Beide het heeltemal ongeïnteresseerd voorgekom tydens die hofverrigtinge en toe regter Vuka Tshabalala die vonnis gelewer het, het hulle begin lag. “Hulle is nou dood. Waaroor is die mense so bekommerd?” het die een man aan die ander een gevra.
Die slagoffers se gesinne het hierdie reaksie baie ontstellend gevind. Anderson se dogter, Anthea King, het gevra dat die doodstraf teruggebring word. In hulle verduidelikings het die moordenaars vertel dat hulle op die spesifieke dag by ’n kroeg was. Teen 19:00, toe hulle wou huis toe gaan, het hulle besef dat daar geen huurmotors meer was nie en het toe besluit om ’n motor te kaap. Hulle het Kippen se voertuig by ’n kruising in Woodlands opgemerk, waar sy by ’n stopstraat stilgestaan het. Duma het ’n enkele skoot gevuur. Die kar het begin versnel en in ’n pilaar vasgery. Mense het uitgekom om te kyk wat aangaan, wat beteken het dat die twee nie die motor kon steel en wegry nie. Hulle het wel Kippen se selfoon gesteel.
Hulle het toe op ’n ander motor afgekom, wat langs ’n kerk geparkeer was. Anderson, ’n afgetrede joernalis wat baie betrokke was by kerkaktiwiteite, het hulle gewaar, die noodligte aangeskakel en probeer wegry. Duma het haar egter twee keer geskiet, die motor het buite beheer geraak en ’n ongeluk het gevolg. Toe die twee misdadigers die voertuig probeer steel, was dit egter gesluit en ’n ander motor het op die toneel verskyn, waarop hulle gevlug het.
Khesi was uit op parool toe die moorde gepleeg is.
