Onlangs spreek advokaat Louis Visser van Pretoria hom ten gunste van ‘n taalhandhawingsveldtog uit. Hy meen dat “almal ‘n gesamentlike bydrae kan maak om instansies, munisipaliteite, staatsdepartemente en dies meer te forseer om ons reg op die gebruik van Afrikaans te eerbiedig.
Dit kan ons doen deur eenvoudig te weier om gedwing te word om ‘n ander taal te gebruik as Afrikaans.
PRAAG is oorspronklik gestig om die miskenning van Afrikaans deur die ANC-bewind aan te spreek, maar intussen het die oorlewingstryd van die Afrikaner in dié land so verhewig dat ons noodwendig ons fokus moes verbreed.
Die taalstryd is egter ‘n wesentlike onderdeel van ons oorlewingstryd en sonder Afrikaans gaan ons nie die paal haal nie, afgesien nog van al die ander estetiese, emosionele en kulturele redes waarom ons dit behoort vol te hou.
As iemand met ervaring van dié tipe aksies, asook ‘n mate van insig in die sosiolinguïstiek, kan ek nou al sê dat sulke individuele pogings (wat ons móét volhou) uiteindelik nie die stryd gaan wen nie. Ek het al baie in die tou by staatsdienskantore ervaar hoe die res van die Afrikaners verleë raak as mens op Afrikaans aandring en by die toonbank gedweë begin Engels praat. Telkom beskik oor ‘n 0800-nommer vir Afrikaanse diens (teenoor die selfoonmaatskappye wat jou omtrent glad nie in Afrikaans kan help nie). ABSA in Johannesburg is hopeloos en het nie eens meer Afrikaanse dokumentasie nie (terwyl Nedbank darem nog alle vorms in Afrikaans aanhou).
Saam met so ‘n handhawingsaksie, moet daar myns insiens ook die volgende gedoen word:
Ons hou ‘n vergadering van verteenwoordigers uit bepaalde gebiede waar Afrikaans, hetsy die meerderheidstaal is, hetsy deur ‘n beduidende minderheid gepraat word. Vir ‘n begin kan ons dit in Pretoria en dele van Gauteng doen. By dié vergadering aanvaar ons ‘n ordonnansie wat alle ondernemings en administratiewe kantore in daardie gebied verplig om diens in Afrikaans aan te bied.
Maar ook: Om Afrikaans as primêre openbare taal in daardie gebied te eerbiedig. Hierdie is die sleutelelement, want om Afrikaans te praat in ‘n omgewing waar Engels die openbare taal is (afgesien van Orania en enkele plattelandse dorpies, praat ons hier van die hele land) bly ‘n absurde oefening. Die geskiedenis van ander taalstryde (Vlaams in België, Hebreeus in Israel, Frans in Québec, ens.) toon dat hierdie territoriale of openbare taalstryd die sleutelement is om te slaag. Daarsonder bly jou taal ‘n laestatustaal en almal (ook jou eie sprekers) ervaar dit so.
Alle produkte wat in daardie gebied/e verkoop word, moet ook Afrikaans bevat. In Europa is dit altyd vir my amusant om te sien dat sjokolade in Frankryk (met 60 miljoen mense) volkome tweetalig is met Nederlands op die verpakking omdat daardie selfde sjokolade in ‘n Belgiese provinsie, Vlaandere (met 6 miljoen mense) verkoop moet word en daar wetgewing bestaan wat dit verplig.
Hier in Suid-Afrika verstom dit my telkens om te sien dat alle medisyne pragtig tweetalig is met Engels en Afrikaans, dat daar nog iewers werk vir ons tegniese vertalers bestaan, blykbaar omdat wetgewing uit die vorige bedeling dit nog steeds afdwing!
‘n Paar jaar gelede was ek by die Woolworths-hoofkantoor in Kaapstad waar ek my in ‘n muur vasgeloop het: in Woolworths bestaan daar geen Afrikaans nie, nie op winkelkennisgewings nie en ook nie op die verpakking nie. Behalwe op die medisyne. Seg die persoon vir my: “As wetgewing ons daartoe verplig, sal ons Afrikaans aanbring, daarsonder nie.”
Sekerlik gaan daar mense wees wat vir ons “taalordonnansie” lag, maar indien die inwoners van ‘n sekere gebied so ‘n besluit neem, beskik dit wel oor ‘n bepaalde krag al word dit nie deur die ANC-regering erken nie. Ons grondwet is egter van so ‘n aard dat internasionale reg of volkereg as deel van ons reg geag word; daarom kan ons ons op die internasionale reg beroep om die wetmatigheid van ons taalordonnansie te verdedig. So pas het ek ‘n uitspraak van die Grondwethof gelees waarin ‘n groep plakkers in die Wes-Kaap hul reg op behuising met behulp van die VN se Konvensie oor Sosiale en Politieke Regte laat geld het! Waarom kan ons dit nie doen nie? Ons beroep ons op internasionale konvensies en die reg op kulturele selfbeskikking wat immers in artikel 235 van die Grondwet erken word. Indien so ‘n ordonnansie met verdere aktivistiese optrede “afgedwing” word, soortgelyk aan destyds in Vlaandere toe hul taalstryd teen Frans plaasgevind het, sal dit verder inslag vind.
Die helfte van alle Engelssprekendes woon in Natal. In die res van die land is Afrikaans óf die moedertaal óf dikwels die lingua franca. Afrikaners vermoor hul eie taal deur Engels te aanvaar en Engels te bevorder, veral natuurlik aan die universiteite.
In dié opsig was Orania reeds ‘n deurbraak, want aldaar is Afrikaans as enigste openbare taal gevestig, weliswaar in ‘n homogene Afrikanerdorp, maar dit toon aan ons die moontlikheid om dit ook na die stedelike gebiede uit te brei. Die dag as drie voorstede in Pretoria of die Wesrand Afrikaans as openbare taal aangeneem het en die ordonnansie in hul gebied toepas, sal die eerste veldslag van die taalstryd gewonne wees. Afrikaans se status sal oornag herstel word tot ‘n vlak wat dit skaars tydens die Goue Tyd vir Afrikaans, naamlik die sestigerjare, geniet het.
Intussen behoort ons die taalwetgewing van Vlaandere en Québec (eintlik skryf ‘n mens in Afrikaans “Quebec” volgens die AWS, maar ek veroorloof my die aksentplesiertjie op my sleutelbord wat op Afrikaans gestel is op my Afrikaanse Windows XP) te bestudeer om te sien wat ons daaruit wys kan word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.