Ryk Hillary kry Donald nie afgeskud nie

Luidens ‘n nuwe verslag wat deur die Amerikaanse Federale Verkiesingskommissie bekendgemaak is, het Hillary byna 10 meer hulpbronne om die presidentsverkiesing aan te pak.

Die kommissie toon aan dat die Demokratiese party se waarskynlike presidentskandidaat Clinton, bykans nege keer meer geld en tien keer meer personeel beskikbaar het vir haar verkiesingsveldtog as haar Republikeinse teenstander, Donald Trump.

Die Trump-veldtog het na bewering aan die einde van Mei net meer as drie miljoen dollar in die bank gehad teenoor Clinton se 26 miljoen dollar.

Trump, wat ‘n sakeman is, het vir ‘n geruime tyd sy eie veldtog gefinansier.

Bernie Sanders, wat die knie moes buig voor Clinton, het $9 miljoen in die bank oor.

Trump het tans minder geld as die veldtogte van Ted Cruz en Ben Carson, wat albei in die vorige maande uit die wedloop moes tree.

Ten spyte van dié geweldige voorsprong kan Clinton dit skynbaar nie regkry om Trump af te skud nie.

Clinton is effens voor Trump in Florida met 8 persentasiepunte, maar die twee is feitlik kop-aan-kop in Pennsylvania en in Ohio, volgens ‘n Quinnipiac-meningspeiling wat Dinsdag vrygestel is.

Clinton is voor Trump met 47% teen 39% in Florida, terwyl albei 40 persent stemme in Ohio trek en sy ‘n klein voorsprong van 42-41 persent in Pennsylvania kon behaal.

Die peiling fokus op die drie belangrikste slagveldstate, omdat geen kandidaat sedert 1960 die presidensiële wedloop gewen het sonder om ten minste twee van die drie deelstate in te palm nie.

Obama wil Moslems se gevoelens spaar

Hoe President Obama reageer op geweld wat met Islam te make het, word duidelik bepaal deur ‘n spesifieke stel reëls.

In sy jongste aanval op Donald Trump na die massaslagting deur ‘n ISIS-terroris in Orlando, Florida, het die Amerikaanse president weer erg kleigetrap.

Trump het Obama se versuim om radikale Islamiste te kritiseer, ten sterkste afgekeur en gesê die president behoort te bedank.

Obama het op sy beurt die debat rondom radikale Islam “politieke afleiding” genoem.

Die president was eerder bekommerd dat Moslems se gevoelens gespaar moet bly.

Hy het gesê oproepe vir strenger beheer en ‘n verbod op Moslemimmigrasie sal Moslem-Amerikaners “verraai deur hul regering laat voel”.

Obama het aan verslaggewers gesê ná ‘n ontmoeting met die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad ‘n aanval deur groepe soos “Isil” (beter bekend as ISIS) “sal nie verhoed word deur die gebruik van ‘n etiket nie” en bygevoeg dat Islam “niks te doen het met die aanval nie”.

“Oproepe om ‘n bedreiging ‘n ander naam te gee, sal nie maak dat dit nie weggaan nie. Dit is ‘n politieke afleiding.”

Net daarna het hy homself liederlik weerspreek en gesê die idee dat die administrasie verward is oor die vyand, is vals want hulle voer ‘n oorlog teen “Isil” in Sirië, Irak en Libië “wat stadig gewen word”.

Die oorlog teen ISIS word tans eerder deur sy administrasie se aartsvyand, president Assad van Sirië mbv Rusland gewen.

Berigte van Amerikaanse betrokkenheid om ISIS se hand te sterk dmv hul NAVO-bondgenoot Turkye het vroeër die nuus gehaal, terwyl Obama herhaaldelik oproepe gedoen het dat “Assad moet gaan”.

Obama het Islam weer verdedig soos hy nog nooit enige ander godsdiens verdedig het nie. Soos gewoonlik het hy die swartsmeerdery, aanvalle, moorde en massamoorde op Christene geïgnoreer.

Die swart president het ook voorheen geen woord van simpatie gehad vir Colleen Hufford wat die slagoffer van ‘n wrede jihadistiese aanval was nadat ‘n toegewyde swart Moslem haar kop afgesny het nie.

