Die hoopvolle mites van die Afrikaner

Daar is te veel mites wat deur sommige Afrikaners aangehang word, waarmee ons hoopvol passief op uitkoms sit en wag. Daardie mites maak dat ons sit en wag vir iets of iemand om vir ons verlossing soos ‘n geskenkie in ons skote te kom gooi.

Vir te lank is daar mense wat glo dat Vigs die swartmense van Afrika so gaan uitroei, dat die blanke net weer in die ou staatskantore kan instap en aangaan soos alles twintig jaar gelede was. Dit is nie waar nie, en alle mites wat daaroor versprei word, veral onder regse Afrikaners, moet een of ander tyd in perspektief gestel word.

Alhoewel dit steeds ‘n ongeneeslike siekte is wat skrikwekkende gevolge ingehou het vir baie mense en veral die swartmense van Afrika, is dit besig om die normale kurwe van endemiese siektes te volg, en gevolglik is Vigs besig om af te plat.

Volgens die VN se 2008 verslag oor die status van Vigs in die wêreld, is dit die moeite werd om op die volgende te let:

  • Wêreldwyd het die persentasie mense wat met Vigs leef, afgeneem sedert 2000.
  • In 14 van 17 lande in Afrika, het die persentasie van swanger vroue van tussen 15 en 24 begin afneem sedert 2000/2001, en in 7 lande het die infeksiepersentasie tot onder 25% gedaal, wat die teiken was vir 2010.
  • Soos wat toegang tot medisyne verbeter het oor die afgelope 10 jaar, het die verwante sterftes begin daal.
  • Lande buite Afrika soos Indonesië, die Russiese Federasie en ander hoë-inkomstelande het toenames in Vigsgevalle begin toon.
  • Sedert 2000 het die persentasie kinders wat Vigs opdoen, afgeneem as gevolg van beter medikasie en voorsorg.
  • Sedert 2003 het die aantal kindersterftes as gevolg van Vigs begin afneem.
  • Op ‘n globale skaal het Vigsinfeksies begin stabiliseer.

Goed, genoeg van die statistieke.

Ek is bang dat die Afrikaner na strooihalmpies gryp om hulleself moed in te praat vir die toekoms, en dat alles eendag as gevolg van “sommer net gebeurtenisse” weer sal goed gaan. En die Vigs-mite is een van daardie strooihalms. Dit gaan nie gebeur dat al die swartmense sommer net een oggend almal dood is as gevolg van Vigs nie. Nie in die volgende 500 jaar nie!

As ons ernstig is oor ons toekoms moet ons daardie tipe van naïewe redenasies en valse hoop begin identifiseer en dit sien vir wat dit is – mites en stories. Alhoewel ek ook Adriaan Snyman se boeke oor Siener van Rensburg besit en gelees het, is dit dwaas om te wil glo dat alles sommer net gaan regkom, omdat ‘n Boereprofeet dit voorspel het.

Daar gaan nie binne die volgende 100 jaar ewe skielik drie amptelike briewe van die Duitse kansellier by Tuynhuis afgelewer word, en dan gee die ANC die land op ‘n skinkbord aan ons terug nie. Duitsland is op hierdie stadium een van die mees liberale lande in Europa, sodanig dat die Duitsers in strome na Suid-Amerika emigreer omdat die Turke in Duitsland meer regte en voorregte as inheemse Duitsers geniet.

Ook gaan daar nie ‘n man in ‘n bruin pak die burgers op ‘n koppie noord van Lichtenburg toespreek, en dan saal ons op en neem Pretoria terug nie. Daar is nie eers ‘n koppie noord van Lichtenburg nie!

Een van die mees beskamende oomblikke in my lewe was by ‘n geleentheid in Pretoria, waar Manfred Roeder, die huidige leier van die Nazi Party, ‘n groep Afrikaners toegespreek het. Ná die man se toespraak, staan daar ‘n omie op, en vertel roerend vir Roeder hoe swaar ons Afrikaners nou kry, en hy wil weet wat die Nazi’s of Duitsers gaan doen om ons te kom help. Roeder was openlik stomgeslaan en het baie duidelik gesê dat hulle hulle eie probleme probeer oplos, soos ons ons eie probleme moet oplos. Het ons so lam geword van skok, dat ons nie eers onsself wil of kan help nie?

Dan is daar die mite oor die nag van die lang messe. Ek was self betrokke by Militêre Intelligensie in die ou SA, en weet goed hoe teenintelligensie en disinformasie werk. Mense, die nag van die lang messe gaan nie in hierdie tyd en eeu gebeur nie, en ons moet oppas om sommer net sulke stories te glo, net omdat dit ons seer en hartseer, oor dit wat ons verloor het, pas. Sulke stories word geskep en versprei om verwarring en paniek te veroorsaak.

