Migrante-krisis aanstons in Luxemburg bespreek

Die migrante-krisis in Europa sal op 14 September in Luxemburg bespreek word.

Ongunstige publisiteit oor die dodetal van omwettige aankomelinge wat reeds in hul tog oor land en op see omgekom het, noop EU-lidlande om te reageer.

Minstens 2 500 migrante is sedert Januarie vanjaar dood, van wie die meeste in die Middellandse See verdrink het.

Die migrante vlug van armoede in die Midde-Ooste en Afrika, asook chaos wat Amerikaans-gesteunde rebelle en NAVO in Sirië en Libië gesaai het.

Luxemburg, waar die roterende EU-voorsitterskap gesetel is, het die ministers van al 28 lidstate versoek om op 14 September te vergader en gesê: “Die situasie van die migrasieverskynsel buite en binne die EU het die afgelope tyd ongekende afmetings aangeneem.”

Die Duitse kanselier Angela Merkel, het vroeër ‘n beroep op lidlande gedoen om ook die las te dra aangesien Duitsland verwag dat die getal asielsoekers in 2015 in dié land viervoudig tot omtrent 800 000 gaan toeneem.

“Indien Europa solidariteit het en ons solidariteit teenoor ander bewys het, dan moet ons ook nou solidariteit wys,” het sy aan verslaggewers in Berlyn gesê. “Alles moet nou vinnig gebeur.”

Merkel het erken dat die groot getalle migrante na die land, tot ingrypende verandering kan lei, met meer as 18 000 vlugtelinge wat die afgelope naweek Duitsland binnegestroom het.

Volgens marknavorsing het bykans die helfte van bevolking voorbehoude oor die getal migrante wat in Duitsland toegelaat word.

Duitsland het vroeër bekend gemaak dat hulle 31 000 migrante sal inneem.

Luxemburg het gesê die vergadering sal fokus op die beleid om migrante terug huis toe te stuur en maatreëls om mensesmokkelary te voorkom.

Die Italiaanse kuswag het gesê bykans 1 600 mense is die naweek in die Middellandse See gered en na Italië gebring.

Sekere regerings weier om vlugtelinge in te neem en het die EU se voorstelle teengestaan om nog meer onwettiges te akkomodeer.

Kiesers van links en regs is gekant teen die instroming. In Nederland, Oostenryk en Frankryk groei die steun vir regse anti-immigrasiepartye. In Duitsland is daar benewens kritiek uit Merkel se eie politieke sentrum-geledere, ook teenkanting van links.

Die Italiaanse premier, Matteo Renzi, het gesê die groeiende dodetal sal druk op die EU-state plaas om die probleem te konfronteer. “Dit sal maande duur, maar ons sal een Europese beleid oor asiel hê en nie soveel beleide soos wat daar lande is nie,” het hy gesê.

David Cameron gaan stryd teen Jean-Claude Juncker verloor

Die Britse eerste minister, David Cameron, gaan volgens kenners sy stryd verloor om die aanstelling van Jean-Claude Juncker as president van die Europese Kommmissie te verhoed.

Die kwessie sal vandag tot stemming gebring word en na verwagting sal Juncker, ‘n Luxemburgse burger, wel aangestel word omdat hy die steun van die meeste Europese staatshoofde geniet.

Die Britse eerste minister poog om aansien in sy eie land te herwin ná die opkoms van die euroskeptiese party, Ukip, tydens die onlangse Europese verkiesings. Gisteraand het Cameron verklaar dat samesprekinge vandag “reguit” gaan wees waar dit gaan om die vasstelling van Europese prioriteite oor die volgende vyf jaar.

“Daar gaan gestem word en laat ons sien wat die uitslag is. Maar dis van die allergrootste belang dat mense weet dat ek doen wat ek sê,” het David Cameron teenoor die BBC verklaar. “Ek het belowe dat daar weer onderhandeling sal plaasvind en dat die Britse volk oor ons Europese toekoms sal besluit… Dis die eerste stap in ‘n lang veldtog om te verseker dat verandering plaasvind wat ‘n beter plek vir Groot Brittanje in Europa sal verseker.”

