Die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, John Kerry sê hy het ‘n openhartige gesprek met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu gehad oor nuwe omstredenheid rakende Israelse vestings.
Kerry is werp alles in die stryd om sy inisiatief vir vrede in die Midde-Ooste op koers te hou.
Samesprekings word vandag in Jerusalem hervat. Kerry sê hy glo ook dat die Palestynse president, Mahmoud Abbas die samesprekings wil laat voortduur.
Sommige Palestyne het ‘n oproep gedoen om die onderhandelinge te boikot, nadat Israel planne bekendgemaak het om meer as 3 000 huise aan die Wesoewer en in Oos-Jerusalem te bou.
Kerry het benadruk dat Amerika dié planne as onwettig beskou. – RSG
Onbemande Israeliese tuig vlieg oor die Hatezerimlugmagbasis in die Negevwoestyn
Vyf militante is dood in ‘n Israelse lugaanval in die Sinai Skiereiland in Egipte.
Die aanval volg nadat Israel intelligensie-waarskuwings van hul Egiptiese ampsgenote ontvang het.
Israelse intelligensie het gewaarsku dat Islamitiese militante, wat bande het met al Kaida, hulle nou in baie dele van noord-Afrika en die Midde-Ooste bevind.
Vrydag is vyf Jihadi-ekstremiste dood in ‘n onbemande vliegtuigaanval in Rafah aan die Egiptiese kant van die grens met Gasa.
Dit was die eerste Israelse militêre aanval op Egipte sedert die 1979 vredesverdrag tussen die twee lande.
Die aanval is uitgevoer na Israel se sluiting van die Elat lughawe Donderdagaand ure ná waarskuwings van Egipte oor ‘n moontlike aanval.
Sosiologies kan Christelike Sionisme waarskynlik beskou word as ‘n produk van die besondere omstandighede van die Verenigde State van Amerika, waar die wêreld se grootste gemeenskap van Jode in dieselfde land as die wêreld se grootste gemeenskap van evangeliese Christene woon. Maar dié verhouding het groot politieke implikasies vir die VSA, sowel as die wêreld.
Christelike Sioniste is tans die grootste, mees kontroversiële en mees verbete drukgroep binne Christelike strominge. Die spanning in die Midde-Ooste, Israel se hervestigingstrategie en die vredesproses tussen Israel en die Palestyne, word deur hulle aksies en optrede in die visier gehou.
Ten minste een uit elke vier Amerikaanse Christene wat onlangs deur die Christianity Today tydskrif gepols is, het gesê hulle glo dit is hul Bybelse verantwoordelikheid om die volk van Israel te ondersteun. Hierdie siening is algemeen bekend as Christelike Sionisme.
Die Pew Research Center het die syfer op 63 persent onder wit Evangeliste gestel. Swart Evangeliste is meer geneig om krities teenoor Israel te wees. Christelike Sionisme het die hoofstroom Amerikaanse evangeliese, charismatiese en onafhanklike kerke oorgeneem, insluitend die Assemblies of God, Pinkster-en Suidelike-Baptiste, sowel as baie van die onafhanklike mega-kerke.
Dit is minder algemeen binne die historiese denominasies, waar steun vir menseregte, die oppergesag van die internasionale reg en empatie met die Palestynse volk heers.
Die oorsprong van die beweging kan teruggevoer word na die vroeë 19de eeu, toe ‘n groep eksentrieke Britse Christen-leiers begin het om steun te werf vir die Joodse terugkeer na Palestina as ‘n noodsaaklike voorvereiste vir die terugkeer van Christus.
Die beweging het goed op dreef gekom in die middel van die 19de eeu, toe Palestina strategiese waarde vir Britse, Franse en Duitse koloniale belange in die Midde-Ooste begin verkry het. Proto-Christelike Sionisme het dus ironies genoeg Joodse Sionisme deur meer as 50 jaar voorafgegaan! Sommige van Theodore Herzl se sterkste voorstanders was Christelike geestelikes.
