Saoedi-magte veg om beheer van Aden

Vegvliegtuie van ’n Saoedi-geleide­ koalisie het die Al-Anad-lugmagbasis in die suide van Jemen Dinsdagnag aangeval. Die lugmagbasis is in die omgewing van die hawestad, Aden.

Saoedi-Arabië en vier ander Arabiese­ Golfstate saam met streeksbondgenote­ is die afgelope twee weke gewikkel in lugaanvalle teen Houthi-magte, wat Jemen se hoofstad, Sanaa, beheer en veg om beheer oor Aden oor te neem, her Reuters berig.

Ondanks swaar bombardering van hul konvooie en wapenopslagplekke,­ het die Iran-gesteunde Houthi’s daarin geslaag om hul pad tot binne die sentrale gebied van Aden oop te veg. Aden is die laaste vesting van die vegters lojaal aan die Saoedi-gesteund­e pres. Abd-Rabbu Mansour Hadi.

Suidelike vegters met die steun van Saoedi-geleide vegvliegtuie, het daarin geslaag om die Houthi’s plek-plek in sommige suidelike provinsies terug te dwing.

Die Al-Anad-lugmagbasis, wat oornag aangeval is, is ongeveer 50 kilometer­ noord van Aden, op die hoofroete noord van die hawestad geleë. Soldate lojaal aan die vorige president, Ali Abdullah Saleh, wat ’n alliansie met die Houthi’s gesluit het, is egter steeds in die basis teenwoordig­.

Volgens amptenare is nog lugaanvalle­ teen Houthi-posisies in die dorp, Dhalea, noord van Aden, uitgevoer.

Die hoofstad, Sanaa, wat die afgelope­ nagte onder swaar bombardemente­ deurgeloop het en waarin Houthi-­posisies­­ en stoorpolekke van ammunisie­ geteiken is, was volgens inwoners Dinsdagnag redelik stil.

Skenkers dok op om Gasa te herbou

Internasionale skenkers van lande en organisasies het meer as $5 miljard beloof om die oorloggeteisterde Gasagebied te herbou, maar het Sondag gesê dit is die laaste keer dat hulle sal betaal en Israel en die Palestyne aangeraai om ‘n finale vredesooreenkoms te sluit wat tot twee aparte state sal lei.

Die Noorweegse minister van buitelandse sake Borge Brende het die aangekondiging laat Sondag gemaak.

Verteenwoordigers van meer as 54 lande woon ‘n internasionale konferensie in die Egiptiese hoofstad Kaïro by.

Die som oortref somber voorspellings dat skenkersmoegheid ingetree het.

Lugaanvalle en grondoperasies wat in Julie geloods is en tot die einde van Augustus geduur het, het grootskaalse skade aangerig.

Senator John Kerry het self miljoene Amerikaanse dollar beloof om die puinhope te herstel. Die VSA het. soos voorheen, wapens aan Israel geskenk gedurende die mees onlangse veldtog teen die Palestyne in Gasa.

Planne is bespreek by die konferensie om die geweld tussen Israel en die Palestyne stop te sit.

Die Suid-Afrikaanse minister van Internasionale Betrekkinge, Maite Nkoana Mashabane woon dit ook by. Sy het gesê Gasa moet onder die toesig van die Palestynse owerheid, met hulp van buite, herbou word.

Duisende vlug voor ISIS-aanslag

Duisende Siriese Koerde het die grens tussen Sirië en Turkye oorgesteek. Tienduisende burgerlikes stroom na Turkye om die aanslag van die Islamitiese Staat te ontvlug.

’n Aanval deur die Islamitiese­ Staat op Irakse­ basisse in twee westelike dorpe het gister­ die lewens­ van minstens­ 17 lede van die veiligheidsmagte­ en 40 jihadi’s geëis.

Die aanvalle het op basisse­ in Heet en Ramadi­ plaasgevind­.

Twintig IS-aanvallers­ is in elk van die twee onderskeie­ aanvalle­ dood. Teen druktyd het vyf jihadi’­s nog skuilgehou­ in ’n gebou in Heet, maar die aanval op Ramadi is met welslae afgeweer

Honderde Siriese Koerde het ook uit die dorp Kobane naby die Turkse grens gevlug, te midde van aanduidings dat vegters van die Islamitiese Staat besig is om die dorp oor te neem.

