Veiligheidsraad aanvaar resolusie oor Sirië se chemiese wapens

chemwapensDie Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het eenparig ‘n resolusie aanvaar dat Sirië se chemiese wapens onder internasionale beheer geplaas moet word met die doel om dit te verifieer en te vernietig.

Dit is die eerste keer in die konflik van langer as twee jaar dat die raad konsensus kon bereik oor enige saak wat met die konflik-geteisterde land te doen het.

Die resolusie kom ‘n paar weke nadat Amerika en Rusland ‘n kompromie bereik het oor die vernietiging van die Sirese arsenaal.

Die organisasie vir die verbod op chemiese wapens in Den Haag sal die oorhandiging van die wapens hanteer. Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het die resolusie verwelkom, maar sê die gruwel wat deur konvensionele wapens in Sirië veroorsaak word, duur steeds voort.

Hy sê daar word daaraan gewerk om die strydende partye in November vir vredesamesprekings in Geneve byeen te bring. – RSG

Zuma kritiseer Veiligheidsraad as ‘ondemokraties’

unsc2President Jacob Zuma het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad as ‘oud‘ en ‘ondemokraties‘ bestempel voor ‘n beraad van wêreldleiers in New York.

Die Business Day het Zuma aangehaal waar hy sê die huidige Veiligheidsraad is “uitgedien“.

Ontwikkelende lande het ‘n oproep vir die hervorming van die Veiligheidsraad gedoen. Sedert die Tweede Wêreldoorlog is vetoreg oor wesenlike besluite tot vyf permanente lede beperk, naamlik die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Frankryk, Rusland en China.

“Jy het ‘n situasie waar diegene wat oor vetoreg beskik meer oor oorlog as vrede praat,” het Zuma gesê aan Suid-Afrikaanse joernaliste by die aanvang van die byeenkoms van die VN se Algemene Vergadering hierdie week.

“Jy het ‘n minderheid wat die laaste sê het en ongelukkig nie meer help nie. Dit is eintlik besig om deel van die probleem te word,” het hy gesê, en die Raad se optrede oor die konflikte in Irak en Libië oor die afgelope tien jaar afgekeur.

“As klein lande glo ons dat die reëling onregverdig is, dit is ondemokraties, dit is nie goed nie.” Sapa/AFP

VN-verslag oor chemiese wapens verwag

bankimoenDie sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-moen, gaan later vandag ‘n verslag deur wapeninspekteurs oor chemiese wapens in Sirië voorlê.

Hy het reeds aangedui dat die verslag aan die VN se Veiligheidsraad sal bevestig dat senugas in die aanval naby Damaskus op 21 Augustus gebruik is.

Honderde mense is in die aanval dood. Die VN-span is nie toegelaat om te sê wie vir die aanval verantwoordelik is nie.

Westerse regerings wys die vinger na die Siriese regering terwyl Rusland die blaam op die rebelle plaas. ‘n Russies-Amerikaanse skikking om Sirië se chemiese wapenvoorraad te vernietig sal ‘n besliste invloed op die Veiligheidsraad se beraadslagings hieroor hê.

Die skikking maak daarvoor voorsiening dat die wapens binne die volgende nege maande tot niet gemaak moet word. – RSG

Chemiese aanval in Sirië eis meer as 1000 lewens

Damaskus
Damaskus

Die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad het gesê ‘n verduideliking is nodig oor ‘n beweerde chemiese wapenaanval op burgerlikes in die voorstede van Damaskus Woensdag. Die Raad het nie uitdruklik gevra vir ‘n ondersoek deur die VN-ondersoekbeamptes in Sirië nie.

Die aanval kom te midde van ‘n besoek van VN-inspekteurs aan Sirië om bewerings van chemiese aanvalle deur sowel regerings- as rebellemagte te ondersoek en word beskryf as die ergste nog in die konflik wat reeds 29 maande duur.

Meer as 1 300 mense is Woensdag dood in aanvalle naby Damaskus.

Die Veiligheidsraad het na ‘n noodvergadering gesê duidelikheid oor die aanval sal verkry moet word.

Terwyl die Raad nie uitdruklik om ‘n VN-ondersoek gevra het nie, het die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon daarvoor gevra. Lede wat graag Westerse ingryping in Sirië wil sien, het die oproep verwelkom.

“Die lede van die Veiligheidsraad verwelkom ook die vasberadenheid van die sekretaris-generaal om ‘n deeglike, onpartydige en vinnige ondersoek te verseker,” het Argentinië se VN-ambassadeur, Maria Cristina Perceval, voorsitter van die raad van hierdie maand gesê.

Sirië se opposisie het die Siriese president Bashar al-Assad se magte daarvan beskuldig dat hulle honderde mense, soveel as 1300, tydens ‘n aanval Woensdag dmv gas gedood het. Assad se regering ontken die gebruik van chemiese wapens.

Die Verenigde State van Amerika, Brittanje en Frankryk is van die sowat 35 lande wat vra dat die hoofondersoekbeampte Ake Sellstrom en sy span in Sirië die voorval so gou as moontlik ondersoek.