In sy huidige gedaante is dit minder van ‘n moderne teologiese benadering as ‘n magtige politieke beweging wat selfs die mees ekstreme ideologiese posisies van Sionisme onderskryf. “Afvalliges” sien egter diep nadelige gevolge vir ‘n regverdige vrede tussen Palestina en Israel.
Hulle beswaar is dat dit ‘n wêreldbeskouing bevorder waarin die Christelike boodskap aan ‘n ideologie van die Imperium, kolonialisme en militarisme ondergestel word. In sy uiterste vorm, plaas dit klem op die apokaliptiese gebeure wat sal lei tot die einde van die wêreld eerder as ‘n lewende Christus se liefde en geregtigheid waarin gelowiges vervulling vind, sê Christelike groepe soos onder meer die Kairos-beweging, die Lutherse Kerk en Menoniete.
Kritici bevraagteken voorts waarom Christelike Sioniste so sterk met die eng rassegrondslag van die Joodse volk identifiseer, terwyl hulle juis daarvan uitgesluit word, en waarom hulle nie liewer die lot van Arabiese Christene oorweeg nie.
Volgelinge van Christelike Sionisme is daarvan oortuig dat die stigting van die staat van Israel in 1948 en die inname van Jerusalem in 1967 die wonderbaarlike vervulling van God se beloftes aan Abraham is wat die ewige vestiging van Joodse volk in Palestina voorsien het.
Hal Lindsey, John Hagee en Pat Robertson, se boeke oor dié onderwerp het meer as 100 miljoen eksemplare verkoop. Dit word aangevul deur kinderboeke, video’s en selfs gewelddadige rekenaarspeletjies.
Ontluikende Christelike Sioniste-organisasies soos die International Christian Embassy (ICEJ), Christian Friends of Israel (CFI) en Christians United for Israel (CUFI) beskik oor geweldig baie invloed op Capitol Hill, met ‘n ondersteuningsbasis van meer as 50 miljoen gelowiges.
Dit beteken daar is nou ten minste tien keer soveel Christen-Sioniste as Joodse Sioniste. In Europa is dit die Sionistiese Hasbarafia wat steunwerwing vir Israel doen.
Pastoor John Hagee is een van die leiers van die Christelike Sioniste-beweging. Hy is die stigter en hoofpastoor van die Cornerstone Kerk, ‘n Evangeliese Kerk in San Antonio, Texas met 19 000 lidmate. Sy weeklikse programme word uitgesaai op 160 TV-stasies, 50 radiostasies en agt netwerke in ‘n beraamde 99.000.000 huise in 200 lande. In 2006 het hy Christians United for Israel gestig.
“Vir 25 byna 26 jaar nou, het ek die Evangeliese gemeenskap oor televisie opgewerk. Die Bybel is ‘n baie pro-Israel boek. As ‘n Christen erken ‘Ek glo die Bybel’, kan ek van hom ‘n pro-Israel ondersteuner maak, of sy gebrek aan geloof aan die kaak stel. So ek het die Christene net waar ek hulle wil hê, kan jy sê.”
In Maart 2007 het Hagee by die Amerikaanse Israel Public Affairs Committee (AIPAC) Konferensie gesê:
“Die slapende reus van Christelike Sionisme het ontwaak. Daar is 50 miljoen Christene wat opstaan en die staat van Israel ondersteun… “
Die Jerusalem Post het daarop gewys dat sy toespraak geen gebrek aan duidelikheid gehad het nie. Hagee het gewaarsku dat Iran se kernbedreiging gestop sal word.
Christelike Sioniste toon wisselende grade van entoesiasme vir die implementering van ses basiese politieke oortuigings:
Die oortuiging dat die Jode God se uitverkore volk is.
