Etiket: Nuus
Zimbabwe reg vir oorlog
Zimbabwe se troepe is ten volle paraat en reg om ’n moontlike Britse inval af te weer nadat ’n voormalige hoof van die Britse gewapende magte, Lord Charles Guthrie, onthul het dat Brittanje op ’n stadium so ’n stap oorweeg het. “Ons is bewus van planne deur Brittanje om ons land in te val en ons leiers te vermoor. Ons gaan nie net lê nie en beskou dit as besliste bedreigings,” het Bright Matonga, adjunk-minister van inligting, gister aan die pers gesê. “Ons het volle vertroue in ons vermoëns en ons sal onmiddellik en doeltreffend teenoor hulle optree as hulle dit sou waag om ons gebied binne te val.”
Guthrie het in ’n onlangse onderhoud met die Independent on Sunday erken dat die moontlikheid van ’n Britse inval in Zimbabwe tydens Tony Blair se premierskap oorweeg is. Sy advies aan Blair was egter soos volg: “Wag eers, julle gaan dit net erger maak. Julle sal nie op die steun van ’n enkele Afrika-land kan reken nie.”
Volgens Matonga is Mugabe al geruime tyd in die Britte se visier. “Hulle het nog altyd Afrika-leiers geteiken wat teen hulle imperialistiese beleid gekant is … maar ons het ’n baie sterk weermag wat gereed is om die land en sy leiers te verdedig.”
Mugabe was een van Tony Blair se grootste kritici toe hy nog eerste minister van Brittanje was. Hy het Blair gedurig beskuldig van inmenging in Zimbabwiese beleid en hom aangesê om “sy pienk neus” uit die land se sake te hou.
Intussen het Zimbabwe Maandag die vrystelling van inflasiesyfers uitgestel en gesê dit gaan “vir ’n rukkie” nie beskikbaar wees nie. Ten spyte van die regering se pogings om prysbeheer uit te oefen, het die pryse van items soos brood en melk steeds bly styg. Ekonomiese kenners het verwag dat die Oktober-inflasiekoers op sowat 15 000% te staan sou kom.
Nuwe huiseienaars verkies kaias
Die Ierse miljardêr Niall Mellon was onlangs in die nuus toe hy en ʼn aantal vrywilligers met groot fanfare huise in swart en bruin woonbuurte in Suid-Afrika kom bou het. Ongelukkig vir Mellon verkies die nuwe huiseienaars blykbaar om in sinkkaias te woon, want dié is naas die huise herbou en die huise word aan derde partye uitverhuur teen bedrae van tot R2000 per maand.
Mellon besit ʼn woonstel in die middestad van Kaapstad. As besoekende Europeër het hy Rudyard Kipling se “blanke las”-beginsel ernstig opgeneem en dus gereël dat ʼn groepe Ierse vrywilligers na Houtbaai kom om tydens ʼn week van intense bouery huise vir plakkers te bou.
Oor die volgende twee jaar het dieselfde groep Iere tydens verskeie besoeke ʼn totaal van 448 baksteenhuise vir die kaiabewoners gebou.
Die nuut geboude huis van Thuletu Jwara, ʼn inwoner van Imizamo Yethu, is nou ʼn klerewinkel wat deur Sjinese gehuur word terwyl sy self in ʼn kaia agter die huis woon.
Jwara het haar soos volg uitgespreek: “Ek verkies om my huis uit te verhuur want ek is werkloos en het die geld nodig om die verband af te betaal en om my familie te help. Die verband is R300 per maand en my huurders betaal my R1 500 per maand. As ek klaar die verband afbetaal het, sal ek graag terug in die huis wil trek maar dit sal afhang of ek in staat is om my familie kos te gee.”
ʼn Ander huis in dieselfde buurt, met ʼn sitkamer, drie badkamers, ʼn kombuis en badkamer, is intussen in ses slaapkamers verdeel wat elkeen ʼn betalende huurder huisves. Dit is nou moeilik om in die huis rond te beweeg vanweë die vele verdelings en daar is nêrens om toestelle soos die yskas te sit nie.
Een van die huurders van dié huis, Lisa Makoma van Malawi, sê die vertrekke is baie klein en die huur is hoog – sy betaal R1 200 per maand vir een van die groter kamers. “Die eienaars is nou geskei en woon apart dus kom hulle elkeen aan die einde van die maand hul huurgeld in. Dus betaal ons twee keer – ek betaal die man R600 en die vrou R600.”