Vragmotors het burgerlikes uit die dorp ontruim en ambulanse is gebruik om gewonde soldate te vervoer.

Twee vlae van die Islamitiese Staat wapper aan die oostelike buitewyke van Kobane, drie weke nadat die rebelle die dorp onder beleg geplaas het.

Amerikaanse lugaanvalle op die dorp kon nie die Islamitiese Staat se dryfkrag stuit nie.

Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het ISIS se aanslag skerp veroordeel en gesê dit is “barbaars”.

Britte gereed vir lugaanvalle in Irak

Die Britse parlementslede stem Vrydag oor hul land se deelname aan lugaanvalle teen die Islamitiese Staat in Irak.

Die debat sal met ‘n toespraak deur premier David Cameron afskop.

Weens die talle video-opnames van sogenaamde “onthoofdings” is dit waarskynlik dat Britse deelname gestem sal word aangesien hoofopposisiepartye sowel as die regering die lugaanvalle steun.

Cameron het gesê dat IS ‘n “boosheid is waarteen die hele wêreld moet saamstaan. En as die doel vryheid, demokrasie en geregtigheid is, moet Brittanje sy rol speel.”

Blykbaar is die Britse vegvliegtuie reeds gereed om te begin met aanvalle op IS, ‘n militêre veldtog wat “jare kan duur”.

Militantes van die Islamitiese Staat (IS) het in die openbaar ’n menseregte-prokureur in die Irakse stad Mosoel tereggestel om saam te val met die Britse stemmery.

Samira Salih al-Nuaimi is op 17 September by haar huis in hegtenis geneem nadat sy na bewering inskrywings op haar Facebook-blad gemaak het waarin sy krities was teenoor die militantes se verwoesting van religieuse geboue in Mosoel.

Haar Facebook-blad is blykbaar sedert haar dood verwyder.

Volgens die VN se bystandsending in Irak is al-Nuaimi in sjaria-hof verhoor. Sy is glo vyf dae lank gemartel voor sy tot ’n openbare teregstelling gevonnis is.

IS het Mosoel, die tweede grootste stad in Irak, in Junie oorgeneem tydens die groep se oorname van groot dele van die noorde en weste van die land.

Intussen het die Amerikaanse Federale Speurdiens – die FBI – gesê hulle het die gemaskerde man geïdentifiseer wat in ‘n video verskyn waarin drie Amerikaanse gyselaars die afgelope weke in Sirië “onthoof” is, maar hulle gaan nie sê wie dit is nie.

Die geloofwaardigheid van die videomateriaal van die “onthoofdings” is steeds onder verdenking.

Die direkteur van die FBI, James Comey, het in Washington gesê hy gaan nie die man met die mes se identiteit bekend maak nie, maar hy weet wat sy nasionaliteit is.

Hy wou nie verdere besonderhede verskaf nie. Comey wou ook nie sê of hulle glo dat die man, wat lid is van die Islamitiese Staat, self die onthoofdings uitgevoer het nie.

Die aanvanklike ondersoekwerk om die man te identifiseer is glo deur die Britte gedoen.

ISIS onthoof Franse toeris

Die Algerynse regering het die moord deur ‘n jihadistegroep op ‘n Franse toeris veroordeel. Die 55-jarige Herve Gourdel is Sondag deur die Jund-al Khilifa-groep ontvoer.

Die groep, wat glo bande het met die ekstremistiese Islamitiese Staat-groep, het ‘n ultimatum van 24-uur aan die Franse regering gestel om lugaanvalle in Irak te staak.

Frankryk het die ultimatum verwerp.

‘n Video van Gourdel se onthoofding is Woensdag op die internet vrygestel. Die Algerynse regering sê hy het alles in sy vermoë gedoen om Gourdel vrygelaat te kry.

Ongeveer 1 500 Algerynse soldate het ‘n soektog geloods om die Franse gyselaar van die jihadiste op te spoor, het die amptelike Algerynse uitsaaier Chaine3 vroeër berig.

Die soektog na Gourdel het in die bergagtige gebied Tizi Ouzou, ongeveer 100 km oos van die hoofstad, Algiers, plaasgevind.