As God se uitverkore volk, moet die finale herstel van Israel dus letterlik aktief aangemoedig, befonds en gefasiliteer word deur vennootskappe met uitsluitlik Jode. Palestynse Christene is uiteraard nie daarby ingereken nie.
Eretz Israel, soos afgebaken in die Bybel, vanaf die Nyl tot by die Eufraat, behoort uitsluitlik aan die Joodse volk. Palestyne moet uit hul huise verdryf word en die Joodse nedersettings uitgebrei en gekonsolideer word.
Jerusalem word beskou as die ewige en eksklusiewe hoofstad van die Jode.
Christelike Sioniste bied wisselende grade van ondersteuning vir organisasies soos die Joodse tempel Mount Faithful.
Christelike Sioniste het ‘n pessimistiese siening van die toekoms, en glo aan ‘n apokaliptiese oorlog van Armageddon wat binnekort sal plaasvind.
Soos die vestiging van die staat van Israel, kan ‘n oorlog in die Midde-Ooste dalk die vervulling wees van wat hierdie beweging wil.
Hoe toegewyd is u aan die saak van Afrikanervryheid? Is u soos Nelson Mandela bereid om tronk toe gaan daarvoor? Sal u soos 4500 Boere en 27 000 vroue en kinders tydens die Tweede Vryheidsoorlog sterf daarvoor?
Ná my onlangse besoek aan Israel het ek ‘n brief daaroor aan ‘n vermaarde Afrikaanse akademikus geskryf. In antwoord vertel hy my van wat ‘n vorige Israelse minister, Salman, op 29 April 1960 net ná Sharpeville aan die koerantman Piet Cillié gesê het. Hy het gesê daar is net twee alternatiewe – Afrikanernasionalisme of swart nasionalisme. Daar is geen Suid-Afrikaners nie en die Engelse tel nie. Maar sal Afrikanernasionalisme dit haal? Salman het Cillié “vorsend aangekyk” en gesê: “My volk is ‘n toegewyde volk. Kan u sê dat u volk ook ‘n toegewyde volk is?”
Terwyl ek in Israel heen en weer tussen Tel Aviv en Jerusalem gereis het en oral baie vriendelik en goed ontvang is, het ek onder die indruk gekom dat die Israeli’s vandag steeds ‘n toegewyde volk is wat téén die wêreldmening in hul voorbestaan en soewereiniteit verdedig.
Maar net soos in 1960 moet ons vandag aan onsself vra: “Is die Afrikanervolk vandag ‘n toegewyde volk?” En dan die persoonlike vraag wat elkeen van ons aan hom- of haarself kan stel: “Is ek ‘n toegewyde Afrikaner wat vir vryheid werk of veg?”
In sy brief aan my skryf die Afrikaanse akademikus: “So dikwels kan ’n mens wel vra of dit nie aan toewyding by ons skort nie. Die bittereinders van die Tweede Vryheidsoorlog was so toegewyd, die GRA-mense en van die latere taalstryders en Afrikaner-nasionaliste, en deesdae mense soos jy – maar dikwels is ons net ’n rukkie lank geesdriftig.”
Dis vir my ‘n besondere pluimpie dat hierdie bekende en geliefde navorser, skrywer van tientalle boeke, my in sy brief by die groep van toegewyde Afrikaners inreken. Hoewel ek my geensins vir ‘n groot Afrikaner wil uitgee nie, kan ek tog op grond van iemand anders se deskundige oordeel vandag die vraag aan ander vra: “Is u ‘n toegewyde Afrikaner?” Want sonder toegewyde Afrikaners en mense wat vir vryheid sal opoffer, sal ons nooit weer vry wees nie.
Die Afrikaner het vandag alles om vry te wees: ons het geld, ons het kundigheid, ons is opgelei, ons het organisasievermoë en logistiek, ons besit grond. Al wat by ons ontbreek is die wíl om vry te wees. En natuurlik: die toewyding.
