Die meerderheid van die Sparta Foods-werknemers wat gister in Mediclinic Welkom opgeneem is, weens ammoniakdampe wat hulle ingeasem het, is reeds ontslaan.
Hospitaalwoordvoerder Marissa Pawson sê 25 van die 27 pasiënte is reeds huis toe.
Die drama het homself oor die naweek afgespeel. Die lekkasie het vermoedelik ontstaan in ’n pyp wat gas aan koelkamers verskaf.
Volgens Pawson is slegs twee werknemers oornag vir observasie opgeneem.
Ongeveer 60 werknemers is na verskeie plaaslike hospitale in die stad geneem – onder meer na die St. Helena-hospitaal.
Intussen het Sparta-woordvoerder, Niel Venter aan OFM-nuus gesê werksaamhede by die beesvleisverskaffer het weer hervat, hoewel sekere gedeeltes van die aanleg steeds afgesper is.