Die arme Iere is natuurlik ietwat uit die veld geslaan deur dié kulturele uitdagings. Volgens Deirdre Grant, ʼn skakelbeampte van die Niall Melon-lokasietrust: “… verbied wetgewing oor behuising die eienaars om die huis binne die eerste vyf jaar te verkoop maar dit verhoed hulle nie om dit uit te verhuur nie, of om ʼn vertrek en die agterplaas uit te verhuur nie.”
Sy sê dat die trust teleurgesteld is dat die begunstigdes hul huise nou uitverhuur en terug in die kaias getrek het. “Maar ons begryp dat dit ʼn oorlewingsmeganisme is.”
Die trust het tot dusver ʼn totaal van 5 000 baksteenhuise tussen Johannesburg en Kaapstad gebou, waarvan die mees onlangses 200 huise in Freedom Park in Mitchellsplein vroeër vandeesmaand is.
Spanning binne SWAPO
Namibië se regerende SWAPO-party beplan om aan die einde van hierdie maand tydens ’n partykongres die pos van eerste minister in die land af te skaf en te vervang met dié van adjunk-president. Sodoende sal verseker word dat SWAPO sy houvas behou oor die regering, wat bekendstaan vir sy onbekwaamheid en korrupsie. Dit wil voorkom of hierdie besluit geneem is na aanleiding van die onlangse bedanking van die SWAPO-veteraan Hidipo Hamutenya. Hy het verlede week uit die parlement en uit die SWAPO-party bedank en verklaar dat hy nie langer deel kan wees van ’n party wat sy visie en rigting verloor het nie.
In ’n onlangse onderhoud het Hamutenya die komende SWAPO-kongres as “’n klug” bestempel. Volgens hom het Sam Nujoma, wat steeds president van die party is, alles georkestreer om te verseker dat net “lojale” lede die kongres bywoon. Diegene wat teen Nujoma se outokratiese optrede gekant is, is uit die weg geskuif sodat Nujoma die kongres volgens sy wense kan laat verloop, beweer Hamutenya.
Op dieselfde dag dat Hamutenya sy bedanking aangekondig het, het SWAPO ’n verklaring uitgereik om die pers in te lig dat die voormalige eerste minister Hage Geingob tydens die kongres van 27-30 November as vise-president genomineer sal word. Die huidige president van die land, Hifikepunye Pohamba, is as voorsitter van die party voorgestel. Daar word verwag dat Pendukeni Ithana-Iivula, minister van justisie, die party se volgende sekretaris-generaal gaan word.
Hamutenya se bedanking en die aankondiging van die stigting van ’n nuwe politieke party, genaamd die Beweging vir Demokrasie en Vrede, het meegebring dat SWAPO nou eis dat sy lede almal ondernemings moet teken dat hulle getrou sal bly aan die party. Alhoewel Nujoma aangekondig het dat hy nie weer as president van SWAPO beskikbaar sal wees nie, word verwag dat hy tydens volgende week se kongres as voorsitter van die party verkies sal word, wat hom in staat sal stel om steeds deur middel van die party se politburo die beleid van SWAPO te bepaal. Die politburo se 20 lede tree as ’n soort magtige kabinet op, wat die uitvoerende besluite van Pohamba se regering goedkeur.
Pohamba, wat gesondheidsprobleme ondervind, is nie van plan om in 2009 weer as president te staan nie. Dit sal die weg baan vir Geingob om oor te neem as president. Alhoewel Geingob in 2002 as eerste minister afgedank is, was hy daarvoor verantwoordelik om Nujoma se derde termyn in 1999 deur die parlement goedgekeur te kry. Dit het as ’n verrassing vir politieke kenners gekom dat hy nou skielik weer goedkeuring in Nujoma se oë gevind het. Geingob het verder noue bande met Brett Kebble en ander kontroversiële sakelui gehad.
Tydens die SWAPO-kongres van 2004 het Nujoma homself met lyfwagte omring en met geweld gedreig indien die meer gematigde Hamutenya as sy opvolger aangewys sou word. Hamutenya en sy ondersteuners is steeds oortuig daarvan dat hy destyds oor genoeg stemme beskik het om Nujoma op te volg, maar dat diegene wat die stemme getel het, onder druk was om Pohamba te laat wen.
Dit wil dus voorkom of Sam Nujoma self vir die skeuring in sy party verantwoordelik is.