Wat ons te doen staan, is baie helder. Die nuwe Suid-Afrika stort feitlik vanself in duie, vanweë korrupsie, misdaad, instroming oor ons landsgrense, diskriminasie teen blankes en wat nog. Hierdie orde wankel reeds; al wat nodig is, is ‘n goeie stamp vir hom om tot ‘n val te kom.
In die eerste plek moet alle Afrikaners daarvan oortuig word dat die huidige stelsel nie meer legitiem is nie en vervang moet word. Daarvoor kan ons die tegnologie en veral die internet, die Praagwebwerf en Facebook, gebruik. Maar nogtans het ons geld daarvoor nodig.
Soveel kere was ek in die onlangse tyd al by ryk Afrikaners. Suksesvolle mense, met groot en duur motors, ‘n huis in die stad, ‘n huis by die see, dalk ‘n plaas, selfs woonstelle in die buiteland. Die man verdien een miljoen, selfs twee miljoen rand per maand. Maar as jy hom vir R1000 per maand vir ons stryd vra, dan moet hy eers bietjie gaan nadink. Dan vra jy hom vir R500 of nog minder. Maar selfs R50 per maand is vir hom te veel, want hy is tevrede om onder ‘n vreemde regering bloot geld te maak en die feit dat honderde duisende van sy volksgenote nie so gelukkig is nie en onder die ANC krepeer, skeel hom min.
So ‘n man is wel toegewyd aan homself, moontlik aan sy gesin, maar hy is geen toegewyde Afrikaner nie.
Ek wil u nou vra om saam met my te begin veg vir vryheid. Nooit sal ek aanvaar dat ons vir altyd onder ‘n vreemde regering moet dien en nie onsself kan regeer nie. Dis ‘n basiese mensereg, iets wat die meeste volke op aarde as ‘n gegewe beskou. Maar daardie fundamentele vryheid word van ons weerhou.
Word saam met my ‘n toegewyde Afrikaner. U kan baie doen, u kan min doen, maar doen iets! U kan R100 000 per maand bydra of u kan R10 bydra. Maar dra iets by! Moenie net ‘n passasier wees nie. Moenie net op die kantlyn staan en kyk hoe ons toegewyde Afrikaners dag vir dag ons almal se vryheid probeer herwin nie.
Daar is ‘n ou spreuk wat lui: ons veg een vir een, maar ons word sáám oorwin. Dis nie nodig dat alle Afrikaners of selfs die meerderheid vryheid nastreef nie. Maar ‘n beduidende groep sal wel toegewyd aan die saak van vryheid moet raak.
‘n Vermoedelike kortafstandvuurpylsalvo vanuit die Egiptiese Sinaï, ‘n gebied waar Islamitiese militantes in die verlede aktief was, het Israel en Jordanië se Rooi See-hawens Maandag getref, het die Israeliese polisie gesê.
Daar was geen nuus oor ongevalle in die Israeliese hawe van Eilat nie, het die distrikshawehoof Moshe Cohen gesê en bygevoeg dat sy magte nog steeds probeer om te bevestig dat die vyf ontploffings wat in die oggend gehoor is wel deur granate veroorsaak is.
Cohen het aan die Israeliese Radio gesê dat twee van die verdagte vuurpyle of mortierbomme blykbaar in die see beland het, terwyl ‘n ander die nabygeleë Jordaanse hawe van Aqaba getref het.
Op ‘n vraag van waar die salvo gevuur is, het Cohen gesê: “Dit is ‘n bietjie vroeg om te sê, maar dit is redelik om te aanvaar dat dit uit die suidelike gebied afkomstig is.”
Hy het verwys na die naburige Egipte se Sinaï-woestyn van waar sporadiese geweld afkomstig is wat aan Islamitiese militantes toegeskryf word.
Ten minste een vuurpyl het Aqaba op 22 April getref, maar geen ongevalle veroorsaak nie. Amman het gesê dat die vuurpyl van buite Jordanië afgevuur is en die Israeliese media het gepraat van die Sinaï as ‘n moontlike lanseerpunt.
