Niks minder as ‘n sangopname deur die buitelandse minister-duo, Walter Steinmeier en Bernard Kouchner, was deel van die verrigtinge nie. Kouchner het homself trots op die skouer geklop na sy sangsessie met die woorde "vir ‘n minister sing ek nie so sleg nie!". Steinmeier was nie so popelend oor sy sangtalent nie. "Ons is nie hier om te leer sing nie. Ons wil wys dat ons voordeel trek uit die rykdom van kulture."
Die Berlynse opnameateljee is naamlik deur ‘n agttal Duitse Turke beman vir die geleentheid. Die popliedjie, ‘n sogenaamde Rythm & Blues-komposisie, bevat ook ‘n strofe wat lui: "Duitsland waarom is jy so geslote, Duitsland lê jou kaarte op die tafel," waar albei ministers uit volle bors, ewe vals, saamgesing het onder aanmoediging van die Turke.
Steimeier is beloon vir sy moeite deur die sanger Muhabbet met die kompliment dat hy "regtig baie koel is." Muhabbet is glad nie bekommerd daaroor dat die liedjie vir politieke doeleindes aangewend sal word nie. Hy voel positief oor Duitsland sê hy, "selfs al het hy swart hare." Vir die Duitse minister is postiewe voorbeelde nou nodig.
Al is integrasie met die Turke nie moontlik nie, is daar nog altyd volgens hom "geslaagde samewerking". Daarvoor is ‘n kennis van Duits natuurlik onvermydelik wat tans ontbreek by sommige Turke, selfs Turke wat in Duitsland gebore is. Steinmeier het nie na laasgenoemde feit verwys nie, maar sy opmerking was beslis gerig aan Turke wat weier om Duits te leer.
By ‘n ander ontmoeting tussen Franse en Duitse diplomate is daar geproe aan die "ryk verskeidenheid van smake" wat ‘n multikulturele wêreld bied. Dit is egter nie seker of die nuwe "jong" aanslag veel sal oplewer om Duits-Franse verhoudinge weer op ‘n gemeenskaplike voet te plaas nie.
