Liza Albrecht, die 34-jarige redaktrise van die nasionale bylaag By wat tans op Saterdae in die groep se drie dagblaaie (Die Burger, Beeld en Rapport) versprei word, word bevorder tot redakteur van Rapport. Tim du Plessis, die Sondagblad se huidige redakteur, sal voortaan die leisels by Beeld oorneem.
Die huidige redakteur van Beeld, Peet Kruger, word as oorhoofse redakteur van al vier koerante – Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport – aangestel. Kruger is ook bekend vir sy mening dat die Afrikaner uit Suid-Afrika gaan verdwyn;vandaar ook die konstante gebruik van die terme "Afrikaanse" in Beeld.
Kruger se aanstelling het spekulasie laat ontstaan dat Nasionale Pers dalk van plan is om die drie Afrikaanse dagblaaie in een nasionale koerant te konsolideer. Dit sal aansienlike kostebesparings meebring. Die sakegedeelte van die drie koerante word reeds op dié grondslag uitgegee en lesers in die PWV, Bloemfontein en Kaapstad sien elke dag dieselfde sakebylaag in hul onderskeie koerante.
Die verskuiwing na Beeld verteenwoordig waarskynlik 'n demovering vir Du Plessis. Oor die afgelope jaar of twee het Du Plessis kritiese kommentaar in Rapport oor die ANC begin lewer, wat waarskynlik hoër op in die mediagroep nie gewaardeer is nie. Indien die drie dagblaaie in een nasionale koerant gekonsolideer word, sal Du Plessis waarskynlik ook sy pos kwyt wees, synde 'n middeljarige blanke man. In so 'n geval sal die kleurlingredakteur van Die Burger, Henry Jeffreys, volgens transformasiereëls bevorder word tot nasionale redakteur, terwyl Rapport onder leiding van 'n vrou sal verkeer.
Onder Jeffreys se redakteurskap het Die Burger reeds 'n beduidende verskuiwing na links ondergaan, maar te oordeel aan die huidige inhoud van By, gaan Rapport die ergste deur die skommeling geraak word. Die redaksionele beleid van By onder Liza Albrecht kan as "anti-Afrikaner, met voorwaardelike steun aan die ANC" beskryf word. In sy politieke kommentaar tot dusver het By die Mbeki-faksie van die ANC ondersteun en weifel tans tussen die partye van Zuma en Lekota.
Albrecht se gunstelingrubriekskrywers in By is Max du Preez, Christi van der Westhuizen en ds. Nico Smith wat elkeen so te sê weekliks in die bylaag skryf. Al drie is uitgesproke anti-Afrikaners wat die verdwyning van Afrikaanse plekname, die Afrikanerkultuur en enigeen wat hom- of haarself as Afrikaner sien, voorstaan.
Na verwagting sal Christi van der Westhuizen veral eersdaags 'n rubriek in Rapport ontvang waarin sy haar tirades jeens Afrikaners en hul gewaande "rassisme" sal voortsit.
Benewens die politieke verskuiwing na links, word die skommeling ook deur ekonomiese en tegnologiese oorwegings genoodsaak, ten minste volgens die oorhoofse redakteur, Peet Kruger.
In 'n berig in Die Burger het Kruger hom soos volg uitgelaat:
“Wêreldwyd moet koerante pynlike aanpassings doen om die oorgang te maak van ‘n papier-koerant na ‘n nuusorganisasie wat nuus 24 uur van die dag winsgewend op papier, die internet, selfone en ander kanale aanbied. Ons posisioneer ons om daardie aanpassings pro-aktief te doen.
“Soos alle ander veranderingsprosesse sal dit pynlik wees, maar ons moet dit doen as ons in die toekoms so suksesvol wil wees as wat ons tot dusver was. Media24 en Naspers se visie om pro-aktief op te tree, beteken daar is hoop vir die toekoms van goeie joernalistiek in Afrikaans.”
Die hoofuitvoerendebeampte van Media24, François Groepe, het gesê wêreldwyd is mediamaatskappye besig om hul sakemodelle by gebruikerspatrone aan te pas. “Ons visie is om ons nuusaanbod verder te versterk deur nuus 24 uur per dag beskikbaar te stel, ongeag die platform en sodoende ons posisie as toonaangewende mediamaatskappy gestand te doen.
“Hierdie aanstellings is ‘n opwindende ontwikkeling vir die maatskappy. Nie net stel ons twee deurwinterde redakteurs in senior posisies aan nie, maar ook die eerste vrou wat Rapport se leisels gaan oorneem.”
Koerante se sirkulasie is wêreldwyd besig om te taan terwyl al hoe meer lesers hul tot die internet wend as hul primêre bron van nuus. Die huidige skommeling by Media24, hoewel ten dele ideologies gedrewe om die groep al hoe nader aan die ANC-bewind te posisioneer en meer vyandig teenoor die land se oorblywende Afrikaners (wat nog in groot getalle die mediagroep se koerante en tydskrifte koop), verteenwoordig ook 'n strategie om die gedrukte media "af te bestuur" ten gunste van die internet.

