Verskillende ontleders en kommentators is nou besig om te werk aan hul vooruitskouings vir 2011. Dit is ‘n komplekse proses waar ‘n massa inligting verwerk en vertolk moet word.
Teoreties bied die behavioralistiese benadering die mees betroubare scenarios. Veral politieke sosioloë onderwerp ‘n groot hoeveelheid inligting aan ‘n stelsel wat dan waarskynlike opsies bied van hoe die wêreldgemeenskap of die inwoners van spesifieke lande gaan reageer.
Dis ‘n doodveilige oefening, want niemand verwag dat iemand volkome reg in hierdie figuurlike kristalbal gekyk gaan kry nie. Politici, ekonome, en ander vakkundiges sal ewe-eens hul eie modelle inspan.
Om akkurate projeksies oor Suid-Afrika te maak is dus net so moeilik. Suid-Afrika is waarskynlik een van die mees heterogene lande ter wêreld, geografies taamlik geïsoleerd, maar tog in baie opsigte internasionaal verweef.
Baie Suid-Afrikaners wat in die middel van die jaar nog eufories uit hul velle was terwyl die sokker aan die gang was, kan eenvoudig nie verstaan hoekom hulle nou deur ‘n negatiewe of selfs pessimistiese fase beweeg nie. Dit is egter geen geheim nie. Sosioloë en sielkundiges het dié verskynsel immers reeds voor die groot sokker voorspel en die redes verskaf. Verskillende kenners gee hierdie post euforiese trauma of depressie verskillende name, maar dit het in wese die karakter dat die werklikhede van korrupsie, misdaad, slaggate en gespanne tussengroepverhouidings as antiklimaks teruggekeer het, en vorige negatiewe perspsies verdiep het. Saam met die voor-sokkerrealiteite het ook plaasmoorde met mening teruggekeer.
Die omvang van die ABSA-transformasiedebakel en die Annelie Botes / Steve Hofmeyr-storms kan deels hierin verklaar word.
Dit sal ook nie sommer verdwyn nie. ‘n Landswye verkiesing gaan plaasvind en politieke partye gaan op mekaar se foute teer. Cosatu beding sy invloed in die ANC-alliansie en beklemtoon ‘n ou werklikheid wat lank effektief in die doofpot was … die land se armoedegaping wat die grootste meetbare ter wêreld is. Politieke sosioloë noem dit die model van relatiewe deprevasie, en gebruik dit om ‘n revolusionêre klimaat te meet.
Vanjaar is die Indiërs se koms na Suid-Afrika se 150ste herdenking gevier. Vanuit Indiërgeledere, maar ook vanuit die regering, is gemaan dat dié vieringe by breër Suid-Afrikanerskap geïntegreer moet word. Op die oomblik speel Indië in Durban in ‘n “tuistoets” – iets wat dieperliggender probleme skep as wat politiek korrek aanvaar word. Selfs die rubriekskrywer, Heinrich Wyngard, het terloops verwys na die diskrepansie van die vieringe rondom die Indiërs, terwyl die oorspronklike bevolkings, die Koi en San en hul nageslag – die bruin mense – se teenwoordigheid by wyse van spreke in die skaduwee staan.
Hoewel die bruin mense waarskynlik nooit polities onder een vaandel gestaan het nie, was baie – ook via die ou UDF – binne die ANC dampkring. Elemente van vervreemding raak al hoe duideliker. Vroeër vanjaar het prof. Jakes Gerwel in sy Rapportrubriek so ver gegaan om te skryf dat die ANC dalk ‘n vrotsige regering mag wees, maar beswaar gehad dat dit as landsvyande beskou word. Die effektiewe verdwyning van die ID in die DA, en die Wes-Kaapse ANC-leierskapstryd wat in wese ‘n bruin-swart stryd is, dra by tot ‘n politieke landskap in transito.
Veral in internet-blogs word nog ‘n element gaandeweg duidelik, wat grootliks by die wit gemeenskap ‘n rol begin speel. Dit is die impak van diaspora. Uit die mees klassieke gevalle, bv die Jode, Iere, die Armeniërs en Tamils kan sekere projeksies begin gemaak word oor hoe dit Suid-Afrika kan raak.
In sommige gevalle, soos die Tamils, Iere en tot ‘n paar dekades gelede die Armeniërs, was die mense in diaspora waarskynlik meer radikaal oor wat hul volksgenote in onderskeidelik Sri Lanka, Noord-Ierland en Turkye te beurt geval het en het dit bygedra tot vorme van gewapende konflik.
Terwyl dit nog waarskynlik vergesog is om vergelykings te tref, maak dit al ‘n groot deel van die warmbloedige debatte op die internet uit.
Die dinamika binne die ANC is self baie vloeibaar, onder meer weens wat baie waarnemers as swak leierskap van pres. Jacob Zuma beskou. Pas het Bantu Holomisa nog ‘n prominente stem geword wat gekla het dat die land in wese onder Zuma besig is om danksy die voorkeur vir Zoeloes in hoë aanstellings, ander bevolkingsgroepe soos vreemdelinge te hanteer.
‘n Onlangse meningspeiling dui ook aan dat betreklik min Suid-Afrikaners hulle in die eerste plek met hul Suid-Afrikaanse identiteit identifiseer, en dat ook ‘n groot persentasie swart mense hulself in die eerste plek as Afrikane beskou.
Dit raak pynlik duidelik dat ontleders wat weens ideologiese sentiment of politieke korrekte oorwegings die heterogeniteit van die land onderskat, maar hul politieke kristalballe kan weggooi.
Vanjaar het besonder baie plaasgevind wat die persepsie van die grondwet as finale veiligheidsnet onder verdenking geplaas het. Veral in ‘n heterogene samelewing is die grondwet ‘n belangrike instrument om diversiteit rustig te bestuur, en hier haper iets … hetsy ‘n minder goeie grondwet as wat graag voorgehou is, of ‘n gebrekkige grondwetlike verbintenis deur die regering soos met gedagtes oor grondhervorming, taalkwessies en mediavryheid, of beide.
Die hantering van die Malema-verskynsel bring ook nie rustigheid nie.
Wanneer hierdie spinnerakke verwerk is, sal die ontleders begin soek na die ligstrale wat die positiewe perspektief moet verskaf, die silwer randjies blink te poets.
Die ontleder wat onlangs tot adjunkredakteur van ‘n groot Sondagkoerant bevorder is, sal uiteraard meer ligstrale raaksien as die ontleder wat die rugkant van die nuwe Suid-Afrika in die gesig staar.
Oor ‘n jaar word terugskoue gehou. Waarskynlik sal dit blyk dat die werklikheid iewers tussen die pessimistiese en die optimistiese beskouings was. Uiteindelik word ontleders, soos ander mense, grootliks deur hul persepsies van die werklikheid eerder as die werklikheid self beïnvloed.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.