Ingevolge die regering se nuwe noodwetgewing het verskeie stede die afgelope week reeds uitsettingsbevele ten opsigte van immigrante (meesal van Roemenië afkomstig) geteken. “Ons sal so iets (die aanval op Reggiani) nooit weer toelaat nie,” was die woorde van Prodi toe die noodwetgewing aanvaar is. Die Europese Kommissie (EU) het ná aanvanklike kritiek besluit om die Italiaanse wetgewing te steun, op voorwaarde dat net individue – en nie groepe nie – gedeporteer word.
Roemenië het aan die begin van die jaar ’n lidstaat van die EU geword en sy burgers beskik dus oor die reg om nou in enige EU-land rond te reis. Daar is tans meer as ’n halfmiljoen Roemeniërs in Italië woonagtig, wat van hulle die grootste immigrantegroep in die land maak. Op 7 November het die Roemeense premier Calin Tariceanu en Romano Prodi in Rome ontmoet en besluit op nuwe stappe wat die plasing van meer Roemeense polisiemanne in Italië, beter grensbeheer en planne om Roemeniërs beter te integreer, insluit. Volgens Tariceanu is hy bekommerd oor die toename in “vreemdelingehaat” in Italië, wat spesifiek teen sy burgers gerig is. Daar was dan ook inderdaad ’n aantal aanvalle op Roemeense immigrante in Italië ná die dood van mev Reggiani op 2 November.
Volgens Rome se sentristies-linkse burgemeester, Walter Veltroni, is driekwart van die misdadigers wat in die hoofstad gearresteer word, van Roemenië afkomstig. “Voor Januarie 2007 was Rome die veiligste groot stad ter wêreld. In die eerste sewe maande van hierdie jaar is 75% van diegene wat weens moord, verkragting en diefstal gearresteer is, Roemeniërs gewees.”
Die regse Italiaanse opposisieparty, die Nasionale Alliansie, het op hulle beurt verklaar dat dit onmoontlik is vir die Roemeense sigeuners om in die Italiaanse gemeenskap in te pas.
Intussen is die Britse ministerie van binnelandse sake besig om die nuwe Italiaanse wetgewing te bestudeer. Minister Jacqui Smith wil insgelyks immigrante laat deporteer wat moontlik ’n gevaar vir Brittanje kan inhou. Tans hou Brittanje streng by Europese regulasies wat bepaal dat regerings nie burgers van ander EU-lande mag deporteer nie tensy hulle ’n gevaar vir nasionale veiligheid inhou. In Brittanje geld deportasies dus net vir terroriste. Verlede jaar is slegs 250 deportasies uitgevoer. Openbare woede is egter besig om op te bou oor die geweldige toename in immigrante. Sowat 1 500 nuwe immigrante arriveer daagliks in Brittanje. Smith wil graag hê dat al die EU-ministers van binnelandse sake in hierdie verband moet saamwerk.
Vroeër vandeesmaand het die Britse Hoërhof besluit dat die Italiaanse moordenaar van ’n Britse skoolhoof nie gedeporteer mag word nie, aangesien “hy nie tans ’n gevaar inhou nie.” Die verkragter, Mohammed Kendeh, wat onlangs die voorblaaie van Engelse koerante gehaal het, is op sy beurt toegelaat om in Brittanje aan te bly aangesien deportasie na Sierra Leone “sou neerkom op inbraak op sy menseregte.” Dit is hierdie absurde situasie wat Jacqui Smith graag wil verander.
