In Willem van Heerden se brief “Oraniagebied nie reg vir 'n volkstaat”, stel hy dat die Oraniagebied nie perfek is nie; daarom moet Afrikaners eerder hul eie gemeenskappe bly versterk, sodat daar later met die ingryp van wêreldkragte, ‘n “beter” regering vir Afrikaners saamgestel kan word. Van Heerden sluit sy argument as volg af: “Wie weet dan of groot wêreldkragte, wat buite ons beheer is, en ander faktore, dit nie eendag tog moontlik sal maak dat ons ‘n eie regering bekom nie?”
Ek wil egter aanvoer dat Afrikaners alleen oor ‘n eie regering gaan beskik indien ons self ‘n regeerbare gebied ons eie maak deur dit as volstrekte meerderheid te beset, bewoon en te bewerk.
Dit is tog duidelik vanuit die steeds voortslepende Zimbabwiese-drama dat geen wêreldkrag of ander faktore ons gaan bystaan nie. Al wat oorbly is om ons behoud vanuit die grond af op te bou.
Die Oraniagebied tot aan die Weskus is en bly die enigste gebied wat as ‘n Afrikanerland beset en ontwikkel kan word, omdat dit demografies die enigste streek is waarin Afrikaners enersyds ‘n volstrekte meerderheid kan vorm terwyl dit groot genoeg in omvang is om sleutelhulpbronne in te sluit terwyl dit ruimte vir ontwikkeling en militêre maneuvrering laat indien nodig.
Al is die Oraniagebied nie perfek nie, ondersteun die volgende argumente dit as potensiële Afrikanerland:
1. Afrikaners moet meer onafhanklik van vreemde arbeid word, want:
a. Vreemde arbeid word onekonomies weens vlakke van produktiwiteit en drakoniese arbeidswetgewing,
b. Agt uit elke tien huisrooftogte word gepleeg op grond van inligting wat rowers ontvang van huishulpe, tuiniers en mense wat die inwoners ken volgens ‘n onlangse artikel in Rapport
c. Jong en minder bevoorregte Afrikaners is bereid om teen die heersende gemiddelde tariewe van arbeiders te werk, mits indiensopleiding en vordering moontlik is.
2. Orania beskik oor ‘n groter, skoner en betroubaarder varswaterbron as Johannesburg en die Vaaldriehoek op grond van sy nabyheid aan die Vanderkloofdam. Volgens die Departement van Waterwese is die kapasiteit van die Vanderkloofdam 3 171 miljoen kubieke meter, terwyl die Vaaldam se kapasiteit 2603 miljoen kubieke meter is. Die hoogste piek invloei in die twee damme was 6700 kubieke meter per sekonde in die Vanderkloofdam, terwyl dit 4800 vir die Vaaldam was.
3. Die vloei van water na Orania kan nie afgesny word nie want:
a. Dit sal veroorsaak dat die hidrokragsentrales in die Lesotho-hoogland en Oranjerivierskemas nie sal werk nie, wat die elektrisiteitstekort in Suidelike Afrika sal verhoog.
b. Dit sal watervloei na Namibië afsny, wat groot verliese vir daardie land en ‘n internasionale insident sal veroorsaak.
c. Watervloei kan net afgesny word totdat damme begin oorloop.
4. Boerdery in die Benede-Oranje is hoogs-produktief en winsgewend. Hoë hitte-eenhede laat boere toe om twee gewasse per jaar op dieselfde grond te produseer, terwyl ‘n baie wye verskeidenheid van gewasse geproduseer kan word, onder andere aartappels, tafeldruiwe, sitrus, graan en neute.
5. Volgens die Oesskattingskomitee word die volgende produksie uit die Noord-Kaap verwag, uitgedruk as persentasie van totale landswye produksie. Dit sluit gewasse soos aartappels en vrugte uit, maar toon dat Afrikaners wat ongeveer 6% van die land se bevolking uitmaak, nie honger sal lei nie:
i. Mielies: 540 700 ton (8%)
ii. Grondbone: 21 700 ton (37%)
iii. Koring: 250 000 ton (12%)
6. Orania bied lae oorhoofse kostes vir nywerhede as gevolg van relatiewe goedkoop arbeid, sentrale ligging in die land op verspreidingsroetes na die Kaap en Gauteng terwyl goeie veiligheid kostes vir sekuriteit en versekering teen diefstal oorbodig maak.
7. Orania ontvang volhoubare elektrisiteit wat onder andere d.m.v. hidrokrag opgewek word by die Vanderkloofdam.
8. Orania bied ‘n sorgvrye en hoë kwaliteit lewe aan die Afrikaners wat daar woon.
9. Orania word internasionaal erken as ‘n Afrikanergemeenskap omdat dit uitsluitlik deur Afrikaners bewoon word en as sulks kan dit ook aanspraak maak op beskerming as minderheidsgemeenskap volgens die Suid-Afrikaanse Grondwet en Internasionale konvensies soos deur die VN aanvaar.
10. Ekonomiese groei word vandag hoofsaaklik gedryf en ondersteun deur die hoë-tegnologie en dienste sektore. Vervolgens is dit moontlik om ‘n sterk en suksesvolle ekonomie op Orania te vestig en volhoubaar te onderhou sonder om bedreig te word deur die uitputting van natuurlike hulpbronne.
Afrikaners is so verstrooid oor Suid-Afrika, dat elke gesin in werklikheid as alleenstaanders moet veg teen die bedreigings van misdaad en vyandige staatsmasjinerie. Die stryd is huidiglik so onregverdig dat ons nie eers daarin slaag om ons dorpe se name te behou of skole soos Ermelo Afrikaansmedium te hou nie. Om nie eens van moorde te praat nie. Ons bestaande gemeenskappe is toonbeelde van agteruitgang op elke gebied vir die Afrikaner.
Hoop kan slegs volhoubaar geskep word waar dit moontlik is om projekte aan te pak en te voltooi wat resultate lewer.
Orania en haar gebied is vir my ‘n vlam van hoop. Saam kan ons as Afrikaners dit soveel meer maak.
Ebert Terblanche
купить велосипед харьковФильчаков Харьков