Eskom-tariefverhogings gekritiseer

Image

Jacob Maroga

Eskom se plan om volgende jaar ’n tariefverhoging van 18% in te voer, gevolg deur ’n verhoging van 17% in 2009, is deur die sakegemeenskap en ander organisasies veroordeel. Die vakbond Cosatu, die Jong Kommuniste-liga en Verenigde Besigheid in Suid-Afrika het gister almal Eskom se plan veroordeel. Jacob Maroga, Eskom se uitvoerende hoof, het egter vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy verwag dat Suid-Afrika se Nasionale Energiereguleerder die beplande verhoging sal goedkeur.

Maroga het gesê die verhoging is noodsaaklik om “nuwe kapasiteit” te skep. Volgens Simi Siwisa, ekonoom verbonde aan Verenigde Besigheid in Suid-Afrika, verstaan hulle dat Eskom moet groei, maar is die verhoging oordrewe.

Dit is veral kommerwekkend omdat daar na verwagting in die komende jaar ’n afplatting in groei gaan wees in die plaaslike en globale ekonomie. Siwisa het verder daarop gewys dat so ’n verhoging sal meebring dat die regering se beoogde 6% groeikoers en die halvering van werkloosheid en armoede teen 2014 nie bereik gaan word nie.

Cosatu het ook die Eskom-besluit veroordeel. “Die impak van so ’n verhoging sal rampspoedig wees vir verbruikers, werkers en die hele land,” lui die vakbond se verklaring. Nie net sal die verhoging armoede vererger nie, maar dit sal ook werkskepping vertraag en ’n invloed op ander pryse hê.

Die Jong Kommuniste-liga het verder gegaan en meen dat elektrisiteit teen “bekostigbare tariewe of gratis” aan alle Suid-Afrikaners verskaf behoort te word.

Tito Mboweni, goewerneur van die Reserwebank, het op sy beurt gewaarsku dat Eskom se beplande verhoging inflasie sal vererger.

Die Nasionale Energiereguleerder sal aanstaande maand ’n finale besluit oor die voorgestelde verhogings neem. Die publiek is intussen uitgenooi om voorleggings in hierdie verband by die liggaam se hoofkantoor in Pretoria in te dien.

 

домашние тапочки для мальчика купитьФільчаков Олександр Васильович прокурор