Chappell beweer dat hy in Januarie vanjaar deur ’n ontevrede kriekettoeskouer geslaan en rondgestamp is toe die Indiese span in Bhubaneswar aangekom het vir ’n eendagtoets teen die Wes-Indiese eilande. “Ek is aan die kant van my gesig geslaan en my onmiddellike reaksie was ‘hy het my kakebeen gebreek,’” het Chappell gesê. “Indiërs is baie gou om oor rassisme te kla. Daar was ’n hele spul Indiese krieketspelers wat die ou kon aanval, maar hy het verkies om my te takel. Ek glo ook nie regtig die storie dat hy ongelukkig was oor die min Orissa-spelers in die Indiese span nie. As dit die geval was, waarom het hy dan nie die voorsitter van die seleksiekomitee, of iemand anders wat by die proses betrokke was, aangeval nie? Hoekom een van die buitelanders in die groep aanval – vir my as afrigter? Daar steek meer hierin.”
Chappell, wat uit sy pos as afrigter bedank het ná Indië se power vertoning tydens die Wêreldbekertoernooi, sê hy is steeds ontsteld oor die aanval en die gebrek aan gepaste reaksie deur Indiese krieketbeamptes. “Soos ek aan die Indiese krieketbeheerraad gesê het, as dit een van die spelers is wat aangeval is, sou daar ’n groot ophef gewees het, maar omdat dit ek was, het niemand skynbaar omgegee nie. Hulle het my toe van rassistiese kommentaar beskuldig. Dit was heel duidelik dat dit ’n ernstige aanval was. Dit was nie net ’n klap op die rug, soos aan die media vertel is nie. Dit is toegesmeer. Almal het begin toesmeer. Die hele ding is net begrawe.”