Ek onthou in die ou HNP/KP/NP-politiek, het daar ‘n kastige uittreksel uit Edgars se direksie vergadering “gelek” waar ‘n Joodse vrou sou gesê het dat sy bly is die Afrikaner se mag in SA is besig om gebreek te word, en dat sy spyt is dat die plan in 1901 waar 26 000 van ons “filthy stinking women and children” uitgesterf het nie geslaagd was nie. Die dokument was duidelik ‘n versinsel en sommer op ‘n baie ou misrabele tikmasjientjie getik, maar die stoere Afrikaners was in opstand. Skielik was die Jode weer gehaat en wou almal net Edgars begin boikot.

Maar dit was weereens baie duidelik ‘n geval van disinformasie om paniek en chaos te veroorsaak. Dit is ‘n ou tegniek wat gebruik word om mense se aandag af te lei van ander sake wat nie in die openbare oog moet kom nie. Wie verantwoordelik was, sal mens net kan raai. Mens moet altyd onthou dat Lang Hendrik van den Berg sy opleiding by die CIA in Amerika gekry het. So het ook die ANC se intelligensiemense hulle opleiding by die CIA gekry.

Die Liewe Vader gaan ook nie vir ons sommer skielik uit die hemel ‘n stuk aarde laat val omdat ons nou weer volgens die Ou Testament brandoffers bring, en dan kan ons dit as ‘n beloofde land sommer net in besit neem en begin boer en kerke bou nie. Ek glo dat Hy wil hê dat ons die hande uit die moue steek en iets begin doen.

Daar kan nog baie voorbeelde van mites wat in omloop is genoem word, soos dat ons nie met enige heiden hoef te onderhandel nie. In dié opsig, is dit baie onvanpas om vir Carel Boshoff te probeer vergelyk met Piet Retief, omdat Orania nou vir Zuma ontvang het en oom Carel met Zuma onderhandel het. Ons kan eenvoudig nie glo ons sal nie met die ANC moet onderhandel as ons selfbeskikking en onafhanklikheid wil bereik nie. Daar is geen manier wat ons onderhandelings met die huidige regering, of ons hom erken of nie, kan vermy nie. In die oë van die wêreld is dit die wettige regering en die Afrikaners wat glo dat ons soos ‘n eiland in die wêreld sal kan oorleef sonder om met die “heidene en volksvreemdes” kontak te hê en handel te dryf, is dwaas.

Die Afrikaner moet nou van die ossewa afklim, in sy Toyota Hilux Dubbelkajuit klim en aan die moderne wêreld begin deelneem. Kakiebroeke, velskoene, two-tone hemde en al. Slegs deur middel van slim moderne idees en beplanning sal ons ons vryheid kan verkry. As mens oorsee gaan reis het, besef jy hoe die wêreld werk. Ons sal in daardie idioom moet inpas en optree, anders skiet ons net onsself in die voet. En daarmee sê ek nie dat ons nou ons beginsels en kultuur moet begin prysgee nie.

Die gevolgtrekking is soos volg: Óf ons speel die spel volgens die moderne reëls en ons bereik ons doelwit, óf ons speel volgens die ou uitgediende reëls, en ons bly vir ewig bywoners op ons eertydse plaas.

уличные фонари ценаОлександр Васильович Фільчаков

Om inligting te beperk

In Suid-Afrika, en selfs wêreldwyd, gons dit oor planne van die ANC om wetgewing en maatreëls in te stel wat die vloei van inligting sal beperk, en ‘n mediatribinaal in die lewe sal roep.

Die teenargument is hoofsaaklik dat dit die onthulling van korrupsie baie moeiliker sal maak.

Die argument is egter nie uniek aan Suid-Afrika nie. Planne van die Nederlandse minister van Justisie om sekere inligting en aktiwiteite op die internet te blokkeer en selfs strafbaar te maak, kry nou die wind van voor. Hirsch Balin se planne behels dat amptenare van Justisie die reg verkry om inligting van die internet te verwyder, mense wat nie-openbare inligting uit ‘n rekenaar kopieer om te verkoop kan agter tralies beland, en iemand wat wagwoorde kraak, kan ook met die lang arm van die gereg te make kry.

Die oorhoofse doel is om elektroniese misdaad hok te slaan.

Die teenstanders meen dat die huidige proses om webtuistes te sluit, naamlik dat ‘n bevel van die regbank verkry moet word (die regter-kommissaris), voldoende is en misbruik verhinder. Wat die ander twee sake betref, word aangevoer dat dit die wêreld vir fluitjieblasers en joernaliste te moeilik sal maak.