In die linkse media is Hufford voorgehou as iemand wat dalk “rassisties” kon gewees het, maar sonder enige getuienis van sulke optrede. Haar beweerde “rassisme” is gebruik om die Moslem se moord te regverdig.

Obama blameer gereeld alle wit mense vir slegte dinge wat gebeur het, tans gebeur, en kan gebeur met swart mense.

Hy het trouens sy aanval op Trump afgesluit deur te sê mense wat Moslems “terroriste” noem, bevorder eintlik terreur.

Obama het in sy reaksie gesê Omar Mateen se massamoord in Orlando was ook ‘n “haatmisdaad” en “uit eie bodem, uitgevoer deur ’n moordenaar wat wapens wettig gekoop het”.

Die ander bestanddele van die Obama-resep is om alle rykes te demoniseer tensy die rykes Demokratiese Party ondersteuners is.

Trump het Obama se reaksie op die Orlando-skietery as te bangbroekig beskryf en Hillary Clinton betig omdat sy haar nie sterker teen terreur kan uitspreek nie, en bygevoeg dat sy nie aan die presidentsverkiesing behoort deel te neem nie.

“Pres. Obama het skandelik geweier om selfs die woorde ‘radikale Islam’ te gebruik.

“Om daardie rede alleen behoort hy sy amp neer te lê. As Hillary Clinton ná hierdie aanval nie die twee woorde ‘radikale Islam’ kan sê nie, moet sy uit die presidentsverkiesing tree,” het Trump in ’n verklaring gesê.

Trump het kort ná die skietery getwiet hy wil nie “gelukgewens word” omdat hy reg was oor radikale Islamitiese terreur nie; hy wil “taaiheid en waaksaamheid hê”.

Trump: Hillary moet agter tralies wees

Donald Trump het verlede week uitgevaar teen Hillary se gebruik van ‘n private bediener vir haar werk se epos terwyl sy die minister van buitelandse sake was.

“Mense, eerlikwaar, sy is so skuldig as wat jy maar kan kry. Hillary Clinton moet tronk toe gaan.”

Clinton het intussen erken dit was ‘n fout. Haar ongeoorloofde optrede sal deur die FBI ondersoek word.

Die departement van buitelandse sake het verlede week in ‘n verslag verklaar dat streng veiligheidsmaatreëls ootree is.

“Die feit dat hulle haar eens toelaat om aan hierdie wedloop deel te neem, is ‘n skande,” het Trump gesê.

Sy uitlatings is van die skerpste in die bekgeveg tussen Trump, die waarskynlike Republikeinse presidentskandidaat, en Clinton, die moontlike Demokratiese kandidaat.

Anti-Trump aktiviste het hul haatveldtog voortgesit. Beeldmateriaal wys hoe honderde oproermalers ­Mexikaanse vlae swaai, slagspreuke teen Trump dreunsing en Trump-hoede en ‘n Amerikaanse vlag aan die brand steek.

Binne die konferensiesentrum het Trump weer belowe om onwettige oorgrensdwelmhandel na die VSA te stop deur ‘n muur te bou en die rekening aan Mexiko te stuur.

Trump se verkiesingsaamtrekke word klokslag deur voorstanders van onwettige immigrasie ontwrig.

Paul Ryan, speaker van die huis van verteenwoordigers, het intussen sy deuntjie verander en sy steun aan Trump toegesê nadat hy eers teen die Republikeinse voorloper uitgevaar het.

Ryan se gewildheid het na sy negatiewe uitltings oor die miljardêr verdamp.

“Dit is geen geheim dat ek en hy verskille het nie . . . maar ons het meer in gemeen as wat ons verskil,” het Ryan in ‘n meningstuk vir die Janesville Gazette in Wisconsin geskryf om sy kanse op ‘n pos in die nuwe administrasie te red.

Intussen is in ’n Reuters/Ipsos-meningspeiling bevind dat Clinton en Trump die voorlopers is binne hulle onderskeie partye.

Die tipiese Amerikaner wat baie van Clinton hou en nie van Trump nie is swart, Spaans of Indiër, vroulik, buite die grense van ‘n tradisionele huwelik en ‘n ateïs, het ‘n Gallup-opnbame bevind.

