Terwyl Indië in Durban skynbaar voor ‘n tuisskare in ‘n kriekettoets speel, skryf Die Burger se rubriekskrywer, Ilse Bigalke oor die jammerte dat uitsprake in Suid-Afrika so verdelend inwerk.
Of die uitsprake die oorsaak of gevolg van verdeeldheid is, en of dit ‘n groter impak op verdeeldheid het as byvoorbeeld plaasmoorde, is ‘n ander vraag. Vanoggend slaan so ‘n voorbladberig juis weer ‘n dagblad se lesers hard.
Terug na Indië: Indië, soos Suid-Afrika, is ‘n heterogene land wat deur ‘n groot aantal volke bewoon word. Afgesien van taalverskille, is daar ook onder meer godsdiensverskille, terwyl die ou kastestelsel steeds ‘n informele impak het. Wat diversiteit betref, kan dit egter nie met Suid-Afrika vergelyk word nie.
Tog bestaan die vreemde situasie dat Indië grondwetlik ‘n etniese federasie is, terwyl Suid-Afrika ‘n eenheistaat is. Kommentators soos Bigalke verwoord voorts dat om spanning te ontlont, hierdie eenheid nog nouer moet word.
Baie word gereeld gemaak oor die feit dat Suid-Afrika se grondwet veel aan die Indiese ontleen het. Dit het egter meestal om die handves van Menseregte betrekking. Staatkundig staan die Suid-Afrikanse grondwet nader aan dié van Sri Lanka waar die diversiteitsprobleem, vir die huidige, sogenaamd opgelos is deur die Tamils militêr te verslaan.
Al het die Indiese volke binne die federale raamwerk grootliks selfbeskikking, sodat daar sedert implementering van tyd tot tyd nog etniese deelstate ontstaan, sal niemand aanvoer dat Indië in die proses interne vrede beduiwel, nasionale eenheid rysmier of apartheid beoefen nie.
Trouens, Indië is een van die lande wat ook vir korporatiewe federalisme of selfbeskikking voorsiening maak. Indië se oorspronklike nie-Indiese inwoners het onder meer ‘n aantal gewaarborgde setels in die nasionale parlement. Nog ‘n land wat so voorsiening maak vir ‘n minderheid wat te verspreid woon om sinvol geografies ondervang te word, is Nieu-Seeland met sewe gewaarborgde Maori-setels in die nasionale parlement en ‘n Maori-kongres of parlement.
Nigerië het na die Biafra-oorlog ook soos Indië vroeër, sy deelstaatgrense gaan hersien om dit meer in ooreenstemming met die verspreiding van die bevolkingsgroepe te bring – juis om spanningsvlakke te verminder. En al praat die toeskouers van Indiese herkoms in Durban ‘n tiental tale, al beoefen hulle verskillende godsdienste, ondersteun hulle 150 jaar nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het die spanne van die Indiese subkontinent. Skaars ‘n wenkbrou word gelig – heel anders as wat die geval was toe baie Afrikaners tydens die groot sokker openlik vir stamlande soos Duitsland en Nederland begin duime vashou het, in plaas van vir Ghana soos in effek deur die regering voorgesê is.
Is die gedagte aan etniese federasies en selfbeskikking grondwetlik verouderd of verkramp? Indien wel soos Suid-Afrikaanse rubriekskrywers graag opgee, gaan vertel dit vir die Belge, gaan vertel vir die Skotte hulle moet hul eie parlement weer ontbind. Gaan vertel vir die Baske hulle moet nou hul eie identiteit afskud en goeie Spanjaarde word. Probeer die Europese Unie oortuig om sy grondwet te wysig wat bepaal deelnemende state moet hul minderhede se reg op selfbeskikking erken.
Hoeveel afvaardigings gaan nog die Ivoorkus besoek om die onklarigheid oor die presidentsverkiesing te probeer oplos? Die Ivoorkus is maar een van ‘n rits Wes-Afrikalande waar die suide van die lande van dié van ‘n meer Moslem-noorde verskil, ‘n situasie wat min of meer met dié van die Soedan ooreenkom.
Hoekom dan die voorliefde by Suid-Afrikaanse rubriekskrywers om as vertrekpunt te aanvaar dat die oplossing lê in die negering van diversiteit, eerder as om dit staatkundig te ondervang?
In Engels is daar ‘n spreekwoord wat lui: As jy ‘n voëltjie het, laat dit vry. As dit terugkom na jou toe, is dit joune. As dit nie terugkom nie, was dit nooit joune nie.
Met die argumente in die aktetas om die vraag oor hoe dit fatsoenlik aangebied moet word om inskiklik aangehoor te word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.