Die begin van ?n nuwe tradisie

 

Image

Duisende Afrikaners op Kerkplein

Dit is warm op Kerkplein. Die kwik trek iewers in die dertigs. Daar is duisende mense, met koelhouers, opvoustoele en uitbundige blondekop kinders. ’n Basaaratmosfeer heers. Weet hierdie mense met hul rooigebrande velle dat hulle vandag eintlik weer ’n vergete tradisie begin? Hulle voorsate het immers in die negentiende eeu van ver gekom om op Kerkplein te kom kampeer en saam te kuier. Maar vandag word daar nie Nagmaal gehou nie; daar word feesgevier met musiek, spookasem en boerewors. Pretoria is 152 jaar oud.

Dit was op 16 November 1855 dat die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) besluit het om ’n dorp te stig, en dat die nedersetting Pretoria sou heet. Lamé Ebersöhn, eienaar van Café Riche, historiese kuierplek op Kerkplein, wou vanjaar behoorlik makietie hou om die geskiedkundige datum te vier. Sy het met Kallie Kriel van AfriForum gaan praat en die idee van ’n Afrikaanse musiekfees het gestalte gekry.

Van vroegoggend Saterdag het opgewonde mense al kom nesskop op die grasperk rondom Paul Kruger se standbeeld. AfriForum se verhoog is skuins voor die manjifieke Paleis van Justisie opgerig. ’n Hele rits sangers vermaak die skare – sommige meer bekend as ander. Almal tree gratis op. Elkeen het ’n boodskap vir die verjaarsdagstad, selfs ’n liedjie wat spesiaal vir die okkasie geskryf is, of ’n boodskap teen die naamsverandering. Lianie May sing met oorgawe Sean Else en Johan Vorster se nuwe liedjie oor Pretoria. Die groep Hoofseun en die sangeres Jofranie kom ook aan die beurt met hulle liedjies oor die hoofstad.

Die blonde Elizma Theron van Lapaside-faam, wat onlangs deelgeneem het aan AfriForum se konserttoer teen plaasmoorde, sing spesiaal vir diegene wat al iemand aan die dood moes afstaan.

Sean Else, Casanova van die Afrikaanse musiekbedryf, is die dinamiese seremoniemeester van die dag. Hy vertel brokkies oor Pretoria se geskiedenis en gooi kort-kort met bultende arms Jou Taal-hempies in die rigting van die opgewonde skare. Jou Taal het dan ook met die beste publisiteitsfoefie van die dag gekom: langbeen meisies met eina-kortbroekies en hempies wat lui Afrikaans is nie so khaki en Ek luister nie na Britnie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wys die feit dat duisende mense op Kerkplein opgedaag het dat mense sterk oor die stad se naam voel en dat hulle nie gediend is met pogings om die hoofstad se naam te verander nie.  “Die minister van kuns en kultuur, dr Pallo Jordan, en ander besluitnemers, moet kennis hiervan neem en toesien dat pogings om die stad se naam te verander, gestaak word,” voeg Kriel by. Volgende jaar hou ons weer partytjie, belowe hy die skare. Hierdie gaan ’n jaarlikse instelling word.

DJ Ossewa se manewales op die verhoog het die toeskouers in vervoering. Gee my ‘n stukkie van jou koeksister sing almal lustig saam. Hartbeeshuis is ook ’n duidelike gunsteling. Twintig jaar gelede sou hierdie soort liedjies met hulle nasionalistiese inslag weinig inslag gevind het. Maar vandag is dit in om na Afrikaans te luister, om gaande te raak oor sangers wat nostalgies is oor hulle wortels, geskiedenis en landelike verlede.

Staalsnaar se Taal van Staal het vandag ’n vinnige dansinslag met ’n doef-doefritme :

Ek weet jou wêreld is ‘n “merry-go-round”
Ek weet jou hart lê by die “lost-and-found”
Ek weet die spook van gister spook
By die drome wat jy oor môre droom

Ek weet nie hoe ons wêreld sonder jou sou wees nie
Ek vrees nie – Jy’s die taal van staal

Bok van Blerk laat die skare lyf rondskud met Die bok kan blêr en later stadig wieg terwyl hy die onvermydelike De la Rey sing.

Al meer uitgeputte, rooigebrande mense besoek Café Riche vir ’n koele lafenis. Swerms duiwe fladder in die blou lug rond. Oom Paul se standbeeld is volgepak met seuntjies wat ’n beter uitsig op die verhoog probeer kry. Afrika is nie vir sissies nie, skreeu Sean Else. Vandag is die werklikheid egter ver. Vandag vier die Boere fees.

заготовка веников из можжевельникаФильчаков Александр Васильевич