Niemand nog in hegtenis geneem na moord op haarkapper nie

Die polisie in die Vrystaat het nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n haarkapper van Riebeeckstad in Welkom nie.

Die liggaam van die 53-jarige André Gebhardt is ontdek op die vloer in sy huis.

Hy het sy eie haarsalon vanuit sy woning bedryf. ‘n Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê alle leidrade word opgevolg nadat Gebhardt se pa sy liggaam Maandagoggend ontdek het teen omstreeks 07:30.

Gebhardt se pa het hom na die huis van sy seun gehaas nadat hy hom nie kon bereik via selfoon nie.

Thakeng sê die ouer moes ‘n leer van ‘n buurman leen om oor te klim oor die geslote hek na sy eiendom. Volgens Thakeng was die voordeur en veiligheidshek oop.

Daar was ‘n tou om sy nek en sy hande was vasgebind met skoenveters aan die voorkant van sy liggaam.

Die huisraad was omgekeer. Thakeng sê die kluis is oopgebreek en ‘n onbekende bedrag geld en die oorledene se selfoon word vermis.

Welkom-polisie lê beslag op kos vir onwettige myners

Welkom se polisie het ‘n groot hoeveelheid voedselpakkette en sigarette ter waarde van sowat R500 000 wat bestem is vir onwettige mynwerkers wat ondergronds werk in beslag geneem, het die Vrystaatse polisie Saterdag gesê.

Katlego Sekuriteit se beamptes wat die St Helena-myn se perseel in Welkom oppas, het Saterdagoggend vroeg ‘n wit bakkie opgemerk wat mense aflaai.

Die bakkie het weggery en ‘n kort rukkie later het ‘n groot wit vragmotor aangekom en geparkeer langs die St Helena-myn se Skag 10, ‘n ventilasieskag.

Netjies verpakte kos vir die onwettige mynwerkers ondergronds is met die vragmotor vervoer.

Die bestuurder het te voet gevlug en verdwyn in die donker nadat hy opgemerk is deur die sekuriteitsbeamptes.

Die kospakkies is meestal gemerk vir ‘n “Themba Kaba”.

Welkom se polisiebeamptes is na die toneel ontbied en die pakkette is gekonfiskeer.

Die pakkette bevat, onder andere, pakkies grondboontjies, 500ml bottels Coca-Cola en Stoney-gemmerbier, 1kg pakkies mieliepap, aarbeiroomkoekies, Bull Brand se gepekelde vleis, en sigarette, met ‘n straatwaarde van sowat R500 000.

Welkom-aanvallers nog op vrye voet

Die swart aanvallers wat ‘n vrou van Welkom verras het terwyl sy gebid het, is nog nie vasgetrek nie.

Die 41-jarige vrou was voorverlede Vrydag in die vroeë oggendure in haar huis in Bedelia langs haar bed in ‘n knielende posisie toe sy bewus geword het van iemand wat naby haar is.

Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng, sê twee mans met klapmusse en handskoene het agter die vrou gestaan en na haar gestaar.

Volgens hom het die booswigte vermoedelik toegang tot die vrou, wat alleen tuis was, se huis verkry deur ‘n venster in die studeerkamer. Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het ná 12:00 reggemaak om te gaan slaap.

Die mans het haar daarna beveel om stil te bly en op ‘n rusbank in ‘n ander vertrek te sit, sê Thakeng. Hulle het haar kop met ‘n laken toegegooi en haar hande met ‘n handdoek agter haar rug vasgebind.

Die mans het haar met ‘n moersleutel aangeval. Volgens hom het die mans aan die vrou gesê hulle is hier om ‘n plasmaskerm-televisiestel te vat en haar dood te maak.

Thakeng sê die rowers het ‘n televisiestel, ‘n selfoon, huissleutels en drie trouringe gevat. Terwyl hulle op pad uit was, het een van die mans aan die ander man gesê hulle moet doen wat hulle beplan het om te doen.

In reaksie daarop het die ander man gesê hulle moet die vrou alleen laat. Die geskokte vrou kon daarin slaag om haarself te bevry.

Thakeng vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel.

Lyk van vierde onwettige myner gekry

Die polisie het die liggaam van ‘n vierde onwettige myner by Harmony Gold se Eland-skag in Welkom gevind.

Vrystaat polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng sê drie onwettige myners se lyke in Maandag uit die skag gehaal. Die oorledenes was burgers van Lesotho en Zimbabwe.

Thakeng sê die polisie het sedert Maart meer as 530 onwettige mynwerkers in Welkom in hegtenis geneem.

Hulle staan tereg op aanklagte van betreding, poging tot diefstal van myneiendom of gouddraende materiaal en dat hulle onwettig in die land is.

