Guthrie het in ’n onlangse onderhoud met die Independent on Sunday erken dat die moontlikheid van ’n Britse inval in Zimbabwe tydens Tony Blair se premierskap oorweeg is. Sy advies aan Blair was egter soos volg: “Wag eers, julle gaan dit net erger maak. Julle sal nie op die steun van ’n enkele Afrika-land kan reken nie.”
Volgens Matonga is Mugabe al geruime tyd in die Britte se visier. “Hulle het nog altyd Afrika-leiers geteiken wat teen hulle imperialistiese beleid gekant is … maar ons het ’n baie sterk weermag wat gereed is om die land en sy leiers te verdedig.”
Mugabe was een van Tony Blair se grootste kritici toe hy nog eerste minister van Brittanje was. Hy het Blair gedurig beskuldig van inmenging in Zimbabwiese beleid en hom aangesê om “sy pienk neus” uit die land se sake te hou.
Intussen het Zimbabwe Maandag die vrystelling van inflasiesyfers uitgestel en gesê dit gaan “vir ’n rukkie” nie beskikbaar wees nie. Ten spyte van die regering se pogings om prysbeheer uit te oefen, het die pryse van items soos brood en melk steeds bly styg. Ekonomiese kenners het verwag dat die Oktober-inflasiekoers op sowat 15 000% te staan sou kom.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.