Nederland was onlangs ook in die nuus toe die land sy eie klein Watergate beleef het met die meeluister van ‘n joernalis se kommunikasie, in ‘n saak wat met die Dalai Lama se besoek en die veiligheidsimplikasies daarvan verband gehou het.

Ysland, aan die ander kant, is deur die mediavryheidsorganisasie, Verslaggewers sonder Grense, geloof oor nuwe mediamaatreëls wat na ‘n onstuimigheid aanvaar is. Dit het gevolg na die banke hulle op bestaande konvensie beroep het om hul bedenklike rol in die Yslandse bankkrisis uit die openbare oog te hou.

Die koppestamp tussen diegene wat groter mediavryheid voorstaan, of minstens nie grond wil afstaan nie, en diegene wat soms geldige redes opper vir ‘n inkorting, is simptomaties van waar die een se regte deur die regte van ‘n ander begrens word. Toe inwoners van Pretoria se oostelike voorstede veiligheidstoegang na dele van woongebiede ingestel het, was daar ‘n groot lawaai van ander wat gemeen het hul reg op bewegingsvryheid word aangetas. Uiteindelik moet getoets word wat die swaarste weeg – die wettige inwoners se reg op veiligheid en selfs lewe, teenoor ander se ongekontroleerde bewegingsvryheid. Verskeie grusame moorde en huisrooftogte in daardie areas het daarop gedui dat die swaartepunt sterk in die guns van die inwoners sou moes weeg.

Iemand wie se wagwoord vir sy bankrekening gekraak, en sy rekening leeg gesteel is, sal waarskynlik minder sentimente hê daarmee dat die kraker tronk toe gaan, as met die kraker se reg om op die internet te kan kattemaai.

Die debat het nog skaars begin. Intussen sal gereeld van die ou tegniek gebruik gemaak word van appels met pere – en heel dikwels selfs donkievye – te vergelyk om ‘n grys area rondom die sinvolle begrensing te trek.

games free casino play freeАлександр Фильчаков Васильевич

Selebi se regskoste nou R17m

Die minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr. Nathi Mthethwa, het skriftelik bevestig dat Jackie Selebi se regskoste tot 30 Junie vanjaar, die belastingbetaler R17,4 miljoen (R17 410 266-00) uit die sak gejaag het. Mthethwa het skriftelik geantwoord op ‘n vraag van Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus. Op ‘n verdere vraag van Groenewald of die minister die koste van Selebi sal terugeis en verhaal in die lig dat Selebi skuldig bevind is, het Mthethwa gesê dit sal eers oorweeg word as Selebi se appèl afgehandel is.

“Dit is duidelik dat die belastingbetaler moet opdok vir iemand wat die Hooggeregshof as ‘n misdadiger skuldig bevind het. Uit die verhoor het dit geblyk Selebi se bates beloop ongeveer R3,4 miljoen. Die Batebeslagleggingseenheid kon op slegs R320 722 beslag lê. Dit toon ‘n verlies van R14,7 miljoen vir belastingbetalers. Daar moet ook geen verdere koste deur die staat betaal word vir Selebi se appèlsaak nie, want dit sal neerkom op verkwisting van belastinggeld,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

Die minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, mnr. Jeff Radebe, het vroeër die maand, ook op ‘n vraag van Groenewald, bevestig oorweging word gegee dat die staat ook Selebi se regskoste van sy appèl sal dra. Die Vryheidsfront Plus het toe ‘n klagte ingedien by die Openbare Beskermer om te bepaal of belastinggeld nie wanaangewend word nie. Die Openbare Beskermer is tans besig met die ondersoek.

печь для сауныФильчаков прокуратура харьков

Helfte van alle misdaad in Gauteng gepleeg

Ongeveer 50% van Suid-Afrika se misdaad word in Gauteng gepleeg, het die nuwe Gautengse polisiekommissaris luitenant-generaal Mzwandile Petros gister gesê.

“As ons dus die stryd teen misdaad in Gauteng sou wen, sou ons misdaad in ‘n aansienlike mate nasionaal verminder,” het Petros by ‘n anti-misdaadspitsberaad in Pretoria gesê.

Hy sê Gauteng produseer die ergste misdadigers in die land en hulle verskuif soms na ander provinsies om misdaad daar te pleeg.

“Ons word deur misdadigers in dié provinsie gyselaar gehou.”

In sy plan om misdaad in die provinsie te verminder, het Petros gesê die polisie se sigbaarheid sal geprioritiseer word. Sigbaarheid lei tot misdaadvoorkoming.