Afrikaans: Swart polisieman van Welkom se video versprei viraal

Die video van ‘n swart polisieman van Welkom wat weier om ‘n blanke in Afrikaans te help, versprei sedert gister viraal op die internet. Die meeste nuuswerwe in die land vertoon ook weergawes daarvan. Op Twitter steun swartes oor die algemeen die polisieman wat botweg weier om enigiemand in Afrikaans te help, terwyl Afrikaners weer simpatie vir die klaers het wat daarop aandring om in Afrikaans bygestaan te word.

Sestig werkers in hospitaal na ammoniaklek

Die meerderheid van die Sparta Foods-werknemers wat gister in Mediclinic Welkom opgeneem is, weens ammoniakdampe wat hulle ingeasem het, is reeds ontslaan.

Hospitaalwoordvoerder Marissa Pawson sê 25 van die 27 pasiënte is reeds huis toe.

Die drama het homself oor die naweek afgespeel. Die lekkasie het vermoedelik ontstaan in ’n pyp wat gas aan koelkamers verskaf.

Volgens Pawson is slegs twee werknemers oornag vir observasie opgeneem.

Ongeveer 60 werknemers is na verskeie plaaslike hospitale in die stad geneem – onder meer na die St. Helena-hospitaal.

Intussen het Sparta-woordvoerder, Niel Venter aan OFM-nuus gesê werksaamhede by die beesvleisverskaffer het weer hervat, hoewel sekere gedeeltes van die aanleg steeds afgesper is.

Welkom woedend oor naamsveranderinge

Inwoners van Welkom is ontevrede oor die voorgestelde plek- en straatnaamsveranderinge in die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit.

Van die voorgestelde veranderinge sluit onder andere Constantia-straat na Govan Mbeki-weg, Jan Hofmeyer-straat na Ahmed Kathrada-weg en Volksweg na Andrew Mlangeni in.

Inwoners kla dat sulke veranderinge nie versoenend is nie maar sal eerder verdeeldheid aanhelp.

Intussen het sakeondernemings van Welkom gesê hulle is ontevrede met die finansiële implikasies wat sulke naamsveranderinge tot gevolg sal hê, en dat daar belangriker sake is om op te fokus.

Daar sal hierdie Vrydag om 16:00 ’n openbare vergadering by die TS Du Plessis-saal wees waar inwoners hul menings kan lug.

Byna 200 huise beskadig in Welkom-ontploffing

Tussen 150 en 200 huise is na raming beskadig in ‘n ontploffing in Welkom wat waarskynlik te wyte was aan metaangas.

Die maatskappy Harmony Gold se Marian van der Walt sê die ontploffing het Saterdag plaasgevind by die Brand Een-ventilasieskag.

“Ek is nie ‘n kenner op hierdie gebied nie, maar na my wete is daar metaangas ondergronds en dit word vrygestel wanneer daar mynbou is,” het Van der Walt gesê.

Die stad se nooddienste se Francois Klaassen sê die ontploffing, omstreeks 17:30, is veroorsaak deur die opbou van metaangas wat deur ‘n vonk ontsteek is.

Klaassen sê die meeste van die skade was in Jan Cillierspark, Doorn en Sandania. Ruite het gebars, plafonne het uitgeval, mure het gekraak en toilette het gebreek. Klaassen sê werkers was besig om die skag te rehabiliteer.

Klaassen sê ‘n opskamer is op die toneel ingerig en inwoners en sakeondernemings wat geraak is kan hul skade hier kom aanmeld.

Intussen is die toestand van die ses mense, wat na die voorval in Mediclinic Welkom opgeneem is, vanoggend stabiel. Woordvoerder Marissa Pawson sê hulle word vir geringe beserings en rookinaseming behandel.

Harmony Gold het ‘n ondersoek van stapel gestuur na die ontploffing Welkom geruk het.

Aardbewing tref Welkom

Inwoners van Welkom het gisteraand groot geskrik toe ‘n aardbewing dele in die stad en omliggende gebiede tot sover as Bultfontein getref het.

‘n Inwoner van Reitzpark in die stad, Sonnika Raath, het aan OFM gesê haar honde was behoorlik op hol met die aardskudding, wat vir ‘n paar sekondes geduur het.

Sy sê die aardskudding gisteraand was egter heelwat ligter as ‘n aardskudding verlede jaar in groot dele van die land.

Die Raad vir Geowetenskappe het intussen bevestig dat die aardskudding 3.9 op die Richterskaal gemeet het.

Die Raad het versoek dat mense ‘n vraelys op sy webtuiste voltooi vir data-insamelingsdoeleindes.