Die begin van ?n nuwe tradisie
Dit is warm op Kerkplein. Die kwik trek iewers in die dertigs. Daar is duisende mense, met koelhouers, opvoustoele en uitbundige blondekop kinders. ’n Basaaratmosfeer heers. Weet hierdie mense met hul rooigebrande velle dat hulle vandag eintlik weer ’n vergete tradisie begin? Hulle voorsate het immers in die negentiende eeu van ver gekom om op Kerkplein te kom kampeer en saam te kuier. Maar vandag word daar nie Nagmaal gehou nie; daar word feesgevier met musiek, spookasem en boerewors. Pretoria is 152 jaar oud.
Dit was op 16 November 1855 dat die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) besluit het om ’n dorp te stig, en dat die nedersetting Pretoria sou heet. Lamé Ebersöhn, eienaar van Café Riche, historiese kuierplek op Kerkplein, wou vanjaar behoorlik makietie hou om die geskiedkundige datum te vier. Sy het met Kallie Kriel van AfriForum gaan praat en die idee van ’n Afrikaanse musiekfees het gestalte gekry.
Van vroegoggend Saterdag het opgewonde mense al kom nesskop op die grasperk rondom Paul Kruger se standbeeld. AfriForum se verhoog is skuins voor die manjifieke Paleis van Justisie opgerig. ’n Hele rits sangers vermaak die skare – sommige meer bekend as ander. Almal tree gratis op. Elkeen het ’n boodskap vir die verjaarsdagstad, selfs ’n liedjie wat spesiaal vir die okkasie geskryf is, of ’n boodskap teen die naamsverandering. Lianie May sing met oorgawe Sean Else en Johan Vorster se nuwe liedjie oor Pretoria. Die groep Hoofseun en die sangeres Jofranie kom ook aan die beurt met hulle liedjies oor die hoofstad.
Die blonde Elizma Theron van Lapaside-faam, wat onlangs deelgeneem het aan AfriForum se konserttoer teen plaasmoorde, sing spesiaal vir diegene wat al iemand aan die dood moes afstaan.
Sean Else, Casanova van die Afrikaanse musiekbedryf, is die dinamiese seremoniemeester van die dag. Hy vertel brokkies oor Pretoria se geskiedenis en gooi kort-kort met bultende arms Jou Taal-hempies in die rigting van die opgewonde skare. Jou Taal het dan ook met die beste publisiteitsfoefie van die dag gekom: langbeen meisies met eina-kortbroekies en hempies wat lui Afrikaans is nie so khaki en Ek luister nie na Britnie.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys die feit dat duisende mense op Kerkplein opgedaag het dat mense sterk oor die stad se naam voel en dat hulle nie gediend is met pogings om die hoofstad se naam te verander nie. “Die minister van kuns en kultuur, dr Pallo Jordan, en ander besluitnemers, moet kennis hiervan neem en toesien dat pogings om die stad se naam te verander, gestaak word,” voeg Kriel by. Volgende jaar hou ons weer partytjie, belowe hy die skare. Hierdie gaan ’n jaarlikse instelling word.
DJ Ossewa se manewales op die verhoog het die toeskouers in vervoering. Gee my ‘n stukkie van jou koeksister sing almal lustig saam. Hartbeeshuis is ook ’n duidelike gunsteling. Twintig jaar gelede sou hierdie soort liedjies met hulle nasionalistiese inslag weinig inslag gevind het. Maar vandag is dit in om na Afrikaans te luister, om gaande te raak oor sangers wat nostalgies is oor hulle wortels, geskiedenis en landelike verlede.
Staalsnaar se Taal van Staal het vandag ’n vinnige dansinslag met ’n doef-doefritme :
Ek weet jou wêreld is ‘n “merry-go-round”
Ek weet jou hart lê by die “lost-and-found”
Ek weet die spook van gister spook
By die drome wat jy oor môre droom
Ek weet nie hoe ons wêreld sonder jou sou wees nie
Ek vrees nie – Jy’s die taal van staal
Bok van Blerk laat die skare lyf rondskud met Die bok kan blêr en later stadig wieg terwyl hy die onvermydelike De la Rey sing.
Al meer uitgeputte, rooigebrande mense besoek Café Riche vir ’n koele lafenis. Swerms duiwe fladder in die blou lug rond. Oom Paul se standbeeld is volgepak met seuntjies wat ’n beter uitsig op die verhoog probeer kry. Afrika is nie vir sissies nie, skreeu Sean Else. Vandag is die werklikheid egter ver. Vandag vier die Boere fees.
Afrika se kinderslawerny gedy
‘n Dokter uit Mali wat gemoeid is met die NRO wat hulle oor sulke kinders ontferm, verduidelik dat Togo, Benin en Nigerië asook Senegal, Guinee-Bissau en Gambië nie die probleem aanspreek nie.