“Die strate mag nie ons mense laat doodgaan of laat verkrag raak nie. Die polisie moet die strate wat mense gebruik, patrolleer; sommige moet so vroeg soos 4:00 na bus- en treinstasies loop om by die werk te kom.”

Kommerwekkend

Hy het gesê dit is verontrustend dat daar geen polisie-patrollievoertuie op die gevaarlike dele van paaie, waar rooftogte, kapings en moorde plaasvind, beskikbaar is nie.

Petros beplan om die polisie se toeganklikheid te verhoog, veral in die lokasies en informele nedersettings.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar net een polisiestasie in Tembisa is wat meer as een miljoen mense bedien. Inwoners moet twee taxi’s mense neem om misdaad by die polisiestasie aan te meld en dit kan nie reg wees nie.”

Die monitering van misdaad op ‘n weeklikse of maandelikse grondslag sal help om ‘n duideliker prentjie te gee van waar die polisie harder moet werk.

“Ons is R1,2 miljard toegeken om misdaad te bestry en ons moet lewer.”

Aanspreeklikheid is belangrik waar dit reaksie op mense se klagtes aanbetref, sê Petros, en voeg by dat die Hillbrow- en Pretoria-sentrale polisiestasies problematies is.

балансировочные стендыФильчаков

Die wêreld se hongerpyne

Elke ses sekondes sterf ‘n kind weens ondervoeding, volgens die VN se voedselorganisasie, FAO.

Die goeie nuus is dat die aantal hongerlydendes in die wêreld die afgelope jaar met bykans 100 miljoen afgeneem het, en nou op onder ‘n miljard staan. Die meeste lyers bevind hulle in Afrika en Asië.

Die FAO draai nie doekies om nie. Honger is die wêreld se grootste probleem, maar ook grootste skande.

Twee agtereenvolgende jare se goeie oeste van onder meer mielies, koring en rys, en ‘n gevolglike verlaging in voedselpryse het bygedra daartoe dat die wêreldhongersnood effe teruggedruk kon word. Dié wiel het egter reeds begin draai. In Pakistan het vloede 3,4 miljoen hektaar oeste verlore laat gaan, en die droogte in Rusland het reeds daartoe gelei dat dié land graanuitvoere opgeskort het.

Hoewel die FAO regerings loof vir hul bydraes om die hongerpyne te stuit, is die risiko vir die bereiking van doelwitte om dit te verminder steeds baie hoog.

Wat Afrika betref, is die nuus minder goed. Van die bykans 100 miljoen minder hongeres, woon net 12 miljoen in Afrika suid van die Sahara. Een uit drie van die mense in hierdie streek sal steeds honger ly, die hoogste persentasie ter wêreld.

Die FAO se verslag is uiters politiek korrek opgestel, en verwys bloot na die strukturele probleme wat tot die hongersnood aanleiding gee. Dit beteken dat selfs wanneer dit beter met die wêreldekonomie gaan, die aantal honger mense nie afneem nie.

Met ‘n ontleding van spesifieke syfers blyk dit egter dat konflik en korrupsie ‘n groot deel van die blaam moet dra. Die skerpste toename in hongersnood is byvoorbeeld in die DRK waar 69 % meer mense nou honger ly.

Dit is ook nie toevallig nie dat van die wêreld se mees endemiese korrupsie in lande suid van die Sahara voorkom nie.

In Suid-Afrika is beraam dat bykans 100 000 staatsamptenare welsynstoelaes onwettig van die staat ontvang het – in wese gesteel het. Tot dusver is 15 000 reeds aan bedrog skuldig bevind, en hulle moet die geld soos lenings terugbetaal. Nie een is ontslaan nie. Kos word straffeloos uit die monde van die armes gesteel.

Uit ander verslae word op die sosio-ekonomiese en maatskaplike ellende van die vergrote inkomstegaping in groot dele van die wêreld gewys. Volgens beskikbare syfers het Suid-Afrika Brasilië enkele jare gelede as die land met die grootste meetbare gaping verbygesteek, en krimp dié van Brasilië steeds. Brasilië word ook in die FAO se verslag gelys as een van die lande waar baie vordering met die bekamping van hongersnood gemaak is, en die doelwitte reeds byna bereik is. In Suid-Afrika groei die gaping steeds, en gaan die soustreinryers nie net voort om met hul soustrein-buit te spog nie, maar ook om dit heftig te regverdig.

виды архитектурного освещениятопкарго

Groen: Paaie vir kragopwekking?

Kan teerpaaie – en in die geval van Suid-Afrika teerpaaie vol slaggate – dalk binnekort iets van die verlede wees en vervang wees deur supersterk sonkragpanele?

