In antwoord op onlangse kommentaar op die Praagwebwerf: ek verstaan glad nie waarom ons onder mekaar moet baklei oor Boer en Afrikaner nie. Die meeste mense verwys soms na hulself as “Afrikaners” en soms as “Boere”, net soos die Engelse soms “Engelse” en soms “Britte” is of die Franse soms “Franse” en soms “Galliërs”. Jy vra hier onder wie eerste die term “Afrikaner” gebruik het. Dit was natuurlik Hendrik Biebouw of Bibault in 1707 op Stellenbosch toe hy vir die landdrost gesê het: “…ik wil niet loopen, ik ben een Afrikaander, al slaat die landdrost mijn dood, of al setten hij mijn in den tronk, ik sal, nog wil niet swygen”.
Ek vind hierdie ‘n futiele debat; ons het soveel belangriker dinge om op te fokus. Soms vermoed ek die “Boer-Afrikanerstryd” word deur elemente in die regering aangeblaas om ons te verdeel. Maar ek is geneig om met Vryburger saam te stem: die Afrikaner kan gedefinieer word op grond van taal, kultuur en afkoms, terwyl enige poging om binne die Afrikanergroep ‘n klompie uitverkorenes as “Boere” te omskryf, stuit op die feit dat daar nog nooit ‘n verdelingslyn tussen Afrikaners en Boere geloop het nie, dat hulle ondertrou het, dieselfde taal praat en van dieselfde Europese volkere afstam.
Vryburger is ook heeltemal reg dat die “Boereleiers” in 1902 oorgegee het en in 1910 ingestem het tot die Unie. Ook het ‘n spul “Boere” hanskakies, verraaiers en National Scouts geword, dus kan ons hulle kwalik as ideologies suiwer beskou.
Feit is dat die term “Afrikaner”, wat in 1707 deur Bibault gebruik is, in die twintigste eeu deur die oorgrootte meerderheid van ons volk aangeneem en gebruik is. Al ons groot skrywers en staatsmanne soos Van Wyk Louw, CM van den Heever, JBM Hertzong, DF Malan, HF Verwoerd, ens., het hulself “Afrikaners” genoem, dog sonder om die term “Boer” daarme te ontken. Toe die Amerikaanse tydskrif Time in die sewentigerjare na ons as die “white tribe of Africa” verwys het, het hulle ons ook “Afrikaners” genoem.
Ons identiteit as volk – soos dié van talle ander volkere – is eers in die twintigste eeu gevorm deur die grootse Afrikanernasionalistiese beweging, met die simboliese Ossewatrek van 1938, die opbloei van ons taal, letterkunde en geskiedskrywing. In die negentiende eeu was dit net die Ttransvaal wat Nederlands as amptelike taal gebruik het, terwyl die Vrystaat Engels as administrasietaal aangewend het. In dié opsig was sowel Paul Kruger as SJ du Toit, die eertydse voorsitter van die Genootskap van Regte Afrikaners, versiende en het die verwikkelinge in die twintigste eeu vooruitgeloop.
Ek weet Lets Pretorius en ander beskou hulself as uitverkore “Boere” en wil voorgee dat De Klerk sogenaamd ‘n “Afirikaner” was wat ons uitverkoop het. De Klerk beskryf homself juis as ‘n Suid-Afrikaner en wil nie sien dat Afrikaners as ‘n groep hul van die sogenaamde “reënboognasie”:afsonder nie. Lets Pretorius en kie. is dus ook hierin verkeerd. Let ook daarop dat Naspers die term “Afrikaanse” verkies waardeur hulle ons, in die woorde van Leopold Scholtz, adjunkredakteur van Die Burger, met die kleurlinge wil laat “versmelt”. Ook die hoof van RSG, Magdaleen Kruger, het in die openbaar verklaar: “Ek is geen Afrikaner nie.”
Om ‘n volk te wees, behels veel meer as om vir jouself ‘n naam te kies en daar is geen manier waarop die klein aantal mense, hoofsaaklik vanuit die Noord-Transvaal (en wat vandag vir die liberale party, die DA, stem!) wat hulself uitsluitlik as “Boere” identifiseer, iets soortgelyks aan Afrikanernasionalisme in die twintigste eeu sal kan ewenaar met ‘n letterkunde, geskiedskrywing, regspraak, teologie, vollksliedere, ens. nie. Twee van my oupagrootjies was in die Tweede Vryheidsoorlog betrokke en daarom sou geen “Boer” my kon ekskommunikeer nie, maar as ek dan móét kies, is “Afrikaner” vir my ‘n meer verenigende term as “Boer” wat tans gebruik word – en ek vra my af hoekom? – om ons te verdeel. Ons moet ook poog om van die tweetalige Engelssprekendes aan ons kant te kry en Hertzog was destyds bereid om elke inheemse blanke as “Afrikaner” te aanvaar. Ons moet ook besef dat ons in die toekoms weer Europese immigrante uit ons stamlande sal moet verkry, wat insgelyks by ons as “Afrikaners” sal moet integreer, soos vele in die twintigste eeu ook gedoen het. Die eksklusiewe manier waarop die “nuwe Boere” met hul nuutgevonde identiteit omgaan en selfs medevolksgenote en eie bloedfamilie wil uitsluit, maak so iets nie moontlik nie.
Ek wil nie Albert se gevoelens seermaak nie en as hy homself ‘n “Boer” wil noem, is dit sy saak. Maar my versoek is: rig asseblief jou vuur op die ware vyand en nie op Afrikaners nie, want ons vryheidstryd is een en dieselfde. Lees ook my vorige kommentaar op dié kwessie by die volgende skakels:
Asook die volgende stuk deur Anton Barnard:

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.