Israelse soldate
'n Israelse soldaat is Dinsdag klaarblyklik dood naby aan die grens met die Gasastrook in wat Palestyne gesê het voorkom as 'n aanval deur militante in 'n verbreking van die skietstilstand wat meer as 'n week terug gemaak is.
In dieselfde gebied is 'n Palestyn later deur Israelse vuur dood, het plaaslike mediese beamptes gesê. Die man was na bewering 'n boer.
Die Israelse weermag, wat sensuur toepas op sterftes tot ná die naasbestaandes in kennis gestel is, het gesê dat 'n bom ontplof het naby die magte aan die Israelse kant van die grens by die Kissufimkruising in die sentraal-Gasastrook.
Die Israelse weermag het geweier om kommentaar te lewer oor sterftes, maar Al-Arabiya-televisie het gesê een soldaat is dood en drie gewond.
Dit sal die eerste Israelse sterfte wees sedert Israel die 22-dae-offensief op die kus-enklawe op 18 Januarie beëindig het. Dit is ook ná 'n eerste besoek aan die streek van president Obama se nuwe gesant vir die Midde-Ooste, George Mitchell. Volgens Obama sal Mitchell "konstant en geesdriftig" vrede najaag.
Palestyne wat naby die Kissufimkruising woon, het aan Reuters gesê hulle het 'n klein groepie gewapende mans gesien wat in die oggendmis na die grens beweeg het. Later het hulle ontploffings en skote gehoor. Hulle het nie die gewapende mans sien terugkeer nie.
'n Palestynse amptenaar in Gasa is deur Israelse amptenare meegedeel dat die vervoer van voorrade deur die grenspos vir die dag gestaak sal word.
Nóg die regerende Hamasbeweging nóg enige van hulle geallieerde groepe het verantwoordelikheid vir die insident aanvaar. Van die ander meer prominente groepe is die Islamitiese Jihad en die Volksweerstandkomitees wat beide tot die skietstilstand ingestem het.
Inwoners het later Israelse aanvalshelikopters in die lug gesien en Israelse infanterie wat binne die Gasastrook. beweeg het Omtrent 'n kilometer suid van Kissufim het Israelse vuur die lewe van 'n 27-jarige Palestynse man geneem, het mediese personeel gesê.
Tien Israelse soldate is dood in die offensief wat presies 'n maand gelede op 27 Desember begin het. Sowat 1 300 Palestyne is dood en drie Israelse burgerlikes.
Hamas en Israel het aparte skietstilstande verklaar en beide kante onderhandel deur Egiptiese onderhandelaars om 'n langerdurende skietstilstand aanvaar te kry. Hamas eis 'n verligting van die Israelse blokkade teen die gebied waar sowat 1,5 miljoen mense woon. Israel soek waarborge dat Hamas nie weer vuurpylaanvalle op hulle dorpe sal uitvoer nie.
By 'n vergadering met Mitchell en die minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het Obama Maandag gesê: "Die saak van vrede in die Midde-Ooste is belangrik vir Amerika en ons nasionale belange. Dit is ook vir my persoonlik belangrik."
topлобановский александр интервью