Die tipiese Amerikaner wat baie van Trump hou en nie van Clinton nie, is ‘n wit man wat tradisioneel getroud, godsdienstig en Protestants is.

Clinton, wat persoonlik toegesien het dat Amerika onsuksesvolle en moorddadige invalle in die Midde-Ooste voer wat daarna boonop tot ‘n immigrasiekrisis gelei het, het Trump probeer voorhou as “gevaarlik” vir die VSA se buitelandse beleid.

Die bejaarde eggenoot van die vroetelaar Bill Clinton het haarself probeer voorhou as “vars” en “nuut” omdat sy die eerste vrou in die Withuis sal wees.

Clinton het die Demokratiese presidentsbenoemings in Puerto Rico gewen en nog `n stappie nader beweeg aan `n oorwinning oor haar teenstander, Bernie Sanders in die stryd om as die party se kandidaat benoem te word.

Dit is ‘n gunstige oorwinning vir Clinton in die aanloop tot Dinsdag se benoemings in ses state, wat New Jersey en Kalifornië insluit.

Sy hoop om more die mikpunt van 2382 benoemings te haal om vir die verkiesing op 8 November benoem te word.

Clinton steun daarop dat die benoemings in New Jersey haar verby die teiken sal neem, aangesien sy en Sanders ewe veel steun in Kalifornië geniet.

Noord-Korea meen Trump is ‘n wyse keuse

Noord-Korea het sy steun toegesê aan Donald Trump, wat waarskynlik die Repu­blikeinse Party se presidentskandidaat in vanjaar se presidentsver­kiesing in Amerika gaan wees.

Trump sal volgens die Noord-Koreane Amerikaners bevry aangesien hulle daagliks in vrees vir ’n kernbomaanval deur Noord-Korea leef, het Reuters berig.

Op DPRK Today, een van die regering se mondstukke, word Trump as ’n “wyse politikus” en die regte keuse vir Amerikaners op 8 November beskryf.

Hillary Clinton, wat waarskynlik die Demokratiese Party se kandidaat en Trump se teenstander sal wees, is hardkoppig genoem weens haar voorstel om wye sanksies in te stel om die vraagstuk oor kernwapens op die Koreaanse skiereiland op te los.

Trump het vantevore gesê hy is bereid om met Kim Jong-oen, Noord-Koreaanse leier, te onderhandel om ’n einde aan Noord-Korea se kernprogram te maak en dat China ook betrokke moet raak om ’n blywende oplossing te vind.

Die Verenigde Nasies het sanksies teen Noord-Korea weens sy kernwapentoetse ingestel.

Suid-Korea en Amerika het te kenne gegee gesprekke oor die kwessie is nutteloos as Noord-Korea nie stappe doen om sy kerntoetse te beëindig nie.

DPRK Today het ook gesê Trump se voorstel om die VSA se soldate aan Suid-Korea te onttrek, die regte manier is om die twee Koreas te verenig.

“Onderhandeling is die beste opsie. Dit blyk Trump is nie die rowwe, onkundige kandidaat wat hulle sê hy is nie, maar ’n wyse politikus,” het Han Yong Muk, ’n Koreaanse akademikus in China, geskryf.

Trump sal met Kim praat

Donald Trump is bereid om met Noord-Korea se leier, Kim Jong-oen, te praat in ’n poging om ’n einde te bring aan Noord-Korea se kernkragambisie, het die Republikeinse Party se aangewese presidentskandidaat, Woensdag gesê.

Trump (69) het nie besonderhede verskaf van sy beleid teenoor Noord-Korea sou hy tot Amerikaanse president verkies word nie.

Ontleders meen dié standpunt kan lei tot ’n beduidende skuif in die Amerikaanse gesindheid teenoor die geïsoleerde Noord-Korea, sou Trump verkies word.

Op ’n vraag of hy sal probeer om Kim tot ander insigte te bring, het Trump geantwoord: “Absoluut.”

Hy sal China ook vra om hom te help in sy pogings. “Ek sal druk op China plaas, want ons het groot ekonomiese mag oor China,” het Trump in ’n halfuur lange onderhoud in sy kantoor op die 26ste verdieping van Trump Tower in Manhattan gesê. “China kan die probleem met een vergadering of een telefoongesprek oplos.”

