
Sosiologies kan Christelike Sionisme waarskynlik beskou word as ‘n produk van die besondere omstandighede van die Verenigde State van Amerika, waar die wêreld se grootste gemeenskap van Jode in dieselfde land as die wêreld se grootste gemeenskap van evangeliese Christene woon. Maar dié verhouding het groot politieke implikasies vir die VSA, sowel as die wêreld.
Christelike Sioniste is tans die grootste, mees kontroversiële en mees verbete drukgroep binne Christelike strominge. Die spanning in die Midde-Ooste, Israel se hervestigingstrategie en die vredesproses tussen Israel en die Palestyne, word deur hulle aksies en optrede in die visier gehou.
Ten minste een uit elke vier Amerikaanse Christene wat onlangs deur die Christianity Today tydskrif gepols is, het gesê hulle glo dit is hul Bybelse verantwoordelikheid om die volk van Israel te ondersteun. Hierdie siening is algemeen bekend as Christelike Sionisme.
Die Pew Research Center het die syfer op 63 persent onder wit Evangeliste gestel. Swart Evangeliste is meer geneig om krities teenoor Israel te wees. Christelike Sionisme het die hoofstroom Amerikaanse evangeliese, charismatiese en onafhanklike kerke oorgeneem, insluitend die Assemblies of God, Pinkster-en Suidelike-Baptiste, sowel as baie van die onafhanklike mega-kerke.
Dit is minder algemeen binne die historiese denominasies, waar steun vir menseregte, die oppergesag van die internasionale reg en empatie met die Palestynse volk heers.
Die oorsprong van die beweging kan teruggevoer word na die vroeë 19de eeu, toe ‘n groep eksentrieke Britse Christen-leiers begin het om steun te werf vir die Joodse terugkeer na Palestina as ‘n noodsaaklike voorvereiste vir die terugkeer van Christus.
Die beweging het goed op dreef gekom in die middel van die 19de eeu, toe Palestina strategiese waarde vir Britse, Franse en Duitse koloniale belange in die Midde-Ooste begin verkry het. Proto-Christelike Sionisme het dus ironies genoeg Joodse Sionisme deur meer as 50 jaar voorafgegaan! Sommige van Theodore Herzl se sterkste voorstanders was Christelike geestelikes.
In sy huidige gedaante is dit minder van ‘n moderne teologiese benadering as ‘n magtige politieke beweging wat selfs die mees ekstreme ideologiese posisies van Sionisme onderskryf. “Afvalliges” sien egter diep nadelige gevolge vir ‘n regverdige vrede tussen Palestina en Israel.
Hulle beswaar is dat dit ‘n wêreldbeskouing bevorder waarin die Christelike boodskap aan ‘n ideologie van die Imperium, kolonialisme en militarisme ondergestel word. In sy uiterste vorm, plaas dit klem op die apokaliptiese gebeure wat sal lei tot die einde van die wêreld eerder as ‘n lewende Christus se liefde en geregtigheid waarin gelowiges vervulling vind, sê Christelike groepe soos onder meer die Kairos-beweging, die Lutherse Kerk en Menoniete.
Kritici bevraagteken voorts waarom Christelike Sioniste so sterk met die eng rassegrondslag van die Joodse volk identifiseer, terwyl hulle juis daarvan uitgesluit word, en waarom hulle nie liewer die lot van Arabiese Christene oorweeg nie.
Volgelinge van Christelike Sionisme is daarvan oortuig dat die stigting van die staat van Israel in 1948 en die inname van Jerusalem in 1967 die wonderbaarlike vervulling van God se beloftes aan Abraham is wat die ewige vestiging van Joodse volk in Palestina voorsien het.
Hal Lindsey, John Hagee en Pat Robertson, se boeke oor dié onderwerp het meer as 100 miljoen eksemplare verkoop. Dit word aangevul deur kinderboeke, video’s en selfs gewelddadige rekenaarspeletjies.
Ontluikende Christelike Sioniste-organisasies soos die International Christian Embassy (ICEJ), Christian Friends of Israel (CFI) en Christians United for Israel (CUFI) beskik oor geweldig baie invloed op Capitol Hill, met ‘n ondersteuningsbasis van meer as 50 miljoen gelowiges.
Dit beteken daar is nou ten minste tien keer soveel Christen-Sioniste as Joodse Sioniste. In Europa is dit die Sionistiese Hasbarafia wat steunwerwing vir Israel doen.
Pastoor John Hagee is een van die leiers van die Christelike Sioniste-beweging. Hy is die stigter en hoofpastoor van die Cornerstone Kerk, ‘n Evangeliese Kerk in San Antonio, Texas met 19 000 lidmate. Sy weeklikse programme word uitgesaai op 160 TV-stasies, 50 radiostasies en agt netwerke in ‘n beraamde 99.000.000 huise in 200 lande. In 2006 het hy Christians United for Israel gestig.
“Vir 25 byna 26 jaar nou, het ek die Evangeliese gemeenskap oor televisie opgewerk. Die Bybel is ‘n baie pro-Israel boek. As ‘n Christen erken ‘Ek glo die Bybel’, kan ek van hom ‘n pro-Israel ondersteuner maak, of sy gebrek aan geloof aan die kaak stel. So ek het die Christene net waar ek hulle wil hê, kan jy sê.”
In Maart 2007 het Hagee by die Amerikaanse Israel Public Affairs Committee (AIPAC) Konferensie gesê:
“Die slapende reus van Christelike Sionisme het ontwaak. Daar is 50 miljoen Christene wat opstaan en die staat van Israel ondersteun… “
Die Jerusalem Post het daarop gewys dat sy toespraak geen gebrek aan duidelikheid gehad het nie. Hagee het gewaarsku dat Iran se kernbedreiging gestop sal word.
Christelike Sioniste toon wisselende grade van entoesiasme vir die implementering van ses basiese politieke oortuigings:
Die oortuiging dat die Jode God se uitverkore volk is.
As God se uitverkore volk, moet die finale herstel van Israel dus letterlik aktief aangemoedig, befonds en gefasiliteer word deur vennootskappe met uitsluitlik Jode. Palestynse Christene is uiteraard nie daarby ingereken nie.
Eretz Israel, soos afgebaken in die Bybel, vanaf die Nyl tot by die Eufraat, behoort uitsluitlik aan die Joodse volk. Palestyne moet uit hul huise verdryf word en die Joodse nedersettings uitgebrei en gekonsolideer word.
Jerusalem word beskou as die ewige en eksklusiewe hoofstad van die Jode.
Christelike Sioniste bied wisselende grade van ondersteuning vir organisasies soos die Joodse tempel Mount Faithful.
Christelike Sioniste het ‘n pessimistiese siening van die toekoms, en glo aan ‘n apokaliptiese oorlog van Armageddon wat binnekort sal plaasvind.
Soos die vestiging van die staat van Israel, kan ‘n oorlog in die Midde-Ooste dalk die vervulling wees van wat hierdie beweging wil.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.