Unicef het in ‘n verslag wat in 2006 bekend gemaak is, beweer dat daar "uitgebreide en invloedryke netwerke bestaan wat enorme winste uit kinderslawe maak. Maklike kommunikasie, swak polisiëring en ouers en kinders wat maklike teikens is, veroorsaak dat kinderslawerny in Wes-Afrika aan die toeneem is."
Die Internasionale Arbeidsburo by monde van Giselle Mitton meen dat dit "moeilik is om te bepaal hoeveel gevalle daar in werklikheid is." Net as ‘n smokkelaar gevang word, kom die kwessie op die lappe. "Maar die meeste van die tyd bly hulle verskuil omdat die kinders as huisbediendes aangehou word," verduidelik sy.
Van die kinders wat met hul "onderwyser" by die grens voorgekeer is, was 42 net vyf jaar oud. Die smokkelaar was waarskynlik van plan om hulle as bedelaars en onbetaalde werkers in te span. Volgens amptelike syfers beskikbaar van 2000 is daar 100 000 "Koranleerlinge en bedelaars" in Senegal, maar dit word allerweë aanvaar dat dié aantal net die ore van seekoei verteenwoordig.
Mitton sê meer as die helfte van die sogenaamde Talibés of Koranleerlinge in Senegal kom van elders. Verskeie nie-regeringsorganisasie is dit eens dat die aantal vandag veel hoër is. Dit is nie net in die informele sektor waar daar van kinderslawearbeid gebruik gemaak word nie, maar ook in landbou en mynwese. Voorts is daar ook geen erns van die kant van owerhede om sulke praktyke op te skort en kinders terug te stuur nie, ten spyte van allerlei mooi verklarings.
Eskom-tariefverhogings gekritiseer
Eskom se plan om volgende jaar
’n tariefverhoging van 18% in te voer, gevolg deur ’n verhoging van 17% in 2009, is deur die sakegemeenskap en ander organisasies veroordeel. Die vakbond Cosatu, die Jong Kommuniste-liga en Verenigde Besigheid in Suid-Afrika het gister almal Eskom se plan veroordeel. Jacob Maroga, Eskom se uitvoerende hoof, het egter vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy verwag dat Suid-Afrika se Nasionale Energiereguleerder die beplande verhoging sal goedkeur.Maroga het gesê die verhoging is noodsaaklik om “nuwe kapasiteit” te skep. Volgens Simi Siwisa, ekonoom verbonde aan Verenigde Besigheid in Suid-Afrika, verstaan hulle dat Eskom moet groei, maar is die verhoging oordrewe.
Dit is veral kommerwekkend omdat daar na verwagting in die komende jaar ’n afplatting in groei gaan wees in die plaaslike en globale ekonomie. Siwisa het verder daarop gewys dat so ’n verhoging sal meebring dat die regering se beoogde 6% groeikoers en die halvering van werkloosheid en armoede teen 2014 nie bereik gaan word nie.
Cosatu het ook die Eskom-besluit veroordeel. “Die impak van so ’n verhoging sal rampspoedig wees vir verbruikers, werkers en die hele land,” lui die vakbond se verklaring. Nie net sal die verhoging armoede vererger nie, maar dit sal ook werkskepping vertraag en ’n invloed op ander pryse hê.
Die Jong Kommuniste-liga het verder gegaan en meen dat elektrisiteit teen “bekostigbare tariewe of gratis” aan alle Suid-Afrikaners verskaf behoort te word.
Tito Mboweni, goewerneur van die Reserwebank, het op sy beurt gewaarsku dat Eskom se beplande verhoging inflasie sal vererger.
Die Nasionale Energiereguleerder sal aanstaande maand ’n finale besluit oor die voorgestelde verhogings neem. Die publiek is intussen uitgenooi om voorleggings in hierdie verband by die liggaam se hoofkantoor in Pretoria in te dien.
Onverskillige moordenaars
Twee mans het onverskillig geluister toe ’n regter in die Pietermaritzburgse hoër hof hulle tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis het vir die moorde op Elaine Anderson en Patricia Kippen. Sibusiso Duma, ’n 24-jarige huurmotoreienaar, en Simphiwe Khesi, sy 33-jarige bestuurder, het gesê dat hulle die moorde op 14 Oktober in Woodlands uitgevoer het as gevolg van die feit dat hulle ’n motor gesoek het om mee huis toe te gaan.