Die regering van Noord-Korea het nie kommentaar gelewer op Trump se standpunt nie, het Reuters berig.

Trump en Bernie Sanders pla Hillary

Bernie Sanders het Dinsdagaand Oregon ingepalm nadat hy ‘n laataanslag deur Hillary Clinton afgeweer het.

Die Amerikaanse deelstaat Kentucky se voorverkiesingstryd is naelskraap deur Clinton gewen.

Donald Trump het Clinton gespot omdat sy so gesukkel het om Kentucky te wen.

“Dink jy die kroek Hillary sal uiteindelik die transaksie sluit?” het Trump getwiet. “As sy Kentucky nie kan wen nie, moet sy uit wedloop val. Die sisteem is skeef!”

Sanders se oorwinning het die broodnodige momentum aan sy veldtog verskaf, wat dalk kan lei tot vuurwerke by die Demokratiese Konvensie as ‘n presidentskandidaat aangewys word.

Donald Trump en Hillary Clinton is voorheen as voorlopers in die wedloop na die Withuis beskou.

Die Reuters-Ipsos-peiling onder waarskynlike kiesers landwyd in die VSA, toon dat die presidentsverkiesing op naelbyttryd tussen dié twee kan afstuur.

In die volgende ses maande vóór die verkiesing op 8 November kan verrassings oplewer, maar dat Clinton sal sukkel teen Trump, is reeds duidelik.

Trump se gewildheid het verder die hoogte ingeskiet nadat hy die stryd om as die Republikeinse Party se kandidaat aangewys te word, gewen het.

Ted Cruz en John Kasich moes die handdoek ingooi en aan die wedloop onttrek.

Die peiling wys dat 41% van die waarskynlike kiesers Clinton in hierdie stadium ondersteun en 40% vir Trump, met 19% wat besluiteloos is. Die peiling is oor ’n tydperk van vyf dae onder 1 289 mense gedoen.

Die Washington Post berig dat Trump met Henry Kissinger ontmoet het om oor buitelandse beleid te gesels.

Sanders het gesê hy wil niks met Kissinger te make hê nie en opgemerk dat Kissinger het die weg gebaan vir een van die ergste gevalle van volksmoord in die moderne geskiedenis

Volgens Sanders was Kissinger verantwoordelik vir die massiewe bombardement van Kambodja en die daaropvolgende grondinval, wat kommunistiese Chinese gerugsteun het om die Khmer Rouge aan bewind te kry.

Trump looi globaliste oor oorlog en chaos

Die voorloper in die stryd om die benoeming as Republikeinse presidentkandidaat in die VSA, Donald Trump het ‘n striemende aanval op globalisme gedoen.

As die tema bekend was, was Trump se ernstige toon nie. Hy het staatgemaak op ‘n teleleser in plaas van om uit die vuis te praat soos gewoonlik.

“Ons sal nie meer hierdie land of sy mense oorgee aan die valse lied van globalisme nie. . . Ek is skepties oor internasionale verbonde wat ons inbind en aftrek in Amerika. En onder my administrasie, sal Amerika nooit enige ooreenkoms aangaan wat ons vermoë om ons eie sake te beheer, verminder nie,” het hy gesê, met verwysing na die NAFTA-ooreenkoms .

Trump het elke leier na Ronald Reagan blameer – wat dié Republikeinse George W. Bush insluit – omdat hulle almal “die pad heeltemal byster geraak het”.

In die komende konfrontasie met Clinton – wat meer aggressief as Obama is – het Trump probeer om homself uit te beeld as ‘n gedissiplineerde leier wat Amerikaanse belange voorop stel.

Hy het die Clinton-Obama-span gelooi oor die chaos wat hul inmenging in die buiteland veroorsaak het, met verwysing na die omverwerping van president Hosni Mubarak in Egipte, die ingryping in Libië en militêre optrede in Sirië.

Hy Clinton skerp gekritiseer vir haar hantering van die dodelike aanvalle op die VSA in Benghazi.

Trump het ook die president se hantering van buitelandse sake as roekeloos en ‘n totale ramp beskryf.

Hy sê Amerika se bondgenote betaal nie ‘n regverdige deel van die sekuriteitsrekening nie, en dat enige land wat deur Amerika verdedig word, sal moet begin opdok.

