Vloede tref Beijing

Vloede wat veroorsaak is deur onafgebroke swaar reën het wydverspreide ontwrigting in die Chinese hoofstad, Beijing, veroorsaak.

Dit het tot gevol gehad dat honderde vlugte gekanselleer is en sommige moltreinstasies gesluit moes word.

Beijing se humiede somermaande word dikwels deur swaar reënstorms gekenmerk en in 2012 is 37 mense in die storms dood.

Die Beijing se stadsowerhede het ‘n oranje waarskuwing uitgereik, die tweede hoogste in China se viervlak-waarskuwingstelsel en het inwoners gemaan dat dit oornag kon voortduur met neerslae wat plek-plek tot 100 mm kan val.

Meer as 200 vlugte van Beijing se hooflughawe af is gekanselleer.

Groot dele van Sentraal- en Oos-China is vanjaar deur swaar reën getref met meer as 200 mense wat reeds gesterf het.

Sedert Maandag is 13 mense dood en word 62 vermis vanweë die reën in die noordelike en noordwestelike dele van die land, berig die nuusagentskap Xinhua.

Groep wil handel in renosterhoring gewettig hê

‘n Groep Suid-Afrikaanse renostertelers het die regering hof toe geneem om die plaaslike verbod op renosterhoringverkope opgehef te kry, het voorsitter van die groep Donderdag gesê.

Wettiging van horinghandel sal help om die bedreigde spesies te red, het die Private Rhino Owners Association (PROA) Pelham Jones aan dpa gesê.
 
Honderde Suid-Afrikaanse renosters word gestroop van elke jaar weens ‘n groot aanvraag vir hul horings, veral in Asië, waar daar geglo word dat seksuele potensie hupstoot kry daardeur maar ook in tradisionele medisyne.
 
‘n Verbysterende 1 215 renosters is verlede jaar in Suid-Afrika geslag, wat ‘n geskatte 25 000 swart en wit renosters huisves, die tuiste van die wêreld se grootste troppe.
 
Dit beteken ‘n toename van 21% in stropery van die vorige jaar.
 
“Ons sien dit duidelik dat die handelsverbod nie stropery in enige manier laat afneem nie. In teendeel, dien dit as stimulasie vir die swartmarkhandel,” het Jones gesê.
 
Die groep beplan ‘n regsgeding teen ‘n moratorium van 2009 wat die handel in renosterhoring in Suid-Afrika verbied. Internasionaal, is die verkope sedert 1977 verbied.
 
Die vereniging, wie se 320 lede sowat ‘n vyfde van renosters van die land se bevolking besit, sê horingverkope sal fondse vir die bewaring van die bedreigde spesies genereer.
 
“Net meer as 1 000 renosters is dood op private grond sedert 2008,” het Jones gesê. “Dit beteken R400 miljoen se renosters is verloor, plus R300 miljoen wat bestee is aan sekuriteit om hulle te beskerm.”
 
Die wettiging van binnelandse handel sal beteken dat renosterhoring aangekoop sal kan word deur kommoditeitspekulante wat die horings geneties sal kodeer en in veilige bewaring sal kan stoor totdat die internasionale handelsverbod opgehef word.

Die wêreld se hongerpyne

Elke ses sekondes sterf ‘n kind weens ondervoeding, volgens die VN se voedselorganisasie, FAO.

Die goeie nuus is dat die aantal hongerlydendes in die wêreld die afgelope jaar met bykans 100 miljoen afgeneem het, en nou op onder ‘n miljard staan. Die meeste lyers bevind hulle in Afrika en Asië.

Die FAO draai nie doekies om nie. Honger is die wêreld se grootste probleem, maar ook grootste skande.

Twee agtereenvolgende jare se goeie oeste van onder meer mielies, koring en rys, en ‘n gevolglike verlaging in voedselpryse het bygedra daartoe dat die wêreldhongersnood effe teruggedruk kon word. Dié wiel het egter reeds begin draai. In Pakistan het vloede 3,4 miljoen hektaar oeste verlore laat gaan, en die droogte in Rusland het reeds daartoe gelei dat dié land graanuitvoere opgeskort het.

Hoewel die FAO regerings loof vir hul bydraes om die hongerpyne te stuit, is die risiko vir die bereiking van doelwitte om dit te verminder steeds baie hoog.

Wat Afrika betref, is die nuus minder goed. Van die bykans 100 miljoen minder hongeres, woon net 12 miljoen in Afrika suid van die Sahara. Een uit drie van die mense in hierdie streek sal steeds honger ly, die hoogste persentasie ter wêreld.

Die FAO se verslag is uiters politiek korrek opgestel, en verwys bloot na die strukturele probleme wat tot die hongersnood aanleiding gee. Dit beteken dat selfs wanneer dit beter met die wêreldekonomie gaan, die aantal honger mense nie afneem nie.

Met ‘n ontleding van spesifieke syfers blyk dit egter dat konflik en korrupsie ‘n groot deel van die blaam moet dra. Die skerpste toename in hongersnood is byvoorbeeld in die DRK waar 69 % meer mense nou honger ly.

Dit is ook nie toevallig nie dat van die wêreld se mees endemiese korrupsie in lande suid van die Sahara voorkom nie.

In Suid-Afrika is beraam dat bykans 100 000 staatsamptenare welsynstoelaes onwettig van die staat ontvang het – in wese gesteel het. Tot dusver is 15 000 reeds aan bedrog skuldig bevind, en hulle moet die geld soos lenings terugbetaal. Nie een is ontslaan nie. Kos word straffeloos uit die monde van die armes gesteel.

Uit ander verslae word op die sosio-ekonomiese en maatskaplike ellende van die vergrote inkomstegaping in groot dele van die wêreld gewys. Volgens beskikbare syfers het Suid-Afrika Brasilië enkele jare gelede as die land met die grootste meetbare gaping verbygesteek, en krimp dié van Brasilië steeds. Brasilië word ook in die FAO se verslag gelys as een van die lande waar baie vordering met die bekamping van hongersnood gemaak is, en die doelwitte reeds byna bereik is. In Suid-Afrika groei die gaping steeds, en gaan die soustreinryers nie net voort om met hul soustrein-buit te spog nie, maar ook om dit heftig te regverdig.

виды архитектурного освещениятопкарго