In 2005 is vuurpyle op Amerikaanse oorlogskepe in die hawe van Aqaba afgevuur, maar het hul teiken gemis het en ‘n Jordaanse soldaat op land gedood. ‘n Groep wat aanspraak maak dat hy bande met Al-Kaida het, het gesê dat hy vir die aanval verantwoordelik is.
Twee jaar later het ‘n Palestynse selfmoordaanvaller deur die Sinaï gesypel en drie mense by ‘n bakkery in Eilat vermoor.
Jordanië en Egipte is die enigste Arabiese state wat volle vredesooreenkomste met Israel het.
Die gemiddelde man op straat is waarskynlik nie bewus daarvan dat meer as 300 Jode aan Boerekant in die Anglo-Boereoorlog vir die vryheid van die Boererepublieke (Transvaal en die Vrystaat) geveg het nie. In hierdie verband het David Saks, navorser by die Joodse Raad van Afgevaardigdes, so pas sy nuwe boek, Boerejode – Jews in the Boer Armed Forces (1899-1902), by ‘n byeenkoms in die Sinagoge in Johannesburg vrygestel.
Volgens Saks volg hy, wat sy navorsing betref, in die voetspore van hoofrabbi (professor) Louis Rabinowitz, wat in die jare 1940 tot ’50 die rol van die Boerejode gedokumenteer het. Rabinowitz was veral beïndruk met die feit dat dr. DF Malan (eerste ministervan die Unie van SA, sedert 1948) die eerste staatshoof was wat erkennning aan die totstandkoming van die staat Israel gegee het. Hy was ook krities teen die Britse regering wat die daarstelling van die staat Israel tydens hulle bevrydingstryd teengestaan het.
Die Boeremagte se Longtom-kanonne is deur twee Joodse tegnici (Sam Leon en Leon Grunberg) nie net nagesien nie, maar was ook aan die hoof van twee werkswinkels vir die produksie van ammunisie. Die fabrieke was by Begbies Foundary en in die werkswinkels van die Nederlands/Zuid-Afrikaanse Spoorweë.
Sowat 300 Jode het aktief aan die oorlog meegedoen, wat – naas die Duitsers en Nederlanders – die derde grootste buitelandse komponent in die Boeremagte verteenwoordig het.
Volgens Saks het die Boere wel uiteindelik teen die oormag van Engelse verloor, maar die oorlog bly vir die Boere se vryheidsideaal ‘n morele oorwinning. In die Boererepublieke was die verhouding tussen Boer en Jood warm en gesellig. Raakpunte is die rol van Israel in die Bybel en die Afrikaner se sin vir godsdiens.
Saks haal vir Jakkals Segall aan wat in 1943 verklaar het dat hy wat Saks is wel as immigrant hierheen gekom het, maar van oortuiging was dat hy sy man moet staan en as dit nodig sou wees, sy lewe vir die vryheidstrewe van die Boere moes gee. “Die outydse Afrikaners het geweet wat regverdigheid is. Hulle was die sout van die aarde.”
Naskrif
Die wedersydse samewerking tussen die SA Nasionale Intelligensiediens van generaal Hendrik van den Berg en die Mossad van Israel sal nog gedokumenteer moet word. Insgelyks is die nuwe SA beleid sedert 1994 uit en uit pro-Palestyns en anti-Joods. Daar moet ook opgeteken word dat beide apartheid en die Joodse Sionisme deur die VN as rassisties en ‘n sonde teen die mensdom gebrandmerk is.
Die Britse minister van buitelandse sake, David Milliband, glo dat Israel Britse paspoorte misbruik het in die sluipmoord op ‘n Hamas-amptenaar in Doebai .
