aan hul grondwet beskerm word, het ‘n sinistere vorm van sensuur oor die afgelope jare kop uitgesteek. Linkse drukgroepe het in sowel 2010 as 2011 die tweejaarlikse konferensie van American Renaissance verhoed deur dreigemente teenoor die hotelle te maak waar dit gehou sou word, selfs doodsdreigemente en ander beloftes van geweld.
Daarom was die konferensie wat ek in Charlotte, Noord-Carolina bygewoon het, slegs beperk tot die sprekers en enkele oorsese besoekers, waaronder Australiërs, Kanadese, Franse en Vlaminge. Video-opnames van die konferensie gaan egter op die internet beskikbaar wees. Die leier van die Vlaams Belang uit Vlaandere, Filip Dewinter, was ingeslyks ‘n genooide spreker by die konferensie.
Vir my persoonlik is American Renaissance se konferensies altyd fassinerend en dié slag was geen uitsondering nie. Onder andere het ‘n Indiaan, dr. David A. Yeagley gepraat oor die onderwerp “’n Comanche-siening van blanke Amerika”. Tydens sy toespraak meen Yeagly: “Die blanke Amerikaner is die Indiaan van die een-en-twintigste eeu wie se voortbestaan voortaan bedreig word.”
Hoewel Amerika in sekere opsigte onder die Obama-regering meer polities korrek geraak het – Jared Taylor meen egter dat Hillary Clinton as president ‘n veel meer anti-blanke program as Obama sou gevolg het – is daar tog toenemend ‘n besef dat swart prestasie op alle gebiede behalwe sport veel te wense oorlaat. Daar is selfs rubriekskrywers in die wêreld se grootste liberale koerant, die New York Times, wat dit toegee en wil hê dat die Amerikaanse staat ‘n groot deel van swart ouers se funksies moet oorneem om hul kinders van kleins af op te voed. Nie net het swartes soos in Suid-Afrika blanke “mentors” nodig as dit by boerdery en ander bedrywighede kom nie, maar hulle benodig selfs blanke teosighouers as dit by die grootmaak en opvoeding van hul kinders kom; aldus die New York Times!
Spraakvryheid was altyd die prerogatief van kommuniste en pornograwe, wat die grootste aanspraak daarop gehad het. Soos Max du Preez egter ‘n jaar of meer gelede in ‘n Johannesburgse boekwinkel gesê het, “is die internet oorgeneem deur rassiste en fasciste”. Soos die meeste dinge wat Max kwytraak, is dit nie waar nie, maar die internet word tog veel minder as die tradisionele media beheer en gesensureer. Heelwat nuus en menings wat deur die massamedia verswyg word, word via die internet wêreldwyd versprei. In die buiteland en in die VSA is daar byvoorbeeld geen verwysing na plaasmoorde in Suid-Afrika nie. Maar danksy die internet en sosiale media soos Facebook en Twitter, raak meer en meer Amerikaners ingelig oor plaasmoorde en ander gruweldade wat in Suid-Afrika teen veral Afrikaners gepleeg word.
By die konferensie op Charlotte was heelwat jongmense ook teenwoordig, selfs ‘n jong Australiër wat sy pa oortuig het om al die pad van ‘n klein dorpie in Nieu-Suid-Wallis af te reis om die gesprekke oor rasseverhoudings in die VSA, Suid-Afrika en Europa te kom aanhoor. Jong, intellektuele Amerikaners by die konferensie was insgelyks begeesterd daaroor om die Westerse beskawing van ondergang te red en om iets vir ons Afrikaners in Suid-Afrika te doen.
Myns insiens was daar nog nie sedert die dae van Paul Kruger en die Tweede Vryheidsoorlog potensieel soveel simpatie vir Afrikaners in die buiteland soos tans nie. Alle redelike mense besef watter groot onreg ons ly en dat die verskriklike geweldsmisdaad wat ons verduur eintlik die beginstadium van ‘n volksmoord teen ons verteenwoordig. Die groot uitdaging vir ons is om daardie simpatie in aktiewe politieke en finansiële steun vir ons saak om te skakel.
Tans is ons in Southaven, Mississippi, digby die grootstad Memphis wat net oorkant die grens in Tennessee geleë is. Memphis is natuurlik waar Elvis Presley vandaan kom en by die lughawe basuin ‘n kennisgewing dit trots uit: “Welkom te Memphis, die geboorteplek van rock ‘n roll.”
Intussen het ons nog ‘n uur teenoor Suid-Afrika verloor en verkeer in die sentrale Amerikaanse tydsone wat die tydsverskil nou agt ure maak.