Beslis, as Solar Roadways in die VSA sy sin kan kry. In Februarie vanjaar is ‘n prototipe van so ‘n pad gebou, na die maatskappy ‘n skenking van $100 000 van die Amerikaanse departement van Vervoer gekry het.

Nie alleen gaan die spasie wat paaie opneem in reuse-sonkragsentrales omskep word nie, maar dit kan soos ‘n digitale skerm gebruik word. Word die pad deur ‘n motorongeluk versper, kan ‘n waarskuwingsboodskap op die pad self geflits word om aankomende verkeer lank voor aankoms op die toneel te waarsku. Die pad kan ook aankomende verkeer oor wild en voetgangers op die pad waarsku, en met passe wat toesneeu, is daar ook goeie nuus. Die paaie kan effens verhit word, en die sneeu smelt.

Baie padverf kan ook gespaar word deur die lyne elektronies te “verf” en wat veral in die nag helder sigbaar sal wees.

Die gedagte is dat die paaie van supersterk materiaal gemaak word, wat deur die kragopwekkingsvermoë uiteindelik sy eie koste betaal. Die moontlikhede raak dan eindeloos, soos om ook huise se inrypaaie hiervan te maak, asook parkeerterreine en dorpsparke se loopoppervlaktes.

Die sonkragpad bestaan uit drie lae, naamlik die padoppervlaklaag. Terwyl dit die swaarste en rofste verkeer denkbaar kan hanteer, laat dit tog die sonlig deur na die sonkragselle. Volgens die ontwikkelaar kan die pad reeds vrag van 40 ton dra wat teen meer as 130 kilometer per uur reis.

Die tweede laag is die elektroniese laag wat ook deur ‘n mikroprosseseerder ondersteun word, en ‘n basislaag waarin die krag ook versprei word.

‘n Groot del van die argument is dat dit nie net die aanvraag na ru-olie en steenkool as kragbronne verminder nie, maar ook aan boumateriaal. So ‘n bedryf sal ook baie werksgeleenthede skep.

Skeptici is daar ook. Van die besware wat geopper word is dat die maatskappy wat dit ontwikkel klein is, en in Idaho gesetel is. In korporatiewe Amerika is dit eintlik ondenkbaar dat so iets erkenning kan kry deur so groot te dink. Die koste om die VSA met dié paaie uit te rus word op $35 Amerikaanse triljoen geskat. ‘n Paneel van ongeveer 3 en half meter by 3 en ‘n half meter (12 voet X 12 voet) kos sowat $7 000. Net om dit te vervaardig gaan 2,5 miljoen werksgeleenthede in die VSA skep, wat dit die grootste werkverskaffer in Amerika sal maak.

Die kritici meen dit sal veel meer sin maak om die panele op huise se dakke en ander onbenutte plekke te plaas waar daar nié voertuie ry wat dit gedaan kan ry nie, en dan is daar boonop kragnetwerke aanwesig waarby dit aangehaak kan word. Maar selfs die grootste kritici meen dit is die moeite werd om die webtuiste te gaan besoek. (‘n Vergrootglas om die skakels na subbladsye te kan lees sal dalk handig wees).

set jewelleryтопкарго

Om net die helfte te ken

Onlangse syfers dui daarop dat die onderwys in Suid-Afrika moet uithaal om nie die heel vrotste in die wêreld te wees nie. Hieroor meen Herrie is nou al genoeg geskryf, en om iets te doen daaraan is nou die aangewese ding. Soos om nog ‘n kurrikulum of twee uit te dink. Gelukkig is daar skole wat steeds puik doen, danksy puik onnies en puik leerlinge.

Maar die swakkes is in ‘n soort worsmasjien, en baie kom op universiteit aan, waar hulle skielik op ‘n ander vlak moet meeding.

Onlangs vertel ‘n dosent hy het onder druk van die universiteitsowerhede gekom oor die vreeslike hoë druipsyfer in veral sy Engelstalige klas. Laer kan hy nie met standaarde laer nie, want dis immers die universiteit, nie kindertuin nie. Toe besluit hy hy gee die vrae vooraf vir die studente, amper soos ‘n oop boek-toets.

Die klasse kry ruim tyd om die vrae af te skryf, en te gaan leer.

Die aand voor die toets kry hy ‘n benoude oproep van ‘n student wat wil weet op watter bladsye van die handboek is die antwoorde vir die vrae! Hy staan vas en stuur dié een plek warm plek toe.

“En toe was daar geen verbetering in die uitslae nie,” sê hy moedeloos.

