‘Rue des Boers’ in Luxemburg verander na Nelson Mandelaweg

ruedesboersLuxemburg se tweede grootste stad, Esch-sur-Alzette, gaan ‘n bekende pad wat in 1923 na die Boere-soldate in die Tweede Vryheidsoorlog vernoem is, verander na Nelson Mandela-weg. Dié aankondiging het hewige reaksie onder die land se konserwatiewe en selfs verregse groepe uitgelok. Die Nasionale Museum vir Weerstandsbewegings het die stadsvaders van Esch-sur-Alzette naby die Belgiese grens toestemming gevra om die naam van die “Rue des Boers” te verander ná mnr. Nelson Mandela se dood in Desember verlede jaar.

‘n Uitstalling wat bekend staan as “Van Prisonier tot President” word tans deur die museum aangebied. Die burgemeester, Vera Spautz, sê die museum is naby die Weerstands-plein geleë en die stad het gemeen dat die ou Suid-Afrikaanse president se verset teen die destydse NP-regering meer simbolies as dié van die Boere-soldate is. Die Apartheidsmuseum in Johannesburg het sy steun aan die naamsverandering toegesê. – Radio Pretoria