Hy het Obama ook gekritiseer omdat hy, soos Trump dit stel, Amerika se goeie vriend, Israel afjak en Iran te goedgesind is.

Iran se Opperleier, die Ayatollah Ali Khamenei sê egter Obama probeer sakelui afskrik om in Tehran te belê en ‘n ondermyn ‘n ooreenkoms om internasionale sanksies op te hef.

Khamenei se kommentaar kom kort voor die tweede ronde van Iran se parlementêre verkiesings.

Trump het ook weer sy kommer oor die verspreiding van radikale Islam uitgespreek, en gesê dat die land ‘n langtermynplan in die opsig benodig.

Hillary moet binne dae voor FBI verskyn

Die Demokratiese voorloper, Hillary Clinton, het Trump met mening aangeval omdat sy tans onder groot druk verkeer.

Sy moet binne enkele dae voor die FBI verskyn wat sal besluit of sy krimineel aangekla sal word vir vertroulike eposse wat sy rondgestuur het.

Clinton wou kennelik die publiek se aandag aflei van die FBI-ondersoek na haar eposse.

Sy het uitgevaar teen Donald Trump omdat hy “gewelddadige en aggressiewe gedrag aangehits” nadat Trump se veldtogbestuurder ‘n joernalis wou keer wat te naby aan die voorverkiesingskandidaat wou kom.

Clinton het in La Crosse, Wisconsin myle uit die Demokrate se poging probeer haal om Trump se veldtogbestuurder, Corey Lewandowski, swart te smeer.

Trump se veldtogbestuur het intussen die beeldmateriaal vrygestel wat toon dat die verslaggeefster probeer om Trump aan te raak met een of ander instrument, terwyl sy veiligheidspan dit probeer keer.

Boonop is die Florida-aanklaer wat die klagte teen Lewandowski aanhangig gemaak het, deel van Clinton se veldtog.

In ‘n artikel gepubliseer deur die Palm Beach Post op 17 November 2015, wat sedert Dinsdagaand weer sirkuleer, word Palm Beach County se aanklaer, Dave Aronberg as ‘n lid van Florida se Demokratiese leiersraad gelys.

Die raad is gestig is deur die Demokratiese Party om die presidensiële kandidatuur van Hillary Clinton te bevorder.

Die artikel stel dit duidelik dat Aronberg “deel is van die Clinton-span in Florida”.

Hillary Clinton gaan voor Direkteur Comey en die FBI moet verskyn binne ‘n kwessie van dae. Die uitkoms van die onderhoud kon uiteindelik die hele wedloop vir die Withuis bepaal.

Clinton het nie kommentaar gelewer op joernalis se vreemde gedrag nie, maar het verklaar dat die verslaggewer wat die klagte ingedien het, Michelle Fields, “krediet verdien vir die wyse waarop sy opgevolg het nadat sy fisies mishandel is.”

Trump, Hillary fokus op terreur, immigrasie na oorwinnings

Donald J. Trump en Hillary Clinton het hul teenstanders in die Arizonavoorverkiesing Dinsdag oorweldig, volgens die Associated Press.

Die twee presidensiële voorlopers hoop om te verhoed dat die nominasiestryd ingewikkeld raak sodat hulle op mekaar kan begin konsentreer.

Dit blyk dat een van die belangrikste verkiesingskwessies sal handel oor immigrasie.

Trump, die Republikeinse presidensiële voorloper, het Dinsdag gesê as hy president word, sal hy die grense van die land sluit in die nasleep van gekoördineerde terreuraanvalle soos in België.

Hy het getwiet dat ten minste tussen 10% en 25% van Moslems terreuraanvalle steun en bygevoeg dat Moslemimmigrasie “selfmoord” is.

Clinton het egter dadelik teruggekap. “Dit is onrealisties om te sê dat ons ons grense heeltemal vir almal gaan sluit,” het Clinton tydens ‘n onderhoud op NBC gesê.

Sy het haar opmerkings aan die terreuraanval in Brussel gewy en dit in ‘n aanval op Trump, die voorste Republikeinse aanspraakmaker, verander.

