‘n Dokter uit Mali wat gemoeid is met die NRO wat hulle oor sulke kinders ontferm, verduidelik dat Togo, Benin en Nigerië asook Senegal, Guinee-Bissau en Gambië nie die probleem aanspreek nie.
Unicef het in ‘n verslag wat in 2006 bekend gemaak is, beweer dat daar "uitgebreide en invloedryke netwerke bestaan wat enorme winste uit kinderslawe maak. Maklike kommunikasie, swak polisiëring en ouers en kinders wat maklike teikens is, veroorsaak dat kinderslawerny in Wes-Afrika aan die toeneem is."
Die Internasionale Arbeidsburo by monde van Giselle Mitton meen dat dit "moeilik is om te bepaal hoeveel gevalle daar in werklikheid is." Net as ‘n smokkelaar gevang word, kom die kwessie op die lappe. "Maar die meeste van die tyd bly hulle verskuil omdat die kinders as huisbediendes aangehou word," verduidelik sy.
Van die kinders wat met hul "onderwyser" by die grens voorgekeer is, was 42 net vyf jaar oud. Die smokkelaar was waarskynlik van plan om hulle as bedelaars en onbetaalde werkers in te span. Volgens amptelike syfers beskikbaar van 2000 is daar 100 000 "Koranleerlinge en bedelaars" in Senegal, maar dit word allerweë aanvaar dat dié aantal net die ore van seekoei verteenwoordig.
Mitton sê meer as die helfte van die sogenaamde Talibés of Koranleerlinge in Senegal kom van elders. Verskeie nie-regeringsorganisasie is dit eens dat die aantal vandag veel hoër is. Dit is nie net in die informele sektor waar daar van kinderslawearbeid gebruik gemaak word nie, maar ook in landbou en mynwese. Voorts is daar ook geen erns van die kant van owerhede om sulke praktyke op te skort en kinders terug te stuur nie, ten spyte van allerlei mooi verklarings.
