Ongeveer 50% van Suid-Afrika se misdaad word in Gauteng gepleeg, het die nuwe Gautengse polisiekommissaris luitenant-generaal Mzwandile Petros gister gesê.
“As ons dus die stryd teen misdaad in Gauteng sou wen, sou ons misdaad in ‘n aansienlike mate nasionaal verminder,” het Petros by ‘n anti-misdaadspitsberaad in Pretoria gesê.
Hy sê Gauteng produseer die ergste misdadigers in die land en hulle verskuif soms na ander provinsies om misdaad daar te pleeg.
“Ons word deur misdadigers in dié provinsie gyselaar gehou.”
In sy plan om misdaad in die provinsie te verminder, het Petros gesê die polisie se sigbaarheid sal geprioritiseer word. Sigbaarheid lei tot misdaadvoorkoming.
“Die strate mag nie ons mense laat doodgaan of laat verkrag raak nie. Die polisie moet die strate wat mense gebruik, patrolleer; sommige moet so vroeg soos 4:00 na bus- en treinstasies loop om by die werk te kom.”
Kommerwekkend
Hy het gesê dit is verontrustend dat daar geen polisie-patrollievoertuie op die gevaarlike dele van paaie, waar rooftogte, kapings en moorde plaasvind, beskikbaar is nie.
Petros beplan om die polisie se toeganklikheid te verhoog, veral in die lokasies en informele nedersettings.
“Dit is onaanvaarbaar dat daar net een polisiestasie in Tembisa is wat meer as een miljoen mense bedien. Inwoners moet twee taxi’s mense neem om misdaad by die polisiestasie aan te meld en dit kan nie reg wees nie.”
Die monitering van misdaad op ‘n weeklikse of maandelikse grondslag sal help om ‘n duideliker prentjie te gee van waar die polisie harder moet werk.
“Ons is R1,2 miljard toegeken om misdaad te bestry en ons moet lewer.”
Aanspreeklikheid is belangrik waar dit reaksie op mense se klagtes aanbetref, sê Petros, en voeg by dat die Hillbrow- en Pretoria-sentrale polisiestasies problematies is.