Volgens Cameron is Juncker “nie die regte persoon om dié instelling te lei nie” en het hy ‘n beroep gedoen op ander Europese leiers wat met hom saamstem om saam te staan.

Jean-Claude Juncker staan buitengewone behandeling vir Brittanje teenoor ander Europese state teen. Hy is egter so te sê verseker van ‘n sege teenoor die Britte vandag en sal hoogs waarskynlik president van die Europese Kommissie word. Juncker was voorheen eerste minister van Luxemburg en ‘n vorige hoof van die maatskappy Eurogroupe.

‘Rue des Boers’ in Luxemburg verander na Nelson Mandelaweg

ruedesboersLuxemburg se tweede grootste stad, Esch-sur-Alzette, gaan ‘n bekende pad wat in 1923 na die Boere-soldate in die Tweede Vryheidsoorlog vernoem is, verander na Nelson Mandela-weg. Dié aankondiging het hewige reaksie onder die land se konserwatiewe en selfs verregse groepe uitgelok. Die Nasionale Museum vir Weerstandsbewegings het die stadsvaders van Esch-sur-Alzette naby die Belgiese grens toestemming gevra om die naam van die “Rue des Boers” te verander ná mnr. Nelson Mandela se dood in Desember verlede jaar.

‘n Uitstalling wat bekend staan as “Van Prisonier tot President” word tans deur die museum aangebied. Die burgemeester, Vera Spautz, sê die museum is naby die Weerstands-plein geleë en die stad het gemeen dat die ou Suid-Afrikaanse president se verset teen die destydse NP-regering meer simbolies as dié van die Boere-soldate is. Die Apartheidsmuseum in Johannesburg het sy steun aan die naamsverandering toegesê. – Radio Pretoria

Genadedood styg skerp in Nederland

genadedoodDie aantal Nederlanders wat genadedood vra, het meer as verdubbel in die 10 jaar sedert wetgewing verander het. Die aantal het met 13 persent verlede jaar tot 4188 gestyg.

Genadedood of geassisteerde selfmoord, waar ‘n dokter teenwoordig is, word gewoonlik deur ‘n sterk barbituraatdoepa geïnduseer, en is
sedert 2002 wettig in Nederland.

Versoeke het geleidelik gestyg sedert 2003, toe 1626 mense aansoek gedoen het om genadedood – in die meeste gevalle met ‘n dodelike inspuiting – of geassisteerde selfmoord .

Voorheen was dit kwaai omstrede, maar het meer as verdubbel oor die dekade tot 2012 weens sosiale aanvaarding.

Een verduideliking vir die skerp styging in Nederlandse gevalle is die bekendstelling verlede jaar van mobiele eenhede wat rondreis om genadedood toe te laat. Pasiënte word deur die mobiele eenheid vermoor as gesinsdokters weier .

Sowat 80 persent van die mense wat genadedood versoek, word vermoor deur dokters op die gronde dat hulle ondraaglike pyn ly en ‘n ingeligte keuse uitoefen. Die mening van ‘n tweede dokter is ook nodig .

Genadedood word in drie Europese lande , Nederland, België en Luxemburg toegepas.

Nederland vermoor twee keer soveel mense as België. Genadedood is die laagste in Luxemburg, waar daar tussen 2011 en einde 2012 net 14 mense vermoor is, ‘n tiende van wat in die Nederlande gebeur.

Die meeste, 78 persent of 3251 versoeke het gekom van mense met kanker. Diegene wat ly aan senuweestelselafwykings was in die tweede plek, 257, gevolg deur die genadedood van 156 mense wat ly aan kardiovaskulêre siekte.

Twee en veertig mense met demensie en 13 pasiënte wat ly ernstige psigiatriese probleme is vermoor.