“In die lig daarvan dat hierdie ‘n baie gesofistikeerde operasie was waarin hoë-kwaliteit vervalsings gemaak is, sien die regering dit as baie waarskynlik dat die vervalsings deur ‘n staatsintelligensiediens gemaak is,” het Miliband aan parlementslede gesê.
“Hierdie, tesame met ander ondersoeke met ‘n verbintenis met Israel wat deur die Britse agentskap teen ernstige georganiseerde misdaad (Soca) gedoen is, het ons by die slotsom gebring dat daar oortuigende redes is om te glo dat Israel verantwoordelik was vir die misbruik van die Britse paspoorte.”
Miliband het ook bevestig dat ‘n Israelse diplomaat op sy versoek onttrek is. Hy is twee weke gegee om Brittanje te verlaat. ‘n Segsman het namens Gordon Brown gesê die premier ondersteun die besluit.
Die Mossad, Israel se geheime diens, word allerweë vir die sluipmoord op Mahmoed al Mabhoeg op 20 Januarie in ‘n luukse hotel verantwoordelik gehou.
Ander identiteite wat in die sluipmoordaanval gebruik is, is na bewering Iers, Frans en Australies, volgens die Doebaaise polisie.
Interpol het lasbriewe vir die inhegtenisname van 27 verdagtes in verband met die moord uitgereik.
Ministers in Brittanje is woedend nadat Israelse Mossadagente klaarblyklik met gesteelde identiteite van Britse paspoorthouers gereis het om ‘n sluipmoord in Doebai te gaan pleeg. Dié land het gedreig om hulle inligtingsverhouding met Israel op te skort indien onomwonde bewyse vir die diefstal gevind word.
‘n Moordbende van die Mossad het glo vroeër vandeesmaand die paspoorte van ses niksvermoedende Britte gekopieer wat tans uit vrees vir hul lewens moet skuil teen weerwraakaanvalle.
Israel se intelligensiediens, wat nog nie ‘n aandeel in die moord ontken het nie, het tot dusver die gebruik van Britse identiteite in sulke koverte operasies vermy nadat hulle voorheen onderneem het om dit nie te doen nie.
Die Israelse ambassadeur in die VK is na die Foreign Office ontbied te midde van die stygende diplomatieke herrie. Ron Prosor sal Sir Peter Ricketts, ondersekretaris van buitelandse sake, Donderdag ontmoet om vrae oor Israel se betrokkenheid te beantwoord.
Gordon Brown het ‘n volle ondersoek na die paspoortbedrog gevra.
Die Mossad word daarvan verdink dat hulle ‘n militêre bevelvoerder en Hamasleier, Magmoed al-Mabhoeg, op 20 Januarie in sy hotelkamer in Doebai vermoor het. Hamas is die Moslemgroep wat die Gazastrook beheer.
Die ses Britte wie se paspoorte gekopieer is, woon almal in Israel, wat beteken dat die Mossad maklike toegang tot hulle reisdokumente sou kon verkry het.
‘n Senior amptenaar van buitelandse sake in Brittanje het aan die Daily Telegraph gesê as daar bewyse van die Mossad se betrokkenheid in die moorde gevind word, sal dit intelligensie-uitruilooreenkomste tussen Brittanje en Israel benadeel.
Hy het gesê as dit die geval blyk te wees, sal Brittanje bande met die Mossad verbreek soos Margaret Thatcher in 1986 gedoen het nadat ‘n Mossadagent ‘n sak vervalsde Britse paspoorte verloor het..
Die Israelis is terugverwelkom eers toe hulle onderneem het om nie weer van Britse paspoorte in koverte operasies gebruik te maak nie.
Israelse minister van buitelandse sake, Avigdor Lieberman, het intussen verklaar dat daar geen rede is om Israel te verdink nie, maar het nogtans geweier om sy land se veiligheidsdiens se betrokkenheid amptelik te ontken.
Hy het gesê Israel het ‘n “beleid van dubbelsinnigheid” wat hulle handhaaf in sulke gevalle ter wille van veiligheid.