Behalwe Elvis, is ‘n mens hier in die suidelike state intens bewus van die geskiedenis en ‘n naam soos die Konfederale generaal Robert E. Lee duik omtrent ewe veel in die geselskap op as De Wet of De la Rey in Suid-Afrika. Die tragiese geskiedenis van die Amerikaanse suide wat eers ‘n oorlog teen die noorde in die 1860s verloor het en ‘n honderd jaar later dieselfde soort rassetransformasie as Suid-Afrika sedert ’94 moes ervaar, toon frappante parallelle met ons eie geskiedenis.
Terwyl die suide ook jare lank landbougebied was, met swart slawe wat ewe seer as ons swartes onder feodale omstandighede op die katoenplase gewerk het, het vele van die maatskappye hier tot globale reuse ontwikkel soos Coca-cola in Atlanta of Federal Express in Memphis. In weerwil van die ekonomiese krisis van die afgelope paar jaar in die VSA, bly mense hier welvarend. Net soos Swede en die Anglikaanse kerk in Brittanje die ANC se propagandaveldtog teen die ou NP-regering in Suid-Afrika gefinansier het, moet ons sorg dat simpatieke lande en streke soos die Amerikaanse suide ons huidige stryd om oorlewing moreel en finansieel ondersteun.
Ek was nooit beïndruk deur ons destydse diplomate toe die Broederbond en Nasionale Party in ons land septer geswaai het nie. ‘n Swak, onintelligente, konformistiese en kruiperige tipe Afrikaner het ons volk toentertyd in die buiteland verteenwoordig. Soveel geleenthede het deur ons vingers geglip en uiteindelik het ons die propaganda-oorlog verloor sodat ons land deur verraad en lafhartigheid op ‘n skinkbord aan die radikale ANC oorhandig is.
Vandag het ons egter weer ‘n geleentheid om ons saak aan die wêreld te stel. Die hele Amerika lê braak wat dit betref. Dit hang van ons af of ons die inwoners van die rykste en magtigste land ter wêreld wil oortuig dat Afrikaners, soos Kosowo onlangs, hul vryheid behoort te kry.
Oor slegs enkele dae sal ons in Washington wees waar ons met sowel Demokratiese as Republikeinse senatore oor die vertrapping van ons menseregte deur die ANC gaan gesels. Amerikaanse wetgewing en senaatsbesluite verplig Washington om in te gryp waar etniese konflik of volksmoord in ander lande dreig. Soos in die dae van apartheid toe die swart koukus van Suid-Afrika ‘n groot politieke kwessie in Amerika gemaak het, moet ons sorg dat die VSA uiteindelik ingryp om ons as blanke minderheid te beskerm en weer vry te maak.
Gegewe die swaai na regs in Amerika, met die opkoms van die Tea Party en die intellektuele onverskrokkenheid van groepe soos American Renaissance waarvan die denke stadig maar seker die hoofstroomopposisie teen Amerikaanse liberalisme binnesypel, is dit meer as moontlik vir ons om die ANC hier in Amerika die loef af te steek.
Wat ek nie mooi kan verstaan nie, is hoe Afrikaners so dikwels al die wêreldbeker in rugby kon wen, die eerste hartoorplanting kon doen of by verre die suksesvolste staat in Afrika kon bou, maar ons glo nie meer in onsself as dit by politiek en internasionale betrekkinge kom nie. Waarom? Eens op ‘n tyd het ons mense soos Jan Smuts of Hendrik Verwoerd gehad wat in hul tyd vir geen internasionale staatsman teruggestaan het nie en dinge so kon plooi dat Suid-Afrika of die Afrikaner se belang geseëvier het.
Op al my reise die afgelope paar maande, na Europa in Mei verlede jaar, na Israel in Julie en Egipte in Desember, asook die VSA tans, het ek onder die indruk gekom dat ‘n opwindende tydvak vir ons voorlê. Die Amerikaanse en wêreldpolitiek verander baie vinnig – in ons guns!
Vir eens moet ons al die mislukkings van die verlede vergeet en weer in onsself begin gló! Ons kán! In Washington sal ek my beste voet voorsit om die saak vir ons volk met waardigheid en oorwoë argumente te stel. Behalwe die amptelike afsprake op Capitol Hill, het ‘n groepie Amerikaners wat Afrikaners wil help ons ook vir middagete in ‘n historiese restaurant in die hartjie van politieke Washington genooi.
Hier vanuit die Amerikaanse suide dink ek aan die ander “verre suiderland” in Van Wyk Louw se gevleuelde woorde waar soveel van ons mense vandag in angs en wanhoop oor die toekoms verkeer. Soos die Amerikaners ook so dikwels sê: “Mislukking is nie ‘n opsie nie.” Elke uur, elke dag, moet ons daaraan werk om weer vryheid te verkry.
Southaven, Mississippi, 8 Februarie 2011