“Die laaste ding wat ons nodig het, my vriende, is leiers wat meer vrees aanhits,” het Clinton gesê met verwysing na Trump.

“In die gesig van terreur, moet Amerika nie paniekerig te raak nie. Ons moet nie mure bou of ons rug draai op ons [Moslem]bondgenote nie.”

Trump het Ted Cruz maklik verslaan in Arizona, en al 58 van sy afgevaardigdes tot sy voorsprong gevoeg.

Maar Cruz sal waarskynlik Utah se Republikeine oorreed in die hoop dat die 40 afgevaardigdes Trump se kieswinste beperk.

Cruz het Trump probeer verantwoordelik hou vir die terreur in Brussel en uitgevaar teen die voorloper omdat hy NAVO se uitgawes in Europa wil besnoei.

Senator Bernie Sanders het Clinton in die Utah-koukusse verslaan, en hy toon sy blywende appèl onder liberale aktiviste.

Clinton het ondersteuners in Seattle toegespreek maar Sanders botweg geïgnoreer.

Trump behaal klinkende oorwinning in Nevada

Die Republikeinse aanspraakmaker op die Amerikaanse presidentskap, Donald Trump het loshande die Nevada-koukusse gewen.

Ted Cruz en Marco Rubio is neffens mekaar in die tweede plek, maar kon nie ‘n wenindruk maak op kiesers wat keelvol is vir die establishment nie.

Trump het vroeër ook in New Hampshire en Suid-Carolina klinkende oorwinnings behaal en is goed op pad om die Republikeinse presidentskandidaat vir die verkiesing op 8 November te word.

Trump het volgens vroeë aanduidings sowat 45 persent van die stemme verower. Hy het in sy oorwinningstoespraak in Las Vegas gesê dat hy nou die hele land in sy visier het.

Dit was ‘n pragtige vertoning van momentum vir sy veldtog, wat dit al hoe moeiliker maak vir ‘n ander partykandidaat om die Republikeinse nominasie te wen.

“Ons is lief vir Nevada,” het Trump tydens sy kort oorwinningtoespraak in Las Vegas gesê. “En binnekort gaan die land begin wen, wen, wen.”

Nie net was dit ‘n oorwinning in die Silver State nie, maar dit was ‘n oorwinning met ‘n groot marge.

Een van die mees verrassende aspekte van die oorwinning vir Trump is sy sukses onder latyns-Amerikaanse koukus-gangers wat sy anti-immigrasieplatform steun, insluitend die bou van ‘n muur langs die VSA-Meksiko grens.

Die anti-establishment ywer binne die Republikeinse kieserskorps beklemtoon die enorme uitdaging vir Rubio en Cruz in die komende weke.

Rubio was nie eens in Nevada Dinsdagaand nie. Cruz het die hoop uitgespreek dat hy goed sal kan doen in Texas, maar dis nie ‘n uitgemaakste saak nie.

Trump losvoor ten spyte van McCain-opmerkings

Die miljardêr Donald Trump, wat hom as presidentskandidaat vir die Republikeinse party in die 2016 Amerikaanse presidentsverkiesing beskikbaar gestel het, het byna twee keer die ondersteuning van sy naaste teenstander.

Alhoewel sy onlangse uitlatings hom die argwaan van baie van sy partygenote op die hals gehaal het, was Trump se kritiek teen John McCain baie gewild by kiesers.

Hy het onvriendelike uitlatings oor die 2008 Republikeinse presidentskandidaat, senator McCain, gemaak en aangevoer dat hy “net gepraat het en niks gedoen het” om die lot van militêre veterane te verbeter nie.

Hy het ook gesê hy het meer bewondering vir diegene wat dit regkry om nie as krysgevangene geneem te word nie.

McCain het meer as vyf jaar in ’n krygsgevangenekamp in Viëtnam deurgebring nadat sy vliegtuig afgeskiet is en hy is gemartel. McCain het ook geweier­ om vóór medekrygsgevangenes vry­gelaat te word.

Ondanks kritiek van mede-­Republikeine, is amptenare van die party bekommerd om kiesers te verloor wat aangetrokke is tot Trump se supersterstatus.

Meningspeilings van die wedloop om die party se nominasie toon dat Trump steeds boaan die lys van Republikeinse aanspraakmakers is.