Hamas-leiers het hulleself gister na Egipte gehaas te midde van tekens van vooruitgang in ‘n ooreenkoms om honderde Palestynse gevangenes vir ‘n Israeli-soldaat wat vir meer as drie jaar deur die militante Islamitiese groep gevange gehou is, te ruil.
Die uitruiling kan Hamas ‘n hupstootjie ten koste van hulle sleutelopponent, die Westersondersteunde president Mahmoed Abbas gee, deels omdat een van die gevangenes wat vrygelaat sal word Marwan Barghouti, sy hoofuitdager, is.
Amptenare aan beide kante het gemaan teen oordrewe optimisme oor ‘n ooreenkoms wat nog beklink moet word. Tog lyk dit of omstandighede aan beide kante ryp word vir so ‘n ooreenkoms.
Israel en Hamas is gewikkel in aan-en-af gespreke sedert Gasa-militantes ‘n tonnel tot in Israel gegrawe en sersant Gilad Schalit in 2006 gevangene geneem het in ‘n strooptog waarin nog twee soldate gedood is. Tot onlang het die samesprekinge wat deur Egipte bemiddel word, weinig vordering opgelewer.
Die Israeli eerste minister, Benjamin Netanyahu is gretig vir ‘n deurbraak. Om Schalit huistoe te bring sal vir hom ‘n groot huishoudelike hupstoot gee en ‘n belangrike diplomatieke deurbraak verskaf in ‘n tydperk waarin die internasionale gemeenskap hom kritiseer dat hy nie genoeg doen om vrede te bevorder nie.
‘n Senior Amerikaanse amptenaar het gister by Iran aangedring om “in te skakel” by die Weste oor sy kernprogram, nadat ‘n Iranse militêre hoof gewaarsku het dat ‘n aanval op hulle kernterreine verpletter sal word.
“Ons sal verkies dat die Iranse regime werk van die geleentheid om in te skakel, sal maak,” sê Ellen Tauscher, Ondersekretaris vir Wapenbeheer en Internasionale Sekuriteit by die VSA se Staatsdepartement.
Teheran het “vir betrokkenheid van die Verenigde State gevra. Hulle het dit nou. Wat gaan hulle nou doen? Gaan hulle opstaan en sê hulle aanvaar ons aanbod… of gaan hulle een of ander flou verskoning gebruik om dit te ontduik?” wou sy weet.
“Indien oorreding nie werk nie, gaan druk die volgende metode van optrede wees.”
Tauscher het nog ‘n rondte sanksies teen Iran voorgestel.
Sy het by die Halifax Internasionale Sekuriteitsforum gepraat en gesê die Verenigde State gaan voort om “beduidende” kommer oor Iran se kernambisies te hê.
Maar sy het bygevoeg: “Ek glo nie militêre optrede teen Iran is nou op die tafel nie.”
Intussen het ‘n bevelvoerder van die elite Rewolusionêre Wag gesê dat Iran se lugverdediging Israeli-vegvliegtuie sal uitwis indien hulle sou aanval.
Amerikaanse pogings om die vredesproses in die Midde-Ooste weer aan die gang te kry, het ‘n terugslag beleef nadat president Barack Obama en Israeli premier Benjamin Netanyahu se ontmoeting tekens van spanning getoon het.
Nadat die twee ‘n uur en 40 minute lank gesels het, wou die Amerikaanse president nie saam met sy Israelse eweknie in die openbaar verskyn nie.
Amerika is gekant teen voortgesette Joodse nedersettings op die Wesoewer. Die Withuis het egter in ‘n verklaring gesê hulle bly verbind tot Israel se veiligheid.
Die twee het ook die kwessie van Iran bespreek. Netanyahu het die besoek as “postief” beskryf. Hy sal ‘n besoek bring aan Frankryk waar hy samesprekinge met Nicolas Sarkozy sal voer.
