Ná omtrent 15 jaar, is Oranje se bevolking ongeveer 200 siele. Jong inwoners wat nie daar werk kan bekom nie, verhuis weer terug na ander dele van die land (ek het al van sodanige persone persoonlik teëgekom in Pretoria). Oor dieselfde tydperk het letterlik honderde duisende Afrikaners eerder verkies om permanent na die buiteland te verhuis, om daardeur totsiens aan die Afrikaanse taal en kultuur te sê. Die huidige geslag Afrikaners daar sal nog Afrikaans tuis praat, maar die daaropvolgende geslagte sal geabsorbeer word deur die taal en kultuur van hulle nuwe volkstuiste. Meer Afrikaners, asook ‘n groter persentasie, is vir die Afrikanerkultuur verlore sedert 1994 as gevolg van emigrasie, as Afrikaners wat gesneuwel het gedurende die twee Boere-oorloë.
Die ANC of enige ander swart regering het nie eers nodig om Orania teë te staan nie. En hulle doen dit ook nie. Die Afrikaner doen dit self. Die idee van Orania of enige ander Volkstaat het net nie by die oorgrote meerderheid Afrikaners posgevat nie, afgesien van die klein handjievol wat dit vandag soos ‘n godsdiens aanhang. En as die oorgrote meerderheid Afrikaners dit nie aanvaar nie, sal dit nooit van die grond af kom nie, maar ‘n afgesonderde Afrikanerghetto in ‘n kleurlingsee in die woestyn bly, met ‘n goeie kans om uiteindelik tot niet te gaan soos die geval was met Eldoret in Kenia, Humpata (Dorslandtrekkers) in Angola en die Afrikaners in Argentinië. Die meeste Afrikaners met wie ek praat, weet nie eers waar Orania is nie, maar vermoed dat dit êrens in die Karoo is. Al word daar nou ook hoe indringend gesoek na ander dele van die land vir ‘n alternatiewe Volkstaat, sal die steriele gevolge dieselfde wees.
Die oorspronklike entoesiasme vir Orania in Constand Viljoen se tyd by baie Afrikaners het buitendien met die jare erg verflou, en die konsep onder die jonger en nuwe geslag Afrikaner is byna uitgesterf. Dit is amper ‘n verleentheid vir die Vryheidsfront om te erken dat dit nog op sy agenda is. Die Vryheidsfront Plus is tans sterk op die Universiteit van Pretoria se kampus verteenwoordig, maar wees verseker dat die idee van Orania onder die studente nie eers ter sprake kom nie. Die ingenieurs, dokters, kunstenaars, dosente, ens., wat daar gaan gradueer, bedink nie eers Orania nie, wat nog gepraat om soheentoe te wil verhuis! Indien hulle wel ooit verhuis, sal dit vir seker na die buiteland wees.
Die grond, verbeteringe, waterbronne, besighede, minerale, ens., binne enige voornemende Volkstaat, behoort vandag òf aan die een of ander privaateienaar òf aan die staat, wat ‘n markverwante prys vir hul grond en ekonomiese bronne sal wil hê, net soos die blanke boere ‘n markverwante prys vir hulle grond wil hê wat die staat uitkoop. Wie gaan dan die grootskaalse kapitaal verskaf om die huidige eienaars uit te koop om ‘n Afrikanervolkstaat uit te kerf? Die Afrikaner het 'n keuse om die grond en bestaande ekonomiese bronne uit te koop of te vat. Laasgenoemde sal ‘n oorlog tot gevolg hê en internasionale sensuur op die koop toe, en is definitief nie ‘n opsie nie. Die huidige lappie grond, ‘n paar plase groot, wat tans Orania beslaan, is nie groot genoeg indien jy omtrent 2,5 miljoen Afrikaners wil huisves in ‘n ekonomies haalbare gebied nie. En indien die grond wel aangekoop word, wie gaan die geld verskaf om die anderskleuriges te betaal om weg te trek? In beide gevalle weet ons sal die Afrikanergesin of indiwidu dit nie doen nie, asook geen Suid-Afrikaanse regering nie. Die regering sukkel juis tans om geld bymekaar te maak om blanke boere uit te koop!
Die Kleurlinge, Grieke, Jode, Portuguese, Indiërs, blanke Engelssprekendes en ander minderhede wat hierdie land saam met die Afrikaner deel, beleef hulle eiesoortige kultuur en praat steeds hulle eie taal onderling, maar het nogtans geen begeerte om 'n eie Volkstaat te skep nie. Hulle weet dit is nie haalbaar nie. Alhoewel die Afrikaner, in vergelyking, ‘n groot minderheid in die land verteenwoordig, bly hulle tog ‘n onbenydenswaardige minderheid en sal moet, soos die ander minderhede, aanvaar dat hulle nie die reg vir hulleself kan toe-eien om ‘n onafhanklike Volksstaat te verkry nie. Nie eers die grootste minderheidskultuur in die land, naamlik die 8 miljoen Zoeloes, sal dit vir hulleself kan of wil regkry nie.
Die Jode en die Moslems as minderhede het dit in hierdie land reggekry om ‘n sentrale struktuur te skep vir hulself om hul belange suksesvol te bevorder sonder ‘n eiesoortige regering. Ons Afrikaners sal dieselfde moet doen indien ons wil bly voortbestaan. Waar die Jode en die Moslems internasionale steun geniet van hul eie mense, het die Afrikaner geen internasionale bondgenote nie, en sal op sy eie vernuf moet staatmaak. Die Afrikaneruitdaging is nie om eenheid onderling te probeer bewerkstellig nie, want dit was geskiedkundig, en nou ook, nooit deel van sy geaardheid nie, maar om strukture (verkieslik ‘n sentrale struktuur) die lig te laat sien wat verskillende denke en belange onder heterogene Afrikaners saambring vir die groter Afrikanerbelang, plaaslik sowel as internasionaal.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.