Metropolisie tree ‘soos Gestapo’ op in Pretoria

Image

Swart polisieman gebruik geweld teen blanke Afrikaanse vrou, gisteraand in Pretoria

07:34:07 'n Vergadering oor straatnaamsveranderings in Pretoria gisteraand het handuit geruk, met swart metropolisielede wat geweld teen blanke Afrikaanse vroue gebruik het (sien foto hiernaas).

Die vergadering is deur verskeie Afrikanergroepe bygewoon, waaronder Afriforum en die Verkennersjeug. Die byeenkoms het sonder probleme begin maar toe Mnr. Jan Beyers van die Verkenners se punt van orde blatant van die tafel gevee is, het ontstoke lede van die vergadering hul stemme laat hoor.

Mnr. Beyers se punt van orde het behels dat die vergadering moet verdaag aangesien dit 'n onwettige vergadering was.  Terwyl daar aangedring is dat die punt van orde aanvaar moes word, het polisieverteenwoordiging skerp toegeneem.  Gemoedere het begin oplaai tussen diegene wat gekant was teen die naamsveranderings en diegene wat daarvoor was.

Lede van die SAKP en ANC in T-hemde van hul partye het luidkeels hul steun vir die naamsveranderings te kenne gegee. Geweld het uitgebreek toe 'n lid van die SAKP/ANC 'n stoel na die Verkenners geslinger het. Die swart Metropolisielede het hul egter aan die kant van die SAKP/ANC geskaar en hardhandig teen Verkennerlede begin optree. Een lid van die Verkenners is in hegtenis geneem.

Mnr. Werner Smook, voorsitter van die Verkennersjeug, het gesê: "Die arrestasie is onregmatig en die behandeling van die polisie was hardhandig en uiters eensydig. Verskeie lede van die Verkenners oorweeg regstappe in verband hiermee."

Ná die arrestasie is die ligte van die saal afgeskakel en die polisie het die aanwesiges met traangas bestook. Die meeste mense wat teen die naamsverandering gekant was, het op dié stadium die saal verlaat.

Hierna is die vergadering egter hervat met die doel om "steun" vir die naamsveranderings te betoon. Volgens mnr. Werner Smook "is verskeie van ons lede met arrestasie gedreig indien hulle weer die saal sou betree. Gevolglik is die vergadering verder bykans net bygewoon deur lede van die SAKP/ANC. Dit is uiters ondemokraties en op grond daarvan alleen is die vergadering 'n klug en verwerp ons die uitkoms daarvan."

Mnr Kallie Kriel van Afriforum het 'n poging aangewend om die polisie te oortuig om die SAKP/ANC-lid wat die Verkenners met die stoel geslaan het, te arresteer. Hy het die persoon aan die polisie uitgewys, maar is toe self hardhandig uit die saal verwyder. Blykbaar is mnr Kriel ook deur 'n senior lid van die Metropolisie aangerand.

Agterna is vorms uitgedeel waarop voorstelle vir nuwe straatname gemaak kon word. Volgens die Verkenners se woordvoerder "bevestig dit weereens dat die metroraad die besluit alreeds geneem het om die name te verander. Geen kans word dus gegun om teen die veranderings te protesteer nie. Die Verkenners is 'n vreedsame kultuurorganisasie en betreur die gewelddadige optrede van die ANC/SAKP en die polisie wat van Gestapo-tipe optrede gebruik gemaak het."

slots gameлобановский депутат