Die operasie het valskermsoldate van ’n teenterrorisme-eenheid ingesluit.

Die video waarin Gourdel verskyn, is Maandag deur die groep uitgereik. Hulle het gedreig om hom binne 24 uur dood te maak indien Frankryk nie “sy aanvalle op ISIS staak nie”.

Gourdel het ook in die video gepraat en gesê die groep het hom gevra om by die pres. François Hollande van Frankryk te pleit om aan die groep se eise te voldoen.

Frankryk het verlede week aangekondig dat hulle die Amerikaanse lugaanvalle op ISIS-teikens in Irak sal steun met hul eie lugbombardement.

Algerië sê hy gaan voort met die stryd teen terreur en waarborg die veiligheid van buitelanders in die land.

VSA brei lugaanvalle in Afrika uit

Die VSA het ‘n lugaanval deur ‘n onbemande tuig gedoen oor ‘n gebied waar die leiers van Somalië se Al-Kaida-militante vergader het, het intelligensie bronne Dinsdag gesê, maar dit is onduidelik of enige bevelvoerders gedood is.

Die aanval het volgens Somaliese regeringsamptenare die al Sjabaab-leier Ahmed Abdi Godane en ander leiers geteiken wat glo byeen was by die plek, maar daar was geen bevestiging dat hulle getref is nie.

Die Pentagon is tans besig met die voorbereiding van ‘n onbemande tuig-basis op een van die mees afgeleë plekke op aarde: ‘n Ou kameelkaravaankruispad in die middel van die Sahara.

Na maande van onderhandelinge het die regering van Niger, ‘n Wes-Afrika-land, is die Amerikaanse weermag gemagtig om onbemande tuie uit die modder-ommuurde woestynstad van Agadez te stuur.

Die besluit gee die Pentagon ‘n toesigmiddelpunt – die tweede in Niger en derde in die streek – om sogenaamde Islamitiese ekstremiste in Noord- en Wes-Afrika op te spoor.

Dit bevorder ook publisiteit vir die Amerikaanse strategie om bedreigings saam met Frankryk, die voormalige koloniale mag in daardie deel van die vasteland, aan te pak.

Die VSA se militêre magte onderneem dikwels oorvlugte oor Somalië, maar lugaanvalle en grondaanvalle is relatief ongewoon.

Die Pentagon het ‘n groot tuigbasis by Camp Lemmonnier in Djiboeti, wat grens aan Somalië in die Horing van Afrika, maar stuur tuie oor Somalië uit ‘n basis in Ethiopië.

VSA al nader aan lugaanvalle op Sirië

Die Amerikaanse weermag sê vegvliegtuie van Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate het ‘n reeks lugaanvalle op ISIS-groepe in Libië uitgevoer.

‘n Woordvoerder van die Pentagon, John Kirby, wou nie nadere besonderhede gee oor hoekom dié twee lande die aanvalle uitgevoer het nie.

Dié aanvalle kom nadat ‘n video vrygestel is waarin ‘n Amerikaner glo onthoof word. Die opname is intussen deur spesialiste as ‘n foefie afgemaak.

Nadat die VSA Moemmar Ghaddafi laat vermoor het sonder verhoor om Libië sogenaamd te “bevry”, is die land besig om al dieper in chaos te versink.

Faksies in verskeie stede wat deur die VSA bewapen is om die naburige Sirië te destabiliseer, asook twee strydende Parlemente veg om die mag te behou.

Amerika het reeds begin met vlugte oor Sirië, het Amerikaanse amptenare gesê. Washington beoog lugaanvalle teen die Islamitiese Kalifaat, maar daar is geen plan om die anti-terreur-aanvalle met die Siriese regering te koördineer nie.

Dit laat die vermoede ontstaan dat die VSA ‘n nuwe verskoning gekry het om Sirië aan te val soos hulle voorheen beplan het om te doen na hulle ‘n giftige gasaanval deur Amerikaans-gesteunde rebelle op die regering van Bashar al-Assad probeer blameer het.

Een Amerikaanse amptenaar, het op voorwaarde van anonimiteit aan AP gesê dat die administrasie betroubare intelligensie op die grond in Sirië insamel voordat enige lugaanvalle gedoen word.