VN-diplomate egter gesê dat Rusland en China gekant was teen taal wat ‘n duidelike oproep vir ‘n VN-ondersoek bevat. ‘n Vroeëre Westerse verklaring, gesien deur Reuters, het gevra dat die Verenigde Nasies “dringend die stappe wat nodig is neem sodat die aanval ondersoek word deur die VN-sending.”

Rusland se ministerie van buitelandse sake het vir ‘n eerlike en professionele ondersoek gevra na berigte dat troepe lojaal aan Assad verantwoordelik vir die vermeende aanval was.

Moskou meen dat rebelle die beweerde aanval kon uitgevoer het om internasionale optrede uit te lok.

Dit was nie onmiddellik duidelik hoe die Siriese regering sal reageer op versoeke dat Sellstrom se span die beweerde voorval ondersoek nie. 

Veiligheidsraad verdeel oor Egipte

egipte4Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het ‘n beroep op die Egiptiese regering en die Moslembroederskap gedoen om hulle van geweld te weerhou en versoening na te streef.

Die Raad het na ‘n noodsitting Donderdagnag egter nie ‘n konsensus-verklaring kon uitreik oor die hernieude geweld in Egipte wat reeds meer as 600 lewens geëis het nie.

Lede van die raad is vir ‘n noodsitting ontbied nadat die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Australië die Veiligheidsraad gevra het om die saak dringend te bespreek.

Die Argentynse president van die raad, Marcia Perceval het gevra dat geweld en die onderdrukking van vreedsame optogte onmiddellik beëindig moet word.

Die VN-sekretariaat, Amerika en die Europese Unie wou nie standpunt wou inneem oor die omverwerping van die Egiptiese regering nie.

Suid-Afrika het Egipte dringend versoek om demokrasie in die land te eerbiedig. Die minister van internasionale betrekkinge – Maite Nkoana-Mashabane – het die Egiptiese situasie by die SAOG-beraad in Malawi geopper.

Dit volg nadat die Egiptiese weermag twee kampe in Kaïro met ondersteuners van die afgesette president Morsi bestorm het, en regeringsgeboue in die hoofstad aan die brand gesteek is deur Morsi-ondersteuners.

Die Amerikaanse president, Barack Obama het ook die geweld veroordeel en ‘n gemeenskaplike militêre oefening met Egipte, wat aanstaande maand sou plaasvind, gekanselleer.

Obama het homself egter nie uitgespreek oor die wetlikheid van die nuwe oorgangsregering in Egipte nie.

Die Egiptiese regering het ondersteuners van die afgesette president Morsi intussen gewaarsku dat die polisie toestemming het om volle mag te gebruik teen terreuroptrede of sabotasie.

Die dodetal in die jongste geweld in Egipte het tot meer as 600 gestyg. Die bevestigde dodetal staan op minstens 638, terwyl bykans 4 000 mense gewond is.

Die geweld wat die week uitgebreek het is die ergste sedert die begin van die “Arabiese lente”. Die militêre regering in Egipte slaan toe op ondersteuners van die afgesette president Mohammed Morsi en sy hoofsaaklik Moslem-ondersteuners, terwyl teenaanvalle ook plaasvind.

Die geweld het Donderdag verder uitgebrei toe regeringsgeboue naby die piramides aan die brand gesteek, polisiebeamptes geskiet en Christen-kerke aangeval is.

Die Moslembroederskap probeer hergroepeer na aanvalle op hul vestings en die in hegtenisneming van talle leiers.

Die Broederskap het gevra dat massa-optogte Vrydag gehou word om teenstand te bied teen die noodtoestand wat regering afgekondig het.

Afrika eis dringende Veiligheidsraad-hervorming

Vuk Jeremic
Vuk Jeremic

Suid-Afrika het die Verenigde Nasies gevra om sy Veiligheidsraad te wysig om Afrika-state in te sluit.

Die president van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het ‘n oproep vir die hervorming van die Veiligheidsraad gedoen.

Vuk Jeremic het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Maite Nkoana–Mashabane in Pretoria ontmoet oor die aangeleentheid.

‘n Dringende oproep vir verandering om ‘n meer deursigtige en verteenwoordigende Veiligheidsraad is insgelyks deur die minister geloods.

“Daar sal geen verandering wees sonder ons nie, aangesien 70% van die kwessies wat na die Veiligheidsraad vir bespreking verwys word, rondom ons handel. So kan dit nie voortgaan sonder ons nie,” het sy bygevoeg.

Die Raad het vyf permanente lede met vetoreg en 10 verkose nie-permanente lede met ‘n twee jaar termyn met geen vetomagte nie. Suid-Afrika het reeds twee termyne as ‘n nie-permanente lid gedien.

“As dit nie Afrika insluit nie dan is ons beter af sonder enige verandering, en verandering is nodig. Anders sal die VN sal stadig wegkwyn na irrelevansie.“

Sy het beklemtoon dat die raad kan nie langer sonder die vasteland kan aangaan nie.