Beide het heeltemal ongeïnteresseerd voorgekom tydens die hofverrigtinge en toe regter Vuka Tshabalala die vonnis gelewer het, het hulle begin lag. “Hulle is nou dood. Waaroor is die mense so bekommerd?” het die een man aan die ander een gevra.
Die slagoffers se gesinne het hierdie reaksie baie ontstellend gevind. Anderson se dogter, Anthea King, het gevra dat die doodstraf teruggebring word. In hulle verduidelikings het die moordenaars vertel dat hulle op die spesifieke dag by ’n kroeg was. Teen 19:00, toe hulle wou huis toe gaan, het hulle besef dat daar geen huurmotors meer was nie en het toe besluit om ’n motor te kaap. Hulle het Kippen se voertuig by ’n kruising in Woodlands opgemerk, waar sy by ’n stopstraat stilgestaan het. Duma het ’n enkele skoot gevuur. Die kar het begin versnel en in ’n pilaar vasgery. Mense het uitgekom om te kyk wat aangaan, wat beteken het dat die twee nie die motor kon steel en wegry nie. Hulle het wel Kippen se selfoon gesteel.
Hulle het toe op ’n ander motor afgekom, wat langs ’n kerk geparkeer was. Anderson, ’n afgetrede joernalis wat baie betrokke was by kerkaktiwiteite, het hulle gewaar, die noodligte aangeskakel en probeer wegry. Duma het haar egter twee keer geskiet, die motor het buite beheer geraak en ’n ongeluk het gevolg. Toe die twee misdadigers die voertuig probeer steel, was dit egter gesluit en ’n ander motor het op die toneel verskyn, waarop hulle gevlug het.
Khesi was uit op parool toe die moorde gepleeg is.
14,6m in Gauteng teen 2014
Die Gauteng-provinsie en veral Johannesburg kan verwag om ‘n bevolkingsgroei van 8% per jaar te handhaaf soos wat mense van oor die hele Afrika daarheen stroom. Teen 2014 gaan daar 14,6 miljoen mense in die provinsie wees. Hierdie syfer neem waarskynlik nie die beoogde afskaffing van visumvereistes vir Zimbabwiërs in ag nie.
Johannesburg beplan ʼn stad wat deur goed versorgde sypaadjies, hoë woonstelgeboue, kantore, winkels en vermaakplekke oorheers sal word. Breë hoofweë sal ʼn reeks sakesentra met mekaar verbind. Vir Sandton word geboue van 40 verdiepings en hoër in die vooruitsig gestel terwyl 20 vloere en hoër die norm in Rosebank en Randburg sal wees.
Ongeveer 330 km se snelbusroetes sal vanaf 2009 in die stad ontplooi word. Werk het reeds aan die eerste fase hiervan begin, ʼn roete wat van Soweto na Sandton via die middestad, Parktown en Rosebank sal loop. ʼn Groot deel van die aanvanklike belegging in snelbusroetes is veronderstel om besoekers aan die stad tydens die 2010-wêreldbeker te bedien.
Daar word beplan dat dié stelsel teen 2020 binne 500 m van die meeste mense se voordeure sal wees, terwyl die meeste wooneenhede uit gehuurde of deeltitelwoonstelle sal bestaan. Teen daardie tyd sal Johannesburg na raming net so dig bevolk wees soos Londen met ongeveer 4 500 mense per vierkante km.
Tans is Johannesburg se gemiddelde bevolkingsdigtheid slegs 2 500 inwoners per vierkante km. Die idee is om arm mense nader aan die werkplekke te bring en om motors met openbare vervoer te vervang. Die ANC wil ook ontwikkelaars dwing om wit en swart deurmekaar te laat woon deur ʼn vereiste te stel dat bekostigbare behuising in elke nuwe ontwikkelingsprojek ingesluit word.
“Globale stadstreke” het nasiestate verbygesteek as die belangrikste ekonomiese eenhede. Die grootste onder hulle is tans Boston-New York-Washington wat 55 miljoen mense huisves en gelykstaande is aan die vierde grootste ekonomie ter wêreld. ʼn Amerikaanse stadskenner, Richard Florida, het onlangs geskryf dat “Sjina as ʼn ekonomiese eenheid so te sê sinloos is. Wat saak maak, is sy megastede: Sjanghai tot Nanking, met 50m mense; Hong Kong tot Sjenzen, met 40m; asook groter Beijing met 36m.