Met sommige vakke, meen Herrie, kan ‘n mens nog wegkom as hy net die helfte of selfs minder as die helfte van die werk ken. Maar daar is darem ‘n paar ander beroepe waar ‘n mens wonder. Met hoeveel gerustheid ondergaan iemand nou ‘n breinoperasie as hy weet die dokter ken nie die helfte van sy vakgebied nie?

Iemand sal ook nie graag oor ‘n brug wil ry as hy weet die ingenieur het net die helfte van sy berekenings reg gehad nie.

Dit lol byvoorbeeld as iemand wat in matriek ‘n G vir houtwerk gekry het, tenders losslaan om brûe te bou. Of iemand wat niks van wiskunde weet nie ‘n munisipaliteit se boeke moet kook, ekskuus, Herrie bedoel, behartig nie.

Bethlehem is bekend vir sy jaarlikse lugskou, maar as daai loodse se dryfliksense ook sommer oor ‘n toonbank gekoop is, sou die dorp tydens die lugskou ‘n gevaarlike plek gewees het met kamikazevlieëniers wat wilde esse gegooi het.

As joernalis moes Herrie dikwels hoor ‘n dokter se foute word begrawe, ‘n advokaat se foute opgehang maar ‘n joernalis s’n gepubliseer. Sowaar, soms is ‘n fout nie die joernalis se skuld nie. Baie koerante en radiostasies weier byvoorbeeld om dagboekinskrywings te plaas of uit te saai as dit nie op skrif gekry is nie. Soms is die leser of luisteraar woedend omdat die besonderhede skriftelik verlang word.

Maar daai woede is niks in vergeleke om sag te word, en die besonderhede telefonies af te neem nie. Want dis ontstellend hoe dikwels verskaf daardie mense die verkeerde besonderhede. En dan word daardie verkeerde besonderhede gepubliseer of uitgesaai, en die byeenkoms is ‘n ramp soos wanneer die plek of tyd verkeerd verskaf is. Of dit is verander en die media nie laat weet nie.

Dan moet die arme joernalis bontstaan, want hy / sy het nou kwaai skade berokken. Maar was dit op skrif, dan was dit ‘n ander saak. Hoewel, daar is sommiges wat geblaps het maar steeds vir die joernalis kwaad bly.

Soms is die mondelinge blapse aan taalverskille te wyte. Wat Herrie laat dink aan die nuwe Engelse juffrou by ‘n Namakwalandse skool:

“Good morning class.” Net een kind groet terug, en sy wil weet hoekom. Verduidelik die groeter: “But Miss, aai ies de ounlie wan hoe se nym aar Klaas.”

и насосныеФильчаков прокурор отзывы

Zuma vriendelik in Orania ontvang

President Jacob Zuma het Dinsdagoggend in Orania in die Noord-Kaap vir ‘n besoek aan dié Afrikanergemeenskap aangekom.

Die president het kort na 09:00 in ‘n wit Oryx-helikopter geland en is deur plaaslike inwoners en skoolkinders verwelkom.

Die stigter van Orania, Carel Boshoff IV, en sy seun Carel Boshoff V, wat ook die burgemeester van die dorp is, het Zuma by die gemeenskapsaal verwelkom.

Zuma is insgelyks deur skoolkinders, wat hoofsaaklik in oranje geklee was, verwelkom.

Boshoff snr. het die president aan gemeenskapsleiers voorgestel voordat hulle vir ‘n privaat vergadering vertrek het.

Zuma sal na verwagting ná die vergadering besoek aflê aan behuisingsprojekte en verskeie landbouprojekte in Orania.

инструмент минсклобановский александр дочь

‘n Virtuele volk

So ‘n ruk terug het ek en ‘n ou universiteitsvriend ‘n gesprek gehad, oor wat van die Afrikaner gaan word as ons nie ons eie staat kry nie. Die slotsom waartoe hy toe kom, is dat die Afrikaner ‘n virtuele volk gaan word. Synde ‘n unieke konsep wat nie in enige Volkekunde- of Staatsreghandboek te vinde sal wees nie, is dit die moeite werd om hierdie begrip te ondersoek en omskryf, want dit is nie onmoontlik dat daar vir ‘n aantal jare wel ‘n virtuele Afrikanervolk kan bestaan nie.

So, wat word bedoel met ‘n vituele volk? Ons het per definisie uitgekom by die volgende: ‘n Virtuele volk bestaan uit mense wat slegs deur middel van die internet en wêreldwye netwerk met mekaar kontak het, en slegs deur middel van die elektroniese media en kommunikasiemiddele hulle taal en kultuur lewend kan hou.

