Honderde tonne wapens, tien keer die aantal van die wapenvonds wat op die Karine A in 2002 gemaak is, is Dinsdag deur die Israelse vloot 100 seemyle wes van Israel onderskep.
Militêre owerhede in Israel sê die 140-meter lange Francop, wat naby Cyprus voorgekeer is, het wapens bevat wat aan Sirië belowe is, en moontlik ook Hizbollah.
Die skip het onder die vlag van Antigua geseil en het meer as 3 000 vuurpyle van verskillende soorte, koeëls en ander ammunisie bevat.
Die vrag is deur die Suezkanaal gebring en in die Egiptiese hawestad Damietta op die Francop gelaai. Die vaartuig was oppad na Latakia in Sirië.
Die oordrag van soveel wapens kan die magsbalans tussen Israel en terreurorganisasies beïnvloed, het Brigadier-generaal Rani Ben-Yehuda, adjunk-aanvoerder van die Israelse vloot, gesê.
Israel het die skip ‘n aantal dae gemonitor en ‘n spesiale mag het in die middel van die nag aan boord gegaan. Hulle het glo sertifikate ontdek wat daarop dui dat die vrag se oorsprong van Iran was. Die vaartuig is daarna na Israel gebring.
Die skip se bemanning was nie bewus van die ware vraginhoud nie en was onder die indruk dat dit humanitêre hulp was.
Israel het Iran daarvan beskuldig dat hulle reeds drie keer vandeesjaar die VN se wapenverbod oortree het.
Israel Radio het berig dat gevorderde anti-lugafweertoerusting wat nog nooit voorheen in die streek gesien is nie, ook deel van die vrag was.
Daar was ondermeer ook 107-millimeter vuurpyle, 60-millimeter mortiere, 7.62-Kalashnikov-ammunisie, F-1 grenate en122-millimeter Katyusha-vuurpyle.
Der Spiegel het verlede maand berig dat die VSA ‘n Duitse vragskip in die Suezkanaal ondersoek het wat wapens bevat het wat vir Sirië of Hizbollah bestem was.