Gauteng gaan die 12de grootste van die 20 globale stadstreke wees, met 14,6m mense. Of Johannesburg egter van gedaante in ʼn Lagos of ʼn New York gaan verwissel, is nog nie seker nie. Mnr. Herman Pienaar van Johannesburg se stadsbeplanningsdepartement wil toesien dat hoër estetiese standaarde by nuwe geboue gehandhaaf word. Prof. François Viruly van die Witwatersrandse Universiteit is bekommerd dat daar geen beplanning vir nie-handelsinstellings soos skole, parke, biblioteke en klinieke is nie. “As daar geen beplanning is om dienste in die vervoernodes te integreer nie, kan die gebiede in slums soos Hillbrow en Berea ontaard,” meen hy.
Wat Johannesburg se grootste probleem, misdaad, aanbetref, kyk die munisipaliteit na die voorbeelde van Colombia en Brasilië waar Bogota en Curitiba onderskeidelik veilig gestel is. “Ons behoort dieselfde reg te kry,” verseker Phil Harrison, ʼn voormalige Wits-professor en tans hoof van stadsbeplanning in Johannesburg.
Die premier van Gauteng, Sam Shilowa, is ook vol vertroue dat alle regeringsvlakke saamwerk om van Johannesburg ʼn sukses te maak. “ʼn Stadstreek wat doeltreffend in die globale ekonomie kan meeding verteenwoordig die sleutel tot Suid-Afrika se groei, asook ons vermoë om armoede, werkloosheid en onderontwikkeling die hoof te bied,” sê hy.
‘Regstellende aksie nie te blameer’
Volgens adjunkpresident Phumzile Mlambo-Ngcuka is die huidige gebrek aan vaardighede in die land die gevolg van vinnige ekonomiese groei. Sy het geantwoord op ’n vraag wat Woensdag in die parlement deur die Demokratiese Alliansie (DA) aan haar gestel is. “Die persepsie dat regstellende aksie gelei het tot ’n groot verlies aan vaardighede vir die land word nie deur onlangse studies – wat deur gerespekteerde instellings uitgevoer is – ondersteun nie,” het sy gesê.
Alhoewel dit waar is dat maatskappye sukkel om plaaslik mense met die nodige vaardighede te werf, moet die onlangse vinnige groei van die ekonomie die skuld vir die situasie kry, meen sy. “Vaardighede is mobiel; ons kan dus verwag dat sommige mense sal vertrek en dat ander hierheen sal kom.” Sy het verwys na onlangse bevindings dat die implementering van regstellende aksie “baie stadig en pynlik verloop, en in sommige gevalle glad nie toegepas word nie. Moenie voëlverskrikkers oprig en die indruk skep dat regstellende aksie mense wegneem van hulle werk, of hulle benadeel nie,” het sy aan die DA gesê. Diegene wat wel benadeel word, is swartmense, aldus die adjunkpresident.
‘Indi?rs is gou om oor rassisme te kla’
Greg Chappell, voormalige krieketkaptein van Australië, glo dat hy die slagoffer van ’n rassistiese aanval was terwyl hy die Indiese span afgerig het. Die insident is egter deur die plaaslike krieketowerhede toegesmeer. Chappell maak hierdie aantyging in ’n dokumentêre rolprent oor sy twee jaar as afrigter van die Indiese span. Dit word volgende week op Australiese televisie vertoon, volgens ’n berig wat vandag in The Australian verskyn het.
Chappell beweer dat hy in Januarie vanjaar deur ’n ontevrede kriekettoeskouer geslaan en rondgestamp is toe die Indiese span in Bhubaneswar aangekom het vir ’n eendagtoets teen die Wes-Indiese eilande. “Ek is aan die kant van my gesig geslaan en my onmiddellike reaksie was ‘hy het my kakebeen gebreek,’” het Chappell gesê. “Indiërs is baie gou om oor rassisme te kla. Daar was ’n hele spul Indiese krieketspelers wat die ou kon aanval, maar hy het verkies om my te takel. Ek glo ook nie regtig die storie dat hy ongelukkig was oor die min Orissa-spelers in die Indiese span nie. As dit die geval was, waarom het hy dan nie die voorsitter van die seleksiekomitee, of iemand anders wat by die proses betrokke was, aangeval nie? Hoekom een van die buitelanders in die groep aanval – vir my as afrigter? Daar steek meer hierin.”