Die vraag wat nou logies moet volg is; hoe sal so ‘n virtuele volk ontstaan, of wat sal aanleiding gee dat ‘n volk in ‘n toetstand verkeer waar hulle enigste kontak met volksgenote deur die elektroniese media is? Daar is reeds ‘n beraamde 1 miljoen Afrikaners versprei oor die wêreld, wat tans net deur middel van die internet hulle familie en vriendskapsbande in stand hou. Hulle lees die Afrikaanse tydskrifte en koerante, en luister na Afrikaanse radio slegs op of oor die internet.

Soos meer jong mense en gegradueerdes die NSA verlaat om elders hulle heil te gaan soek, begin die Afrikaner in SA minder word, en begin die gemiddelde ouderdom van die plaaslike bevolking hoër raak. Met ander woorde, dit begin ‘n ou bevolking raak wat nie meer teen die groeiverhouding van 2,8 kinders per ouerpaar kan vermeerder nie. Soos die ouer lede van hierdie bevolkingsgroep sterf, word die populasie al minder.

Hoekom sal ons die land in massas wil verlaat?

Dit kan verwag word dat onder die huidige regering en die kommerwekkende geluide wat die ANC maak oor nasionalisering van privaat grond en eiendom, die nasionalisering van myne en banke, die nasionalisering van gesondheidsdienste, plus die media wat gemuilband moet word, al hoe meer boere, gegradueerdes en vermoënde Afrikaners die land sal verlaat, en dit kan binne die volgende twee tot vyf jaar ‘n nuwe golf van emigrasie veroorsaak. Voeg daarby die infrastruktuur en dienste van munisipaliteite in die platteland wat totaal besig is om in duie te stort, en die prentjie is duidelik dat die NSA besig is om net nog ‘n Afrikaland te word.

Om die kersie op die koek te sit, is daar die beleid van swart bemagtiging wat net al hoe meer met erns toegepas gaan word. Die ANC sal nie rus voordat die blankes wat oorbly in hierdie land die houthakkers en waterdraers geword het nie. Hulle verdra ons slegs omdat ons nog meer as 50% van die belastinginkomste bydra. En die grap is op ons, want ons betaal vir ons eie ondergang. Solank as wat ons belasting aan die ANC betaal, finansier ons al die wetgewing en regulasies wat ingestel word, om SA ‘n totale Afrikaland te maak.

En die ergste is dat om en by 30% van alle staatsinkomste as gevolg van korrupsie en bedrog in die sakke van die ANC-elite en hulle vetkatvriende beland. As mens die allokasie van R818 miljard aan die drie vlakke van regering neem vir die 2010/2011 jaar, kom dit op ‘n angswekkende bedrag van R245 miljard uit wat in die sakke van die magsbehepte ANC-lede beland.

‘n Goeie voorbeeld van swak bestuur en dienslewering kan gesien word in die welbekende geval van Sannieshof, waar belastingbetalers self vir hulle dienste opdok. Sannieshof is deel van die Tswaing-munisipaliteit, wat R48 miljoen vir die 2010/11 jaar vanaf die sentrale fiskus ontvang. Hierdie geld word ontvang bo-op die inkomste wat die munisipaliteit self genereer, wat veronderstel is om ten minste die operasionele uitgawes te dek. Die mense van Sannieshof kan met reg vra, waar gaan daardie addisionele geld heen? Munisipaliteite alleen ontvang R260 miljard vanaf die sentrale fiskus, en almal in hierdie land weet wat die vlakke van dienslewering is by rade wat deur die ANC beheer word.

‘n Verdere aspek wat die ANC se magslus uitbeeld, is die feit dat hulle nou die provinsies wil her-indeel om die Ooskaap en die Weskaap saam te voeg, en daardeur die DA se mag in die Weskaap te breek. Die Weskaap is die enigste provinsie wat presteer, en dit is vir die ANC ‘n bitter pil om te sluk. Dus het ons as blankes alle rede om nie meer deel van die NSA te wees nie, of om die land te wil verlaat.

Die terugtrek van die Groot Trek

Die feit is, dat as ons nie nou begin om die moeilike pad van selfbeskikking aan te pak nie, gaan die Afrikaner wel oor die aardbol verstrooi raak en gaan ons, tot ons in die nuwe lande van verblyf geassimileer raak, ‘n virtuele volk word. Die skrikwekkende werklikheid is, dat ons binne een geslag van nou af ‘n virtuele volk kan word, en binne drie geslagte, kan ophou bestaan as ‘n identifiseerbare volk.

