Onlangse syfers dui daarop dat die onderwys in Suid-Afrika moet uithaal om nie die heel vrotste in die wêreld te wees nie. Hieroor meen Herrie is nou al genoeg geskryf, en om iets te doen daaraan is nou die aangewese ding. Soos om nog ‘n kurrikulum of twee uit te dink. Gelukkig is daar skole wat steeds puik doen, danksy puik onnies en puik leerlinge.
Maar die swakkes is in ‘n soort worsmasjien, en baie kom op universiteit aan, waar hulle skielik op ‘n ander vlak moet meeding.
Onlangs vertel ‘n dosent hy het onder druk van die universiteitsowerhede gekom oor die vreeslike hoë druipsyfer in veral sy Engelstalige klas. Laer kan hy nie met standaarde laer nie, want dis immers die universiteit, nie kindertuin nie. Toe besluit hy hy gee die vrae vooraf vir die studente, amper soos ‘n oop boek-toets.
Die klasse kry ruim tyd om die vrae af te skryf, en te gaan leer.
Die aand voor die toets kry hy ‘n benoude oproep van ‘n student wat wil weet op watter bladsye van die handboek is die antwoorde vir die vrae! Hy staan vas en stuur dié een plek warm plek toe.
“En toe was daar geen verbetering in die uitslae nie,” sê hy moedeloos.
Met sommige vakke, meen Herrie, kan ‘n mens nog wegkom as hy net die helfte of selfs minder as die helfte van die werk ken. Maar daar is darem ‘n paar ander beroepe waar ‘n mens wonder. Met hoeveel gerustheid ondergaan iemand nou ‘n breinoperasie as hy weet die dokter ken nie die helfte van sy vakgebied nie?
Iemand sal ook nie graag oor ‘n brug wil ry as hy weet die ingenieur het net die helfte van sy berekenings reg gehad nie.
Dit lol byvoorbeeld as iemand wat in matriek ‘n G vir houtwerk gekry het, tenders losslaan om brûe te bou. Of iemand wat niks van wiskunde weet nie ‘n munisipaliteit se boeke moet kook, ekskuus, Herrie bedoel, behartig nie.
Bethlehem is bekend vir sy jaarlikse lugskou, maar as daai loodse se dryfliksense ook sommer oor ‘n toonbank gekoop is, sou die dorp tydens die lugskou ‘n gevaarlike plek gewees het met kamikazevlieëniers wat wilde esse gegooi het.
As joernalis moes Herrie dikwels hoor ‘n dokter se foute word begrawe, ‘n advokaat se foute opgehang maar ‘n joernalis s’n gepubliseer. Sowaar, soms is ‘n fout nie die joernalis se skuld nie. Baie koerante en radiostasies weier byvoorbeeld om dagboekinskrywings te plaas of uit te saai as dit nie op skrif gekry is nie. Soms is die leser of luisteraar woedend omdat die besonderhede skriftelik verlang word.
Maar daai woede is niks in vergeleke om sag te word, en die besonderhede telefonies af te neem nie. Want dis ontstellend hoe dikwels verskaf daardie mense die verkeerde besonderhede. En dan word daardie verkeerde besonderhede gepubliseer of uitgesaai, en die byeenkoms is ‘n ramp soos wanneer die plek of tyd verkeerd verskaf is. Of dit is verander en die media nie laat weet nie.
Dan moet die arme joernalis bontstaan, want hy / sy het nou kwaai skade berokken. Maar was dit op skrif, dan was dit ‘n ander saak. Hoewel, daar is sommiges wat geblaps het maar steeds vir die joernalis kwaad bly.
Soms is die mondelinge blapse aan taalverskille te wyte. Wat Herrie laat dink aan die nuwe Engelse juffrou by ‘n Namakwalandse skool:
“Good morning class.” Net een kind groet terug, en sy wil weet hoekom. Verduidelik die groeter: “But Miss, aai ies de ounlie wan hoe se nym aar Klaas.”