Chappell, wat uit sy pos as afrigter bedank het ná Indië se power vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi, sê hy is steeds ontsteld oor die aanval en die gebrek aan gepaste reaksie deur Indiese krieketbeamptes. “Soos ek aan die Indiese krieketbeheerraad gesê het, as dit een van die spelers is wat aangeval is, sou daar ’n groot ophef gewees het, maar omdat dit ek was, het niemand skynbaar omgegee nie. Hulle het my toe van rassistiese kommentaar beskuldig. Dit was heel duidelik dat dit ’n ernstige aanval was. Dit was nie net ’n klap op die rug, soos aan die media vertel is nie. Dit is toegesmeer. Almal het begin toesmeer. Die hele ding is net begrawe.”
Grootste kragsentrale kom
Dié beplande sentrale kom twintig jaar nadat iets soortgelyks laas opgerig is. Dit sal die grootste sentrale wees wat nog ooit in die land gebou is, as dit eers staan. Alstom het die projek vandag in ‘n persverklaring bekend gemaak.
Die sentrale sal in Ellisras gebou word en 45% van die kontrak sal plaaslik gerealiseer word. Alstom het aangedui dat duisende werksgeleenthede sodoende geskep sal word. Die maatskappy is reeds 80 jaar lank in Suid-Afrika teenwoordig. Opleiding sal ook aan plaaslike ingenieurs en tegnici aangebied word.
Philippe Joubert, adjunk-voorsitter van die Franse maatskappy het gesê dat Alstom trots is daarop om Eskom by te staan om Suid-Afrika se elektrisiteitsvoorsiening te help uitbou. Joubert is, behalwe adjunk, ook voorsitter van die Power systems afdeling van Alstom.
Alstom het in 2006 ‘n vorige kontrak met Eskom gesluit vir die opgradering en modernisering van die Arnot-steenkoolkragsentrale. Arnot se uitset sal na 2 400 MW verhoog word van die 300 MW wat tans gelewer word.
Sing en eet vir immigrasie…
Na afloop van Nicolas Sarkozy se amptelike besoek aan die VSA, is dit opsigtelik dat transatlantiese verhoudinge weer ontdooi het en dat George Bush ‘n nuwe bondgenootskap gesmee het na die aftrede van Tony Blair. Frankryk hoop om weer deel te word van NAVO en mag binne die afsienbare toekoms toetree.
Die VSA het ná Kosovo, Irak en onlangse verwikkelinge in Afghanistan minder kieskeurig geraak oor NAVO-lidmaatskap, terwyl Frankryk voel dat sy gratis onderskraging van die Organisasie, soos lugpatrollies in die ooste van Europa, beter omskryf behoort te word.
Die warm ontmoeting tussen Sarkozy en Bush is opgevolg deur ‘n uitnodiging van die Duitse Kanselier, Angela Merkel, aan die Franse president. Merkel, wat pas terug is uit ‘n stowwerige Texas, het tydens haar Amerikaanse besoek benadruk dat diplomatieke weë ‘n beter manier sal wees om die die Iranse kernkwessie op te los.
Niks minder as ‘n sangopname deur die buitelandse minister-duo, Walter Steinmeier en Bernard Kouchner, was deel van die verrigtinge nie. Kouchner het homself trots op die skouer geklop na sy sangsessie met die woorde "vir ‘n minister sing ek nie so sleg nie!". Steinmeier was nie so popelend oor sy sangtalent nie. "Ons is nie hier om te leer sing nie. Ons wil wys dat ons voordeel trek uit die rykdom van kulture."
Die Berlynse opnameateljee is naamlik deur ‘n agttal Duitse Turke beman vir die geleentheid. Die popliedjie, ‘n sogenaamde Rythm & Blues-komposisie, bevat ook ‘n strofe wat lui: "Duitsland waarom is jy so geslote, Duitsland lê jou kaarte op die tafel," waar albei ministers uit volle bors, ewe vals, saamgesing het onder aanmoediging van die Turke.
Steimeier is beloon vir sy moeite deur die sanger Muhabbet met die kompliment dat hy "regtig baie koel is." Muhabbet is glad nie bekommerd daaroor dat die liedjie vir politieke doeleindes aangewend sal word nie. Hy voel positief oor Duitsland sê hy, "selfs al het hy swart hare." Vir die Duitse minister is postiewe voorbeelde nou nodig.
Al is integrasie met die Turke nie moontlik nie, is daar nog altyd volgens hom "geslaagde samewerking". Daarvoor is ‘n kennis van Duits natuurlik onvermydelik wat tans ontbreek by sommige Turke, selfs Turke wat in Duitsland gebore is. Steinmeier het nie na laasgenoemde feit verwys nie, maar sy opmerking was beslis gerig aan Turke wat weier om Duits te leer.