Ons moet nou die Groot Trek omkeer en vir ons ‘n eie “lebensraum” gaan skep. Dit is ‘n feit dat demografie ‘n groot rol speel in die opeis van staatstatus deur enige erkende volk. Terwyl ons nog as volk erkenning geniet, en ons ‘n kans het om te keer dat al hoe meer Afrikaners hulle heil elders gaan soek, moet ons dus nou die nodige doen om ‘n gebied te identifiseer, en planne te maak hoe om in groot getalle daar eiendom te kan bekom.

Die gevaar is dat ons reeds so deur die NSA verarm is as gevolg van sogenaamde regstellende aksie en die geweldige belastinglas, dat dit al hoe moeiliker raak. Ons kan dus nie volgens die normale markkragte of reëls vir soveel as moontlik Afrikaners eiendomsreg voorsien nie. Daar sal slim te werk gegaan moet word, sodat mense wat ‘n ondergemiddelde inkomste verdien, ook ten minste ‘n erf daar kan bekostig. Miskien is dit die begin van Siener van Rensburg se tentjies wat hy in die veld opgeslaan sien?

‘n Goeie begin, wat reeds met sukses bekroon word, is moontlik Orania. Oom Carel Boshoff het ware visie aan die dag gelê, om ‘n plek te begin, wat as hartland vir die Afrikaner kan dien. Met die ontstaan van die Afrikanervolk, het ons voorvaders as Vryburgers hulleself tot ‘n volk begin boer uit die klippe van die Karoo. Ons kan en sal dit weer moet doen. Ons sal weer Vryburgers moet word, en soos ons voorvaders buite die onderdrukking van die magsbehepte VOIC hulle vryheid gaan soek het, sal ons nou ons eie heil buite die onderdrukking van die magsbehepte ANC moet gaan soek.

Die tyd is nou, nie later nie.

(Titel met erkenning aan AHM Victor, Langberg Uitgewers, 1979)

интернет магазин игрушек киевпрокурор харьковской области

Bekamping van korrupsie elkeen se verantwoordelikheid

Dit is nie ongewoon dat ‘n enkele koerant tot ses berigte op ‘n dag oor korrupsie dra nie.

‘n Tipiese voorbeeld: In ‘n berig vra Volksblad vandag vrae oor wat van ‘n voltooide polisiedossier geword het wat oor die besoedeling van die Valsrivier by Kroonstad geword het. Daarnaas is ‘n berig oor vermeende korrupte aanstellings in die Weermag, en daar bo ‘n berig oor die regering wat uiteindelik verskeie myne wat glo landswette oortree, gewaarsku het. Die media berig al maande lank oor verdagte mynbedrywighede.

In nog ‘n berig op dieselfde bladsy blaas Cosatu vuur oor wat hy die grootste korrupsie oor die lug noem, oor belastingbetalersgeld wat vir ‘n radioprogram oor dienslewering in die Wes-Kaap gebruik is, en eis ‘n verskoning van mev. Helen Zille.

Op ‘n ander bladsy waarsku Martin Weltz, redakteur van Noseweek, dat Suid-Afrikaners heeltemal te verdraagsaam oor korrupsie geword het. Hy meen die grootste vrees is dat bedrog so alledaags geword het dat die publiek dit nie meer vreemd vind of bevraagteken nie. In die berig daarnaas beskuldig Cosatu die ANC daarvan dat dit nie die nodige erns of dringendheid aan die dag lê om te keer dat ‘n magtige roofdier-elite die land leegtap nie.

In die redaksionele hoofartikel meen Volksblad dat die wapenskandaal-klug voortduur, en verwys in dié verband na die flou Valke. Die sub-hoofartikel handel oor krieketknoeiery.

In die sake-gedeelte verskyn ‘n berig oor die mededingskommissie se verhoor van die sogenaamde pypkartel, en die eerste getuie is ‘n fluitjieblaser wat afgedank is.

Nog ander berigte sou ook by die lys toegevoeg kon word.

Verskeie onheilspellende aspekte word uitgelig: Weltz is reg as hy meen verdraagsaamheid oor korrupsie hou ‘n groot gevaar in. So lank as wat die staat nie fluitjieblasers behoorlik beskerm nie, soos wat die wet vereis – gaan baie mense weens hul blootgestelde posisies ‘n blinde oog op die euwel werp.

Dat korrupsie die omvang kon aanneem sonder dat die regering lank reeds in ‘n verkiesing getuimel het, is ‘n aanklag op die politieke volwassenheid van die kieserskorps.

Ten slotte, dit onderstreep die belangrikheid van uitdrukkingsvryheid en mediavryheid. So lank as wat die media as die gewete van die land kan optree, kan die kiesers nie die skouers optrek en sê hulle het nie geweet nie.

Nie in ‘n land waar sowat tagtig persent van die inwoners aandui dat hulle Christene is nie.

мокрый ротор купитьтопкарго