Hy het na afloop an die gesprek benadruk dat die besoek aan Washington “baie belangrik” was. Die VSA se frustrasie met die Israelse premier se weiering om die aanwas van nedersettings te staak was egter duidelik.
Hillary Clinton het vroeër Netanyahu se aanbod om die aanwas van nedersettings gedeeltelik te staak, geprys as “weergaloos”.
Die Arabiese wêreld het haar verklaring skerp gekritiseer. Die Palestyne sien dit as ‘n stap om hulle hand in toekomstige onderhandelinge met Israel te verswak.
Die Palestyne het gedreig om geweld te laat toeneem indien die aanwas van nedersettings nie dadelik ophou nie.
Die Verenigde Nasies het ‘n versoek aan Israel en Palestina gerig om beweerde oorloggeweld wat gedurende die Gasa-oorlog plaasgevind het, te ondersoek. Israel het hierdie voorstel egter van die hand gewys.
“Israel verwerp die resolusie van die VN se Algemene Vergadering,” het die buitelandse ministerie in ‘n verklaring gesê.
Volgens die VN se verslag het die Israelse magte “hoër waardes getoon as enige van die aanhitsers” tydens die 22 dae van oorlog, waartydens 1 400 Palestyne en 13 Israeliete gesterf het.
Donderdag het 192 lede by die vergadering die verslag goedgekeur waarin beweer word Israel en Palestinië is skuldig van moontlike oorlogmisdade en misdade teen die mensdom.
Van die 192 verteenwoordigers het 114 in guns van die verslag gestem, 18 was daar teen en 44 het buite stemming gebly.
Die VN se verslag het aanbeveel dat sy bevindinge na die Internasionale Strafhof in Den Haag gestuur word, indien Israel en die Hamas-leiers versuim om ‘n ondersoek na die oorlog in te stel.
Honderde tonne wapens, tien keer die aantal van die wapenvonds wat op die Karine A in 2002 gemaak is, is Dinsdag deur die Israelse vloot 100 seemyle wes van Israel onderskep.
Militêre owerhede in Israel sê die 140-meter lange Francop, wat naby Cyprus voorgekeer is, het wapens bevat wat aan Sirië belowe is, en moontlik ook Hizbollah.
Die skip het onder die vlag van Antigua geseil en het meer as 3 000 vuurpyle van verskillende soorte, koeëls en ander ammunisie bevat.
Die vrag is deur die Suezkanaal gebring en in die Egiptiese hawestad Damietta op die Francop gelaai. Die vaartuig was oppad na Latakia in Sirië.
Die oordrag van soveel wapens kan die magsbalans tussen Israel en terreurorganisasies beïnvloed, het Brigadier-generaal Rani Ben-Yehuda, adjunk-aanvoerder van die Israelse vloot, gesê.
Israel het die skip ‘n aantal dae gemonitor en ‘n spesiale mag het in die middel van die nag aan boord gegaan. Hulle het glo sertifikate ontdek wat daarop dui dat die vrag se oorsprong van Iran was. Die vaartuig is daarna na Israel gebring.
Die skip se bemanning was nie bewus van die ware vraginhoud nie en was onder die indruk dat dit humanitêre hulp was.
Israel het Iran daarvan beskuldig dat hulle reeds drie keer vandeesjaar die VN se wapenverbod oortree het.
Israel Radio het berig dat gevorderde anti-lugafweertoerusting wat nog nooit voorheen in die streek gesien is nie, ook deel van die vrag was.
Daar was ondermeer ook 107-millimeter vuurpyle, 60-millimeter mortiere, 7.62-Kalashnikov-ammunisie, F-1 grenate en122-millimeter Katyusha-vuurpyle.
Der Spiegel het verlede maand berig dat die VSA ‘n Duitse vragskip in die Suezkanaal ondersoek het wat wapens bevat het wat vir Sirië of Hizbollah bestem was.