By ‘n ander ontmoeting tussen Franse en Duitse diplomate is daar geproe aan die "ryk verskeidenheid van smake" wat ‘n multikulturele wêreld bied. Dit is egter nie seker of die nuwe "jong" aanslag veel sal oplewer om Duits-Franse verhoudinge weer op ‘n gemeenskaplike voet te plaas nie.
Itali? het nou genoeg gehad
Premier Romano Prodi se regering het enkele dae gelede noodwetgewing goedgekeur wat die deportasie van potensieel gevaarlike immigrante sonder enige verhoor sal moontlik maak. Hierdie stap het gevolg op nasionale woede nadat ’n Italiaanse vrou van Perugia onlangs deur ’n immigrant verkrag en vermoor is. Die 47-jarige Giovanna Reggiani, vrou van ’n vlootoffisier, is wreedaardig deur ’n jong Romeense sigeuner aangeval en is dood nadat sy twee dae in ’n koma verkeer het. Haar gesig was onherkenbaar vermink. Dit is maar een insident in ’n onlangse vlaag van geweld en misdaad waarvoor sigeunerimmigrante van Roemenië verantwoordelik is.
Ingevolge die regering se nuwe noodwetgewing het verskeie stede die afgelope week reeds uitsettingsbevele ten opsigte van immigrante (meesal van Roemenië afkomstig) geteken. “Ons sal so iets (die aanval op Reggiani) nooit weer toelaat nie,” was die woorde van Prodi toe die noodwetgewing aanvaar is. Die Europese Kommissie (EU) het ná aanvanklike kritiek besluit om die Italiaanse wetgewing te steun, op voorwaarde dat net individue – en nie groepe nie – gedeporteer word.
Roemenië het aan die begin van die jaar ’n lidstaat van die EU geword en sy burgers beskik dus oor die reg om nou in enige EU-land rond te reis. Daar is tans meer as ’n halfmiljoen Roemeniërs in Italië woonagtig, wat van hulle die grootste immigrantegroep in die land maak. Op 7 November het die Roemeense premier Calin Tariceanu en Romano Prodi in Rome ontmoet en besluit op nuwe stappe wat die plasing van meer Roemeense polisiemanne in Italië, beter grensbeheer en planne om Roemeniërs beter te integreer, insluit. Volgens Tariceanu is hy bekommerd oor die toename in “vreemdelingehaat” in Italië, wat spesifiek teen sy burgers gerig is. Daar was dan ook inderdaad ’n aantal aanvalle op Roemeense immigrante in Italië ná die dood van mev Reggiani op 2 November.
Volgens Rome se sentristies-linkse burgemeester, Walter Veltroni, is driekwart van die misdadigers wat in die hoofstad gearresteer word, van Roemenië afkomstig. “Voor Januarie 2007 was Rome die veiligste groot stad ter wêreld. In die eerste sewe maande van hierdie jaar is 75% van diegene wat weens moord, verkragting en diefstal gearresteer is, Roemeniërs gewees.”
Die regse Italiaanse opposisieparty, die Nasionale Alliansie, het op hulle beurt verklaar dat dit onmoontlik is vir die Roemeense sigeuners om in die Italiaanse gemeenskap in te pas.
Intussen is die Britse ministerie van binnelandse sake besig om die nuwe Italiaanse wetgewing te bestudeer. Minister Jacqui Smith wil insgelyks immigrante laat deporteer wat moontlik ’n gevaar vir Brittanje kan inhou. Tans hou Brittanje streng by Europese regulasies wat bepaal dat regerings nie burgers van ander EU-lande mag deporteer nie tensy hulle ’n gevaar vir nasionale veiligheid inhou. In Brittanje geld deportasies dus net vir terroriste. Verlede jaar is slegs 250 deportasies uitgevoer. Openbare woede is egter besig om op te bou oor die geweldige toename in immigrante. Sowat 1 500 nuwe immigrante arriveer daagliks in Brittanje. Smith wil graag hê dat al die EU-ministers van binnelandse sake in hierdie verband moet saamwerk.
Vroeër vandeesmaand het die Britse Hoërhof besluit dat die Italiaanse moordenaar van ’n Britse skoolhoof nie gedeporteer mag word nie, aangesien “hy nie tans ’n gevaar inhou nie.” Die verkragter, Mohammed Kendeh, wat onlangs die voorblaaie van Engelse koerante gehaal het, is op sy beurt toegelaat om in Brittanje aan te bly aangesien deportasie na Sierra Leone “sou neerkom op inbraak op sy menseregte.” Dit is hierdie absurde situasie wat Jacqui Smith graag wil verander.