Intussen is ‘n langtermyn skietstaking in die Gasastrook bereik. Israel en die Palestynse groep Hamas het in Kairo ‘n ooreenkoms bereik tydens samesprekings waarin Egipte as bemiddelaar opgetree het.

Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki Moon en die VSA is optimisties dat dit sal hou, maar nogtans ‘n beroep op albei partye gedoen om die ooreenkoms na te kom.

Meer as tweeduisend Palestyne en sowat 70 Israeli’s is in die 50 dae van geweld dood.

Withuis probeer vasstel of Amerikaner onthoof is

Die Amerikaanse Withuis sê intellegensie dienste probeer vasstel of beeldmateriaal wat na bewering wys hoe ‘n Amerikaanse joernalis deur militante van die Islamitiese Kalifaat (ISIS) onthoof word, geloofwaardig is.

Die joernalis in die video is na bewering James Foley. Foley het twee jaar gelede in Sirië vermis geraak nadat hy deur gewapende mans ontvoer is oppad na die grens met Turkye, het RSG berig.

Nog ‘n Amerikaanse joernalis wat verlede jaar in Sirië vermis geraak het word in die video gewys, met ‘n boodskap dat sy lewe afhang van Amerika se optrede in Irak.

Amerika het die afgelope twee weke ‘n aantal lugaanvalle teen teikens van die Islamitiese Kalifaat uitgevoer, maar het tot dusver nie verder by die konflik betrokke geraak nie.

Foley se ma Diane het in ‘n boodskap op Facebook ‘n beroep op die militante gedoen om die lewens van die oorblywende gyselaars te spaar.

Spanning in Kaapstad laai op oor Gasa

Pro-Palestynse betogers in Kaapstad het die SAPD daarvan beskuldig dat hulle partydig optree en kant kies vir Israel. Twee stelle pro-Palestynse betogers is in hegtenis geneem Sondag om te verhoed dat hulle naby ‘n pro-Israel saamtrek kom.

Kaapstad se Joodse gemeenskap het ‘n saamtrek gehou by die Joodse Museum Sondag ter ondersteuning van Israel.

Sekuriteit by die byeenkoms was besonder streng.

Shaheed Mohammed, van die Aksie Forum ter ondersteuning van Palestina, het bevestig dat die groep in hegtenis geneem is toe hulle dit naby die gebied gewaag het.

Vyf mense is in hegtenis geneem omdat hulle glo saamgesweer het om ’n misdaad te pleeg, het die Wes-Kaapse polisie Maandag bekend gemaak.

Kol. Tembinkosi Kinana het in verklaring gesê dat sowat 200 mense die naweek by Seepunt vergader het en toe na die Pavilion-winkelsentrum geloop het met plakkate en luidsprekers.

Die groep, wat betoog het ten gunste van die Palestyne in Gasa, is meegedeel dat hul optog onwettig is.

Hulle het aanbeweeg en op pad na Buitekant-straat is hul weer deur die polisie gewaarsku. Hulle is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof verskyn.

Ben Levitas, voorsitter van die Sioniste Federasie van die Kaap, het gesê as die Suid-Afrikaanse regering bande met Israel verbreek, “sal dit ‘n ramp wees”.

Pastoor Barry Isaacs, die bruin stigter van Transformation Africa, het gesê Christene ondersteun almal vir Israel.

Hy het nogtans Suid-Afrikaanse Christene gekritiseer dat hul leiers nie oproepe doen vir die beskerming van Christene in Nigerië nie.

“Ons leiers het nie gepraat toe Boko Haram 200 Nigeriese Christenmeisies ontvoer het nie, om op te staan ​​vir hulself nie, maar as Israel opstaan, dan praat hulle. Die stilte is heeltemal gebreek. God se doel is om die wêreld te seën deur Israel,” het Barry gesê.

Intussen het pro-Palestina ondersteuners in Seepunt ‘n motoris wat moedswillig ‘n Israeliese vlag vir hulle gewaai het, se vlag uit protes gegeryp.

Polisie het ingegryp om die vlag aan die motoris terug te besorg.

Een van die leiers van die protes het gesê “Dit is ‘n duidelike taktiek van die SAPD om ons te ondermyn. As jy in hegtenis geneem wil word, moet jy hier bly. Hulle steun die Sioniste.”