Ministers in Brittanje is woedend nadat Israelse Mossadagente klaarblyklik met gesteelde identiteite van Britse paspoorthouers gereis het om ‘n sluipmoord in Doebai te gaan pleeg. Dié land het gedreig om hulle inligtingsverhouding met Israel op te skort indien onomwonde bewyse vir die diefstal gevind word.
‘n Moordbende van die Mossad het glo vroeër vandeesmaand die paspoorte van ses niksvermoedende Britte gekopieer wat tans uit vrees vir hul lewens moet skuil teen weerwraakaanvalle.
Israel se intelligensiediens, wat nog nie ‘n aandeel in die moord ontken het nie, het tot dusver die gebruik van Britse identiteite in sulke koverte operasies vermy nadat hulle voorheen onderneem het om dit nie te doen nie.
Die Israelse ambassadeur in die VK is na die Foreign Office ontbied te midde van die stygende diplomatieke herrie. Ron Prosor sal Sir Peter Ricketts, ondersekretaris van buitelandse sake, Donderdag ontmoet om vrae oor Israel se betrokkenheid te beantwoord.
Gordon Brown het ‘n volle ondersoek na die paspoortbedrog gevra.
Die Mossad word daarvan verdink dat hulle ‘n militêre bevelvoerder en Hamasleier, Magmoed al-Mabhoeg, op 20 Januarie in sy hotelkamer in Doebai vermoor het. Hamas is die Moslemgroep wat die Gazastrook beheer.
Die ses Britte wie se paspoorte gekopieer is, woon almal in Israel, wat beteken dat die Mossad maklike toegang tot hulle reisdokumente sou kon verkry het.
‘n Senior amptenaar van buitelandse sake in Brittanje het aan die Daily Telegraph gesê as daar bewyse van die Mossad se betrokkenheid in die moorde gevind word, sal dit intelligensie-uitruilooreenkomste tussen Brittanje en Israel benadeel.
Hy het gesê as dit die geval blyk te wees, sal Brittanje bande met die Mossad verbreek soos Margaret Thatcher in 1986 gedoen het nadat ‘n Mossadagent ‘n sak vervalsde Britse paspoorte verloor het..
Die Israelis is terugverwelkom eers toe hulle onderneem het om nie weer van Britse paspoorte in koverte operasies gebruik te maak nie.
Israelse minister van buitelandse sake, Avigdor Lieberman, het intussen verklaar dat daar geen rede is om Israel te verdink nie, maar het nogtans geweier om sy land se veiligheidsdiens se betrokkenheid amptelik te ontken.
Hy het gesê Israel het ‘n “beleid van dubbelsinnigheid” wat hulle handhaaf in sulke gevalle ter wille van veiligheid.
