Donald Trump het verlede week uitgevaar teen Hillary se gebruik van ‘n private bediener vir haar werk se epos terwyl sy die minister van buitelandse sake was.
“Mense, eerlikwaar, sy is so skuldig as wat jy maar kan kry. Hillary Clinton moet tronk toe gaan.”
Clinton het intussen erken dit was ‘n fout. Haar ongeoorloofde optrede sal deur die FBI ondersoek word.
Die departement van buitelandse sake het verlede week in ‘n verslag verklaar dat streng veiligheidsmaatreëls ootree is.
“Die feit dat hulle haar eens toelaat om aan hierdie wedloop deel te neem, is ‘n skande,” het Trump gesê.
Sy uitlatings is van die skerpste in die bekgeveg tussen Trump, die waarskynlike Republikeinse presidentskandidaat, en Clinton, die moontlike Demokratiese kandidaat.
Anti-Trump aktiviste het hul haatveldtog voortgesit. Beeldmateriaal wys hoe honderde oproermalers Mexikaanse vlae swaai, slagspreuke teen Trump dreunsing en Trump-hoede en ‘n Amerikaanse vlag aan die brand steek.
Binne die konferensiesentrum het Trump weer belowe om onwettige oorgrensdwelmhandel na die VSA te stop deur ‘n muur te bou en die rekening aan Mexiko te stuur.
Trump se verkiesingsaamtrekke word klokslag deur voorstanders van onwettige immigrasie ontwrig.
Paul Ryan, speaker van die huis van verteenwoordigers, het intussen sy deuntjie verander en sy steun aan Trump toegesê nadat hy eers teen die Republikeinse voorloper uitgevaar het.
Ryan se gewildheid het na sy negatiewe uitltings oor die miljardêr verdamp.
“Dit is geen geheim dat ek en hy verskille het nie . . . maar ons het meer in gemeen as wat ons verskil,” het Ryan in ‘n meningstuk vir die Janesville Gazette in Wisconsin geskryf om sy kanse op ‘n pos in die nuwe administrasie te red.
Intussen is in ’n Reuters/Ipsos-meningspeiling bevind dat Clinton en Trump die voorlopers is binne hulle onderskeie partye.
Die tipiese Amerikaner wat baie van Clinton hou en nie van Trump nie is swart, Spaans of Indiër, vroulik, buite die grense van ‘n tradisionele huwelik en ‘n ateïs, het ‘n Gallup-opnbame bevind.
Die tipiese Amerikaner wat baie van Trump hou en nie van Clinton nie, is ‘n wit man wat tradisioneel getroud, godsdienstig en Protestants is.
Clinton, wat persoonlik toegesien het dat Amerika onsuksesvolle en moorddadige invalle in die Midde-Ooste voer wat daarna boonop tot ‘n immigrasiekrisis gelei het, het Trump probeer voorhou as “gevaarlik” vir die VSA se buitelandse beleid.
Die bejaarde eggenoot van die vroetelaar Bill Clinton het haarself probeer voorhou as “vars” en “nuut” omdat sy die eerste vrou in die Withuis sal wees.
Clinton het die Demokratiese presidentsbenoemings in Puerto Rico gewen en nog `n stappie nader beweeg aan `n oorwinning oor haar teenstander, Bernie Sanders in die stryd om as die party se kandidaat benoem te word.
Dit is ‘n gunstige oorwinning vir Clinton in die aanloop tot Dinsdag se benoemings in ses state, wat New Jersey en Kalifornië insluit.
Sy hoop om more die mikpunt van 2382 benoemings te haal om vir die verkiesing op 8 November benoem te word.
Clinton steun daarop dat die benoemings in New Jersey haar verby die teiken sal neem, aangesien sy en Sanders ewe veel steun in Kalifornië geniet.
